A.G. Visser | |
---|---|
Gebore | Andries Gerhardus Visser 1 Maart 1878 |
Sterf | 10 Junie 1929 Heidelberg, Transvaal |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Geneesheer, digter |
Bekend vir | Gedigte |
Eggenoot | Lettie Conradie Marie de Villiers |
Ouer(s) | Andries en Martha Visser |
A.G. Visser (1 Maart 1878 – 10 Junie 1929) was ’n dokter en Afrikaanse digter wat twee keer met die Hertzogprys bekroon is. Hy was algemeen bekend as die "sanger van die Suikerbosrand".
Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 op die plaas Zaaifontein in die distrik Fraserburg in die Noord-Kaap gebore, waar sy vader hom in 1877 tydelik gevestig het om weiveld te kry vir sy vee. 'n Groot droogte het sy ouers van hulle plaas in die distrik Carnarvon verdryf, en hy is in 'n tentjie op die werf van die plaashuis, onder die skaduwee van 'n peerboom gebore. Hy gaan skool op Daljosafat (twee ander bekende skrywers, Totius en D.F. Malherbe is in dié tyd ook saam met hom op skool), ontvang opleiding in onderwys aan die Normaalkollege te Kaapstad, en studeer in die geneeskunde in Edinburg, Skotland, van 1901 tot 1906.
Hy is die derde seun en een van ses kinders van Andries Gerhardus Visser en Martha Engela Elizabeth Roussouw, wat in 1873 met mekaar getroud is. Hy het vier broers (Floris, Daniël, Frans en Jan) en een suster (Anna Engela Magdalena). Sy vader is ’n prominente man in die samelewing en word in 1904 vir die kiesafdeling Victoria-Wes tot Kaapse parlementslid verkies. Hy doen egter afstand van sy setel ten gunste van John X. Merriman, maar word in 1908 weer deur hierdie kiesafdeling verkies en word later ook lid van die Kaapse Provinsiale Raad. Sy vader het ook gedigte geskryf en is op 20 Oktober 1916 op Carnarvon oorlede, nadat sy ma reeds in 1907 oorlede is. Die jong Andries word groot op die ou familieplaas Bloukrans naby Carnarvon wat sy vader na die dood van sy oupa in 1890 erf. 'van 1901 tot 1906Aanvanklik word hy tuis saam met sy broers en suster onderrig deur die Hollander Koos Karstens. Saam met onder andere Totius en D.F. Malherbe woon hy dan eers in sy dertiende jaar vanaf Julie 1891 die Gedenkschool der Hugenoten in Daljosafat by, waar hy tot Junie 1894 ’n leerling is. Vanaf Julie 1894 tot Junie 1896 is hy student aan die Normaalkollege in Kaapstad, waar hy in 1896 matrikuleer en hom ook as onderwyser bekwaam deur die ou Middle Class Teacher’s examination te slaag. Hy slaag ook etlike Taalbondeksamens en ’n Musiekeksamen. Na kwalifikasie kry hy onmiddellik ’n tydelike pos tot September 1896 as onderwyser aan die Gedenkschool der Hugenoten, waarna hy vir die res van 1896 tot 1901 onderwys gee en in Junie 1898 ook skoolhoof word aan die Publieke Skool op Carnarvon.
