Juno (kleinplaneetnaam: 3 Juno) is ’n asteroïde in die asteroïdegordel. Dit is die derde asteroïde wat ontdek is, in 1804 deur die Duitse sterrekunde Karl Harding; die eerste twee is 1 Ceres en 2 Pallas. Juno is die 11de grootste asteroïde en een van die grootste twee klipagtige (S-tipe) asteroïdes; die ander een is 15 Eunomia.
Volgens raming maak Juno se massa 1% van die totale massa van die asteroïdegordel uit.[10] Desondanks is sy massa net 3% van dié van Ceres.[2]
Vir ’n S-tipe asteroïde is Juno ongewoon weerkaatsend, wat ’n aanduiding van sy oppervlakeienskappe kan wees. Hierdie hoë albedo verduidelik sy relatief hoë skynbare magnitude vir so ’n klein voorwerp wat nie in die binnerand van die gordel voorkom nie. Juno se magnitude kan tot +7,5 wees met ’n gunstige opposisie, wat helderder is as Neptunus of Titaan. Dit is ook die rede hoekom dit ontdek is voor groter asteroïdes soos Hugiëia, Europa, Davida en Interamnia. Met die meeste opposisies bereik dit egter net ’n magnitude van +8,7[11] – dus net-net sigbaar deur ’n verkyker.
Juno is, nes Ceres, Pallas en Vesta, aanvanklik as ’n planeet beskou.[12] In 1811 het Johann Schröter geraam hy het ’n deursnee van tot 2 290 km.[12] Al vier is herklassifiseer as asteroïdes nadat al hoe meer asteroïdes ontdek is. Juno se klein grootte en onreëlmatige vorm sluit hom uit van ’n klassifikasie as dwergplaneet.