Abdomen | ||
Inligting en eksterne bronne | ||
Die abdomen is no. 3 op dié skets. Die bors is no. 2 en die bekken no. 4. | ||
Inligting | ||
Latyn | Abdomen | |
Aangeheg | Ribbekas Werwelkolom | |
Bevat | Spysverteringskanaal Organe Hulporgane Urinestelsel | |
Werking | Help met beweging Steun die torso Help met asemhaling Beskerm die binneste organe | |
Eksterne bronne | ||
MeSH | D000005 | |
FMA | 9577 | |
Gray's Anatomy | Bl. 1313 |
Die abdomen of buik beslaan by die mens en ander gewerweldes die deel van die liggaam tussen die bors en bekken. Die abdomen is die voorste deel van die abdominale segment van die torso; die agterkant van dié segment is die rug. In die abdomen lê die buikholte. Onder die abdomen is die bekken, wat strek tot by die simfise (waar die twee heupbene aan mekaar grens).
By geleedpotiges is die abdomen die agterste liggaamsegment, wat volg op die kopborsstuk.[1][2]
Die abdomen bevat die meeste van die buisvormige organe van die spysverteringstelsel, sowel as verskeie soliede organe. Hol abdominale organe sluit in die maag, dunderm en dikderm, met die blindederm en appendiks aan die punt. Organe soos die lewer, galblaas en pankreas is nou by die spysverteringstelsel betrokke. Die milt, niere en byniere lê ook in die abdomen, saam met baie are soos die aorta en onderste holaar. Die blaas, baarmoeder, Fallopiusbuise en eierstokke word soms as abdominale organe en soms as bekkenorgane beskou. Laastens bevat die abdomen ’n uitgebreide membraan bekend as die buikvlies. Sekere organe word heeltemal deur die buikvlies bedek terwyl ander, wat gewoonlik nader aan die buikwand geleë is, net aan die een kant bedek word. Anatome noem laasgenoemde organe "retroperitoneaal".
Abdominale organe kan in sommige diere baie gespesialiseerd wees. Die maag van herkouers (’n suborde van die soogdiere) het byvoorbeeld vier afdelings – die groot-, net-, blaar- en melkpens.[3]
In gewerweldes is die abdomen ’n groot holte wat omsluit word deur die maagspiere aan die onder- en sykant en deur die werwelkolom aan die agterkant. Die laer ribbes kan ook van die wande omsluit. Die buikholte is bo die bekkenholte en onder die borsholte; dit word deur die middelrif aan laasgenoemde geheg. Strukture soos die aorta, onderste holaar en slukderm loop deur die middelrif. Beide die maag- en bekkenholte is uitgevoer met die buitenste laag van die buikvlies, die pariëtale peritoneum. Hierdie vlies is aaneenlopend met die binneste laag van die buikvlies, die visserale peritoneum, wat die organe bedek.[4]
Die buikspiere maak bewegings van die torso moontlik, soos buk en sydelings draai. Hulle kan ook die druk in die buik verhoog en dus help met verskeie liggaamsfunksies, soos asemhaling, hoes, nies en ontlasting.
Die spiere word in drie groepe verdeel:
Die laterale buikspiere loop tot tussen die werwelkolom, die laer ribbes, die boonste deel van die heupbene en die skaambeen. Al hul vesels loop na die middel en omsluit die reguit buikspier voordat hulle bymekaarkom aan die ander kant van die wit lyn van die buikwand (linia alba abdominis, waar die twee helftes van die reguit buikspier aaneengeheg is). Die spiere word versterk deur die kriskraspatroon van die vesels: Die buitenste skuins spiere loop na onder en na voor, die binneste skuins spiere na bo en na voor, en die dwars spiere horisontaal na voor.[5]
Die dwars buikspiere is die diepste spiere en kan nie van buite aangeraak word nie. Hulle kan ’n mens se liggaamshouding in ’n groot mate beïnvloed. Die binneste skuins buikspiere is ook diep geleë en het ook ’n invloed op die liggaamshouding. Albei soorte spiere help met die rotasie en laterale buiging van die ruggraat; hulle steun die ruggraat aan die voorkant. Die buitenste skuins spiere is vlakker geleë en is ook betrokke by die rotasie en laterale buiging van die ruggraat. Hulle stabiliseer ook die ruggraat wanneer dit in ’n regop posisie is.
Die reguit buikspier word bedek deur die skede van spiervesels wat deur die laterale buikspiere gevorm word. Dit is die spier wat fikse mense ontwikkel tot die sespakvoorkoms. Eintlik behoort dit ’n "tienpak" te wees, want daar is vyf vertitale seksies aan elke kant. Die onderste twee seksies aan weerskante is egter net bo die skaambeen geleë en is gewoonlik nie sigbaar nie.
