’n Ala of chala (Serwies en Macedonies: ала; Bulgaars: хала; meervoud ale, chali)[1] is ’n mitologiese bose gees in die volksverhale van die Bulgare, Macedoniërs en Serwiërs.
Ale word beskou as demone van slegte weer wie se hoofdoel dit is om hael en donderstorms na boere se landerye te bring om hul gewasse te verwoes. Hulle eet nie net graag kinders nie, maar ook die son en maan (wat verduisterings tot gevolg het). As iemand ’n ala teenkom, is hulle geestelike of fisieke gesondheid, of selfs hulle lewe, in gevaar. As sy jou goedgesind is, kan sy jou egter ryk maak en jou lewe red in tye van gevaar.
Die voorkoms van ale is taamlik uiteenlopend en vaag in volksverhale. ’n Sekere ala kan soos ’n swart wind, ’n reuse skepsel met ’n onduidelike vorm, ’n mensagtige of slangagtige monster, ’n vroulike draak, ’n kraai, ens. wees. Hulle kan in der waarheid verskeie menslike en dierlike vorms aanneem en selfs in ’n mens se liggaam invaar.
Wanneer ’n ala in menslike vorm in ’n volksverhaal voorkom, is haar persoonlikheid baie soos dié van die Russiese Baba Jaga. Ale kan glo in die wolke, ’n meer, woud, groot boom of op ’n verafgeleë plek woon.[2]
Terwyl ale die mens se vyand is, het hulle ook magtige vyande wat hulle kan verslaan, veral drake. In Christelike verhale neem Elia dikwels die rol van die drake oor as die ale se grootste vyand. In sommige verhale veg Elia en die drake saam teen die ale. Valke word ook soms beskou as ale se vyande – hulle jaag hulle van die landerye af weg en keer hulle dus om dit oor die landerye te laat hael.
Taal | Enkelvoud | Meervoud | ||||
C. | L. | IFA | C. | L. | IFA | |
Serwies | ала | ala | [ˈala] | але | ale | [ˈalɛ̝] |
Bulgaars | хала | chala | [ˈxala] | хали | chali | [ˈxali] |
Macedonies | ала | ala | [ˈala] | али | ali | [ˈali] |
Sleutel:
C. – Cyrilliese alfabet
L. – Latynse alfabet