Tydens die Anglo-Boereoorlog kom hy in botsing met die Engelse militêre owerheid en word hy selfs in April 1901 gevange geneem weens sy uitgesproke simpatieke houding jeens die Boeremagte. Hoewel hy deur bemiddeling van die dorp se inwoners dieselfde dag nog vrygelaat word, maak die owerheid die lewe vir hom baie moeilik. Hy besluit dan om hom as geneesheer te bekwaam en bedank sy pos as skoolhoof in September 1901. In Oktober 1901 vertrek hy na Edinburgh, Skotland waar hy in Julie 1906 sy opleiding as medikus voltooi. Hoewel hy hom hoofsaaklik op sy studies toespits en nie veel aan die breër studentebedrywighede deelneem nie, word hy tog in 1904 gekies as die verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Unie op die Verteenwoordigende Studenteraad. Tydens sy verblyf in Skotland gebruik hy ook die geleentheid om talle reise na die Europese vasteland te onderneem en hy besoek onder andere Duitsland en Nederland tydens die somervakansie van Julie tot Oktober 1902. Terug in Suid-Afrika word hy vanaf die einde van 1906 tot 1909 geneesheer op Carnarvon. Hier stig hy en D.F. Malherbe, op daardie stadium hoof van die plaaslike skool, die Jongelingsvereniging van Carnarvon om Afrikaans se stryd om erkenning te bevorder. Onder andere word daar een keer per maand “joernaalaand” gehou en Visser se bydraes hiertoe word in 1969 onder die titel “Joernaalaand” gepubliseer. Hierna is hy vanaf 1909 tot 1916 geneesheer op Steytlerville. Sy musiekaanleg blyk daaruit dat hy in April 1912 twee orrelsolo’s lewer tydens ’n musiekprogram van die NG Kerk. In dieselfde jaar ontmoet hy die onderwyseres Aletta Francina (Lettie) Conradie van Murraysburg (gebore 1889), die Laetitia van sy verse, wat sedert 1908 op Carnarvon onderwys gee. Op 13 Augustus 1913 trou hy met haar. Hulle eerste kind, Andries, word op 24 Februarie 1915 op Steytlerville gebore.
Wanneer ernstige droogte op Steytlerville heers en die gemeenskap van Heidelberg in Transvaal hom versoek om hom daar te vestig, trek hy in November 1916 daarheen. Hier bly hy tot met sy dood en verkry ’n reputasie as ’n uiters knap dokter wat meermale self groter operasies plaaslik gedoen het. Sy pligsbesef en opofferende geaardheid veroorsaak dat hy geen oproep weier nie en tydens die griepepidemie in 1918 vir weke feitlik geen rus kry nie. Ten spyte van sy opofferings, stuur hy min rekeninge uit. Op Heidelberg neem hy ryklik deel aan die gemeenskapslewe. Hy word gekies as lid van die Beherende Liggaam van die Heidelberg Hoër Volkskool, is president van die Afrikaanse Kultuur- en Toneelvereniging en word in 1918 ook lid van die Stadsraad. By musiekkonserte speel hy gereeld klavier en hy reël ook kunsaande, waar hy die plaaslike gemeenskap blootstelling gee aan die kunswerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Op 28 Maart 1918 word die egpaar se tweede kind, Anna, gebore. Met die geboorte van die derde kind, Willie, op 24 Januarie 1920 tree daar egter ernstige komplikasies in en sy vrou is op 3 Februarie 1920 oorlede. Hierna woon sy stiefmoeder by hom in ten einde te help met die versorging van die kinders.
Eugène Marais vestig hom in Junie 1922 as prokureur op die dorp en hulle knoop ’n besondere vriendskap aan. Marais woon selfs ’n tyd lank by hom in. Aan die begin van 1924 het Visser ’n ernstige hartaanval en vertoef meer as twee maande in die hospitaal. Hoewel hy herstel, kry sy gesondheid ’n knak. In 1926 word hy ook as distriksgeneesheer aangestel en neem sy verantwoordelikhede verder toe. Nadat sy liefde aanvanklik onbeantwoord gebly het, trou hy op 4 Julie 1927 in Braamfontein in Johannesburg met Marie de Villiers, oorspronklik van die Paarl, wat hy reeds in Januarie 1921 ontmoet toe sy begin onderwys gee op Heidelberg. Hy word in 1927 verkies tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In sy laaste jare ontwikkel hy ’n oogkwaal wat hom baie las gee. Hy is benewens Afrikaans, Engels en Nederlands ook Duits, Frans en Italiaans magtig. Op Maandag 10 Junie 1929 is hy aan ’n hartaanval in sy huis op Heidelberg oorlede.