Die funksie van die reguit en laterale buikspiere is om die ruggraat vorentoe te laat buig deur konsentries saam te trek.[6] As die spiere met oefening versterk word, help dit om die liggaam te steun en om rugpyn en beserings te verminder. Dit verminder ook die druk wat op die ruggraat geplaas word.
Sosiale en kultuurbeskouings van die buitenste voorkoms van die abdomen verskil van kultuur tot kultuur. ’n Vet abdomen kan beskou word as ’n teken van rykdom en aansien omdat dit daarop dui dat iemand baie kos het om te eet, of as ’n teken van swak gesondheid weens te min oefening. ’n Kaal andomen word in baie kulture geseksualiseer.
Verskeie mediese prosedures kan gebruik word om die organe van die maagdermkanaal te ondersoek. Dit sluit in ’n endoskopie, kolonoskopie, sigmoïdoskopie, enteroskopie en esofagogastroduodenoskopie. Daar is ook ’n paar mediese beeldingstegnieke wat gebruik kan word. Oppervlakeienskappe is belangrik in ondersoeke van die abdomen.
In die middel van die abdomen loop ’n effense groef van die ensiforme kraakbeen aan die bokant tot by die simfise aan die onderkant. Dit verteenwoordig die linea alba (wit lyn) in die buikwand. Min of meer in die middel is die naeltjie geleë. Die reguit buikspier weerskante van die linea alba staan uit in gespierde mense. Die buitelyn van hierdie spiere word onderbreek deur drie of meer groewe wat spierveselkruisings aandui. Daar is gewoonlik een by die ensiforme kraakbeen, een by die naeltjie en een tussenin. Dit is die kombinasie van die linea alba en die spierveselkruisings wat die sespak vorm wat so gesog is onder spierbouers.
Die boonste laterale grens van die abdomen is die onderkant van die ribbekas, waar die kraakbeen van die vals ribbes (8, 9, 10) bymekaarkom. Die onderste laterale grense is die voorste kruin van die heupbeen en die liesband, wat loop van die voorste boonste doring van die heupbeen tot by die doring van die skaambeen. Hierdie laer grense is as induikings sigbaar. Net bo die skaambeendorings aan weerskante is die buitenste buikringe: openings in die spierwand van die abdomen waardeur die saadstring by mans uitkom.
Een metode waardeur die ligging van die organe bepaal kan word, is om drie horisontale en twee vertikale lyne te trek.
Die twee vertikale lyne word getrek van die punt in die middel van die voorste boonste doring en die simfise aan elke kant, opwaarts tot by die kostale rand (rand van die ribbes).
Hierdie drie horisontale en twee vertikale lyn verdeel die abdomen in nege "streke". (Let daarop dat "hipo" "onder" en "epi" "bo" beteken, terwyl "chondron" "kraakbeen" (van die ribbes, in dié geval) en "gaster" "maag beteken. Die omruiling van "links" en "regs" is met opset, want dit dui op ’n persoon wat oorkant jou staan.)
regterhipochondrium | epigastrium | linkerhipochondrium |
regterflank | naeltjiestreek | linkerflank |
regterlies | hipogastrium | linkerlies |
Soms word die abdomen in kwarte verdeel:
Boonste regterkwart |
Boonste linkerkwart |
Onderste regterkwart |
Onderste linkerkwart |
Die abdomen van ongewerweldes bestaan uit ’n reeks boonste plate bekend as tergiete of rugplate en onderste plate bekend as sterniete. Alles word bymekaargehou deur ’n sterk maar rekbare membraan.
Die abdomen bevat die insek se spysverteringstelsel en voortplantingsorgane. Dit bestaan uit elf segmente in die meeste insekordes, hoewel die elfde segment afwesig is by volgroeide diere van die meeste hoër ordes. Die getal segmente wissel van spesie tot spesie; die heuningby het net sewe sigbare segmente en sandvlooie het net ses segmente.
Die abdomen is soms taamlik aangepas. In Apocrita (bye, miere en perdebye) is die eerste segment saamgesmelt met die borsstuk en word dit die propodeum genoem. In miere vorm die tweede segment die nou petiool. Sommige miere het ’n bykomende postpetiool, en die orige segmente vorm die bolvormige gaster.[7] Die petiool en gaster word saam die metasoma genoem.
Anders as ander geleedpotiges het volwasse insekte geen pote aan die abdomen nie, hoewel sommige pootagtige uitsteeksels het.
By spinnekopagtiges word die term "abdomen" afgewissel met "opistosoma" ("agterlyf"), wat die deel van die lyf is agter die een met die kop en pote (die "prosoma").