'n Afslaan in tennis is om ná elke punt die spel weer te begin deur op ’n voorgeskrewe wyse die bal na die teenstander te slaan.[1] 'n Speler sal die bal met 'n raket so slaan dat dit in die diagonaal teenoorgestelde kant van die baan val sonder dat die net dit keer. Spelers begin gewoonlik 'n afslaan deur die bal in die lug te gooi en dit te slaan wanneer dit die hoogste punt in die lug bereik. As die bal skrams aan die net raak, is dit in die groot toernooie nie aanvaarbaar nie, hoewel dit nie as 'n fout beskou word nie. Die speler moet dan die bal weer afslaan.
Spelers slaan gewoonlik die bal oorhoofs, maar 'n onderhandse hou word ook toegelaat.[2] Die afslaan is die enigste hou waarmee die speler sy tyd kan vat omdat hy nie op 'n teenstander se hou hoef te reageer nie; van 2012 af is daar egter 'n beperking van 25 sekondes wat tussen punte toegelaat word.[3]
Die afslaan is een van die moeilikste houe vir 'n beginner, maar as 'n speler dit eers onder die knie gekry het, kan dit tot groot voordeel wees. Ervare spelers kan die afslaan op verskeie maniere uitvoer en gebruik dit dikwels as 'n aanvalswapen om 'n punt te wen.
Vir 'n afslaan staan 'n speler agter die agterlyn sonder om daaraan te raak. Vir die eerste punt van 'n pot staan die persoon wat afslaan regs van die middelste punt van die agterlyn en dien diagonaal oor die net na die linkerkant (vanuit sy perspektief) van die baan. Vir 'n tweede punt van 'n pot is die afslaan diagonaal van die linker- na die regterkant van die baan, en vir elke daaropvolgende punt van dieselfde pot is die posisie die teenoorgestelde van dié van die vorige punt.
Die bal word die eerste keer afgeslaan om ’n punt mee te begin; 'n tweede afslaan geskied as die speler ’n fout met die eerste afslaan gemaak het. Met 'n tweede afslaan loop die speler die gevaar om die punt te verloor as daar weer 'n fout is.
Die reëls maak geen verskil tussen die eerste en tweede afslaan nie. Verskillende tegnieke word egter gebruik. Die eerste afslaan word gewoonlik met die maksimum krag en vaardigheid uitgevoer met die doel om die punt te wen – óf prontuit óf met die volgende hou deur die teenstander in 'n ongunstige posisie te dwing. Die tweede afslaan is gewoonlik konserwatiewer om 'n dubbelfout te voorkom. Dit word met minder krag en 'n hoër boog uitgevoer.