Reeds in sy skooljare dig hy en in sy tyd op Carnarvon publiseer hy onder die voorletters AV of AGV enkele geestige gedigte in die algemene trant van die Eerste Taalbeweging in Ons Klyntji. Hierdie gedigte sluit in “Di cigarette”, “Di eerste fersoek fan Japi an syn frou”, “’n Saak het twe kante” en “Oom Fani Brink”, wat later deur S.J. du Toit in sy bundel “Afrikaanse gedigte byeenfersameld” opgeneem word. “’n Saak het twe kante” met subtitel “Samespraak tussen Jan Aangeneem en Klaas Afgesê, o’er Sarie Takhaar”, is ’n samespraak wat in Desember 1896 in “Ons Klyntji” verskyn en later deur F.C.L. Bosman opgeneem word in “Di Bedriegers, Magrita Prinslo en ander Afrikaanse dramas en samesprake tot 1900”. Hierin kan Jan, wat Sarie se jawoord gekry het, nie haar voortreflikhede en skoonheid genoeg besing nie, terwyl Klaas, wat afgesê is, haar nie genoeg kan slegsê nie. Die stuk word in 1907 in die Paarl deur die Christen Jeugvereniging van Warmwater opgevoer as “My nooi se naam is Sarie Takhaar”. Op universiteit in Skotland skryf Visser ’n aantal anonieme gedigte in Engels, wat in die universiteitsblad The Student gepubliseer word. Hoewel Visser na hierdie vroeë begin aanhou dig, neem hy dit nie ernstig op nie en word sy gedigte nie gepubliseer nie. Die enigste uitsondering is die gedig “Die jongste burger” wat in Oktober 1910 in Die Brandwag verskyn en later ook in sy debuutbundel opgeneem word. Dis eers wanneer Eugène Marais hom aanmoedig dat hy vanaf 1923 ernstig begin skryf en sy verse beskikbaar stel vir publikasie. Hierna verskyn etlike verse van hom in Die Huisgenoot, Die Burger, Die Boervrou en Die Kerkbode.
Visser publiseer vroeg reeds; op agtien, in Ons Kleintji. Sy werk word egter nie gesien as deel van die Eerste Taalbeweging nie, maar as die einde van die poësie vir die periode tot 1930. Hy wen twee maal die Hertzogprys vir letterkunde, naamlik vir sy eerste sowel as tweede digbundels. Sy verse is kenmerkend eenvoudig en sangerig. Hy dryf die spot met die Afrikaner en sy gewoontes, maar met 'n goeie hart. Hy maak gebruik van tradisionele versvorms soos die rondeel; van intertekstuele verwysings; en tegnieke soos die omdop van idiome, puntdigte, epigramme en woordspelings.
Hy lewer veral liefdesverse wat nog baie konvensioneel aandoen met digterlike taal en retoriek en gebondenheid aan versvorm, klank en rym, slegs sommige waarvan die toets van die tyd deurstaan. Veral opvallend is die effek van sang en melodie wat hy bereik deur die ritme van sy gedigte en mildelike gebruik van musiekterme. In lyn met die destydse mode lewer hy ook verskeie vaderlandse verse, waarvan meeste in die vergetelheid verdwyn het. Op die gebied van die geestige poësie lewer hy ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Veral “Lotos-land” en “Toe die wêreld nog jonk was” munt uit in hulle geestigheid. As digter is een van sy sterkpunte sy rymvirtuositeit en hy slaag daarin om ’n groot aantal rymvondse te skep, wat die leser telkens verras. Hy lewer ook ’n belangrike bydrae met sy kinderverse, waarvan ’n handvol in “Gedigte” gepubliseer word. Na sy dood word in “Uit ons prille jeug” ’n hele bundel daaraan gewy. Op sy eiesoortige manier sorg hy ook vir verbreding in die digkuns van sy tyd en staan hy met sy geestige en speelse gedigte tussen die vaderlandse verse van sy voorgangers en die belydenisverse van die Dertigers. Sy digkuns verwerf ’n algemene populariteit by die breë bevolking wat geeneen van sy tydgenote te beurt val nie. Hierdie gewildheid kan toegeskryf word daaraan dat dit eenvoudig en maklik verstaanbaar is, asook hoofsaaklik vrolik en genotvol, terwyl die vele toonsettings daarvan die bekendheid van sy werk verder bevorder.
