Adige/Etsch | |
---|---|
Die Adige in Verona, Italië. | |
Die stroomgebied van die Adige. | |
Oorsprong | naby die Reschenpas, Graun im Vinschgau, Suid-Tirol, Italië Alpe |
Monding | suid van Venesië, Italië Adriatiese See (Middellandse See) |
Stroomgebied | Italië |
Lengte | 410 km (250 myl) |
Oorspronghoogte | 1 520 m (4 990 voet) |
Mondinghoogte | 0 m (0 voet) |
Gemiddelde afloop | 235 m³/s (8 300 vt/s³) |
Stroomgebiedopp. | 12 100 km² (4 700 myl²) |
Kaart van die Adige-bekken in Noord-Italië.
|
Die Adige (Italiaans: [ˈaːdidʒe]; Duits: Etsch, [ɛtʃ]; Venesiaans: Àdexe; Romansch: Adisch, ; Ladinies: Adesc; Latyn: Athesis; Antieke Grieks: Ἄθεσις) is 'n groot suidoos-vloeiende rivier in Italië. Die rivier, met 'n lengte van 410 km, is die tweede langste rivier in Italië na die Po, asook die langste rivier van die Italiaanse outonome provinsie Suid-Tirol in die outonome gewes Trentino-Suid-Tirol.
Die Adige ontspring in die Alpe naby die Reschenpas by Graun im Vinschgau in die outonome gebied Suid-Tirol van Italië. Die Reschenpas vorm die waterskeiding tussen die Middellandse See en die Swartsee en behoort sedert die Eerste Wêreldoorlog tot die grens tussen Italië en Oostenryk. Net noord van dié pas vloei die Inn. Aansluitend vloei die Adige in 'n suidelike rigting deur die stede Bolzano en Trient, voordat hy net wes van Verona in 'n oostelike rigting omslaan en net noord van die Po in 'n oostelike rigting vloei. Net suid van Venesië mond die rivier in die Adriatiese See (Middellandse See) uit.
In antieke tye was die vallei van die Adige 'n belangrike roete oor die Alpe en tydens die volksverhuising het baie volke deur dié vallei Italië bereik.
Die Adige is, onder sy Duitse naam Etsch, een van die waterliggame wat in die Deutschlandlied genoem word, die ander is die Maas, Memel en Belt. Die vers "Von der Maas bis an die Memel, von der Etsch bis an den Belt" dui sekere historiese nedersettingsgrense van die Duitssprekende etniese groepe aan.