Agar-agar (soms verkeerdelik net agar) is ‘n plantaardige jellie wat uit verskeie soorte seewier vervaardig kan word. Dit is ‘n bestanddeel van ‘n wye verskeidenheid produkte.
Agar-agar is sedert die middel van die 17de eeu in Japan bekend. Tot die Tweede Wêreldoorlog was daardie land amper die enigste produsent. Tydens die oorlog was daar wêreldwyd ‘n tekort en moes die lande self die produk vervaardig. Suid-Afrika het verskeie wiere wat goeie agar-agar lewer en was die land dus gou selfversorgend. Die eerste chemiese ontleding van agar-agar is teen die einde van die 19de eeu in Frankryk onderneem.
Die woord agar-agar kom uit Maleis (Bahasa Indonesia) met die betekenis van “rooi alge”. Soms staan dit ook bekend as kanten.
Agar-agar kom uit die selwande van sekere spesies seewier. Veral die kort donkerrooi alge bekend as Gelidium en Gracilaria word wêreldwyd as bron benut. Aan die Weskus by die Langebaan-strandmeer is dit volop. Die regte soort seegras word vir drie ure in vars water gekook en daarna gefiltreer. Die helder oplossing stol nog beter as jellie van dierlike oorsprong. ‘n Honderd kilogram seewier lewer ‘n 10kg agar-agar.
Agar-agar is ‘n natuurlike plantaardige jellie. Dit is smaakloos, wit, ligdeurlatend, bestaan 80% uit vesel en hoofsaaklik uit koolhidrate, is ryk aan stikstof en bevat groot hoeveelhede mineraalsoute en proteïene. In koue water swel agar-agar op en as die water kook, los dit daarin op. Dit smelt weg by 85º C en stol tussen 32º en 40º C. Hierdie unieke eienskap gee ‘n goeie balans tussen die smelt en stabilitiet van die jellie by ‘n redelik hoë temperatuur. Omdat dit naby 37ºC (dus liggaamstemperatuur) is, is dit vir die mediese wetenskap ‘n belangrike kenmerk. Die bindkrag van agar-agar is twee maal so strerk as by ‘n jellie van dierlike afkoms.