Sy eerste bundel is “Gedigte”,[1] wat in vier afdelings verdeel word. “Van rose en liefde” bevat minneliedere aan beide sy gestorwe vrou en sy beminde en later tweede vrou, met veral “Rosa Rosarum” (wat die rooskultus as simbool van liefde in die Afrikaanse digkuns inlei), “Princesse Lointaine” en “Laetitia” wat groot bekendheid verwerf. In hierdie afdeling is ook die noemenswaardige lykdigte “Donkerstroom” (waarin die digter fantaseer oor die lewe na die dood en hoop dat hy daar nog van die geliefde sal kan droom) en “Eheu fugaces” (wat beteken “O, die voortvlugtige jare” en die aanhef is van ’n ode van Horatius), wat egter nie dieselfde intensiteit bereik as soortgelyke verse van Totius nie. “Sachsen-Gruss” is ’n vroeë voorbeeld van die villanelle in die Afrikaanse poësie. Visser verwerf aanvanklik groot bekendheid vir veral sy liefdesverse, waarskynlik weens die toeganklikheid en maklik verstaanbare aard daarvan, maar vanuit ’n later perspektief is hierdie gedigte deurtrek van retoriese en stereotipe beelde, ’n geykte digterlike taal en meganiese versbeweging. Steeds bekoorlik is die logiese bou van die gedigte, die romantiese figuur van die troebadoer en die swierige en eksotiese beelde. Hierdie algemene kenmerke is simptomaties van die hele afdeling en ook van sy latere liefdesverse. Die afdeling “Van verlede en hede” bevat vaderlandse verse en ook ’n geestige gedig soos “Lotos-land”, wat tipies is van sy werk in hierdie genre. Die populêre opvatting was dat elke storie ’n les moet leer en tong in die kies voeg hy aan die einde van hierdie spotdig oor die Voortrekkers ’n “lessie” by wat absoluut niks met die storie te doen het nie. Hierdie gedig is ook ’n voorbeeld van intertekstualiteit lank voordat dit mode geword het, waarin met Jan Celliers se osse, Langenhoven se essays en Malherbe en Leipoldt se landskapsienings gehekel word, terwyl die titel self teruggevoer kan word na Odysseus se omswerwinge en daar ook verwysings is na Perceval Gibbon se werk.[2] Hierdie parodie is met sy fyn woordgebruik en talle toespelings ’n besondere hoogtepunt in Visser se poësie. “Voorslag” is weer ’n loflied aan die perd, geskryf in ’n aansteeklike galop-ritme, terwyl “Voor in die wapad brand ’n lig” met Paul Kruger as tema ook algemeen bekend word. Die afdeling “Nuwe woorde op ou wysies” is lirieke waarvan die wysie ook aangedui word en die slotafdeling “Vir kinders” bevat onder andere die bekoorlike “Grondmannetjie”, ’n gedig oor die spreker se skaduwee, en die mooi bangmaakrympie “Kokkewiet”. “Gedigte” word in 1926 met die Hertzogprys bekroon en beleef in dieselfde jaar reeds ’n tweede, grootliks vermeerderde druk met vier-en-twintig addisionele verse, waarin ook die indeling verander word. Die hersiene uitgawe word verdeel in “Van rose en liefde” (liefdesgedigte), “Van volk en vaderland” (vaderlandse verse), “Erns in luim” (geestige verse), “Die kleinspan” (kinderverse) en “Om te sing” (Afrikaanse lirieke op oorspronklike melodieë afkomstig uit Amerika, Denemarke, Duitsland, Frankryk, Pole, Vlaandere, Finland en Oostenryk).
Sy tweede bundel, “Rose van herinnering”,[3] toon nie veel vooruitgang nie en is soortgelyk aan die eerste bundel. Die titel dui weer op die roos as simbool van die liefde. Die bundel word in twee ongetitelde afdelings verdeel, met die eerste afdeling wat liefdesgedigte en geleentheidsgedigte bevat. Die bundel word geopen met die titelgedig, waarvan die eerste strofe noemenswaardig is veral deur sy gebruik van die tipografie. Die geliefde word vergelyk met ’n kelk, terwyl die woorde dan ook ’n kelk vorm. “La belle dame sans merci” is gerig aan sy tweede geliefde. Enkele ander verse is noemenswaardig, insluitende “Die roos” (wat outobiografies gekoppel kan word aan die dood van sy eerste vrou), “Omdat die dood”, “Die swarte osse”, “Terug na die Karoo” en “Judas”. Opvallend is ’n siklus van vyf sonnette (“Die offerande van Isak”) met Bybelse temas, nie oor die poëtiese waarde daarvan nie maar omdat hierdie sonnette die eerste in Afrikaans is van ’n tipe wat later ’n belangrike rol in die poësie van N.P. van Wyk Louw, Ernst van Heerden, S.J. Pretorius en ander sal speel. In “Gaudeamus igitur” beïndruk hierdie loflied op wyn met sy spel met uitheemse woorde en name. Die tweede afdeling bevat geestige gedigte en hier munt puntdigte soos “In die katkisasie-klas” en die reeks “Borsbeeldjies” (waaronder dié van die teoloog, predikant, geneeskundige en volksleier en die selfspottende “’n Bekende gesig”) uit. “Toe die wêreld nog jonk was” is een van die hoogtepunte in sy geestige poësie. Hierin word gespot met die weergawe van die mense se ouderdom in Genesis (waarin die digter hom voorstel dat alles met tien vermenigvuldig is) en verplaas die gebeure na die eietydse Afrikaanse verwysingsveld. Hierdie gedig is ’n baie effektiewe hekeling van ’n te letterlike interpretasie van die Bybel. “Vet” bereik sy komiese effek veral met oordrywings, terwyl “Nat en Sap” met sy titel wat ook die politieke partye van die tyd eggo op vernuftige wyse die geskiedenis van Noag herinterpreteer. “Rose van herinnering” word in 1928 met die Hertzogprys bekroon.
Sy nagelate gedigte word gebundel in “Die purper iris en ander gedigte”, met soortgelyke gedigte as in sy vorige bundels. Treffend is “Amakeia”, wat die verhaal vertel van die swart vrou wat eerder doodgemaak sal word as om die wit seuntjie wat aan haar sorg toevertrou is, aan sy vervolgers uit te lewer. “Sneeuwitjie” is ’n verwerking in versvorm van die Rachel de Beer-legende, terwyl “Die ruiter van Skimmelperdpan” die verhaal is van ’n spookruiter wat elke middernag sy verskyning maak. Die titelgedig is ’n liefdesgedig aan sy tweede vrou, Marie, waarin hy hulle liefdesgeskiedenis teen ’n Oosterse agtergrond uitbeeld. Treffende kindergedigte uit hierdie bundel is “Liewe onskuld” (met herinneringe oor kinders se kattekwaad), “Die duisendpoot” en “Wit en swart” (wat vertel wat gebeur wanneer die klein engeltjies van die hemel en die duiweltjies deurmekaar raak). “Uit ons prille jeug”[4] bevat nagelate kinderverse, met die voorrede “Aan die kinders” wat deur C. Louis Leipoldt geskryf is. Dit is veral “As dit fluit-fluit gaan” (oor ’n seuntjie se gefluit in die kerk) en die uitbeelding van die diere in “Noag se ark” (insluitende die olifant, renoster, dromedaris, seekoei en kameelperd) wat bekoorlik is. “Die strandlopertjie” beeld op kostelike wysie die onskuld van die voor-puberteitskind uit. ’n Keur uit al sy kindergedigte verskyn later as “Kinderkeur uit A.G. Visser”, byeengebring deur D.J. Opperman met illustrasies deur Katrine Harries.
Gerrit Dekker stel ’n “Bloemlesing uit die gedigte van A.G. Visser” saam en in 1978 word “Roos en lanset” gepubliseer, ’n keur uit sy gedigte byeengebring deur F.I. J. van Rensburg. In 1980 verskyn[5] “Versamelde gedigte”, waarin al sy bundels plus ’n paar ongebundelde verse (uit beide sy vroeë Ons Klyntji-dae as latere ongebundelde verse) opgeneem word, saamgestel en van ’n inleiding voorsien deur Merwe Scholtz. Van sy gedigte word deur J. Potbrey in Engels vertaal en in 1978 uitgegee onder die titel “A.G. Visser selected verse”. Die musikaliteit van sy gedigte maak dit baie geskik om getoonset te word en nie minder nie as twintig van sy getoonsette gedigte word in die FAK Volksangbundel opgeneem. Toonsettings is onderneem deur komponiste soos Rosa Nepgen, S. Le Roux Marais, G. Bon, Arthur Ellis en Walter Spiethoff. Visser publiseer sy gedigte gereeld in tydskrifte en dit word ook in ’n menigte bloemlesings opgeneem, waaronder “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Ons jongste letterkunde”, “Digters en digkuns”, “Uit ons digkuns”, “Digterstemme”, “Afrikaanse verse”, “Afrikaanse letterkunde”, “Afrikaanse ballades”, “Digters en digsoorte”, “Eerste stemme”, “Junior verseboek”, “Die junior digbundel”, “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”, “Nuwe Kleinverseboek”, “Nuwe Kleuterverseboek”, “Faune”, “Stories op rym”, “Digters op die toring”, “’n Rooie met ratte, Pa”, “Miskien sal ek die wingerd prys”, “Liggaamlose taal”, “Uit ons letterkunde”, “Woordpaljas”, “Patriot-digters”, “Pitkos”, “My Afrikaanse verseboek”, “Voorspraak” en “Die tweede gerf”.
Sy prosa is van beperkte omvang. Op Carnarvon skryf hy in die tyd tussen 1907 en 1909 prosasketse vir die Jongelingsvereniging onder die skuilnaam Vaaljas. Hierdie sketse handel oor dinge soos soen, liefde en trane en ander alledaagse onderwerpe. Sommige daarvan word in 1936 in Die Huisgenoot gepubliseer, maar al die sketse word eers in 1969 as “Joernaalaand” gebundel. Ten spyte van die feit dat hierdie stukke by skrywe daarvan nie bedoel was vir publikasie nie en dat dit ’n bepaalde, plattelandse gehoor in gedagte gehad het, toon dit reeds Visser se vernuftige woordspel, knap kontraste en vermoë tot treffende vergelykings. In die Nuwejaarsnommers van Die Burger van 1924 en 1925 verskyn die eerste twee aflewerings van ’n reeks oor “Gedaantes en gedoentes in die Karo” onder die skuilnaam dr. Roskam. Hoewel hierdie aflewerings bedoel was as deel van ’n omvattender werk, word dit nooit voltooi nie.
Die Oranjeklub stig na sy dood in 1929 ’n A.G. Visser gedenkfonds, die opbrengs waarvan hulle gebruik om jaarliks ’n A.G. Visser-Herdenkingsprys uit te loof vir ’n afdeling van die letterkunde of voordrag op die Afrikaanse Eisteddfod in Kaapstad. Die Laerskool A.G. Visser in Heidelberg word na hom vernoem. Verskeie studies word aan sy lewe en werk gewy. W.W. Kilpert behaal in 1938 sy M.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad met die ongepubliseerde verhandeling “Die volksdigter – A.G. Visser”, Dorothea Labuschagne behaal in 1974 die M.A.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met die ongepubliseerde verhandeling “Die Afrikaanse kinderpoësie, met spesiale verwysing na die werk van A.G. Visser”, P.J. Nienaber versamel verskeie bydraes oor sy lewe en werk in die boek “A.G. Visser, digter en sanger” en P.H. Langenhoven skryf die biografie “Sanger van die Suikerbosrand: die lewensverhaal van A.G. Visser”. Op 11 September 1948 onthul die Afrikaanse Skrywerskring ’n gedenkplaat op sy graf. In 2012 stig Solidariteit Helpende Hand die A.G. Visser-Beursfonds vir behoeftige mediese studente.[6]
Jaar | Publikasies |
---|---|
1925 | Gedigte |
1927 | Rose van herinnering |
1930 | Die purper iris |
Uit ons prille jeug | |
1955 | Bloemlesing uit die gedigte van A.G. Visser (saamgestel deur G. Dekker) |
1967 | Kinderkeur uit A.G. Visser |
1969 | Joernaalaand |
1978 | Roos en lanset (saamgestel deur F.I.J. van Rensburg) |
Selected verse of A.G. Visser | |
1980 | Versamelde gedigte |
Sy agterkleinseun is die kunstenaar Jacob van Schalkwyk.
Wikimedia Commons bevat media in verband met A.G. Visser. |