Alan Wolf Arkin (26 Maart 1934 – 29 Junie 2023) was 'n Amerikaanseakteur, regisseur, komediant en musikant met ’n loopbaan wat oor byna ses dekades gestrek het.[1][2] Hy was bekend vir sy rolle in die rolprente Edward Scissorhands (1990), Glengarry Glen Ross (1992), Little Miss Sunshine (2006), en Argo (2012). Hy was van Joodse afkoms.
Arkin, wat van 10-jarige ouderdom af toneelspellesse geneem het, het aan verskeie drama-instellings studeer.[3] Hy het die folkgroep The Tarriers saam met twee vriende gestig; Arkin het gesing en kitaar gespeel. Van 1958 tot 1968 het hy saam met die kindergroep The Baby Sitters gesing.[4] Hy het ook in die operette Candide gesing. In die 1960's was hy ’n vroeë lid van die komediegeselskap The Second City.[5]
Hy is bekend vir sy spel in prente soos The Russians Are Coming, the Russians Are Coming (1966), Wait Until Dark (1967), The Heart Is a Lonely Hunter (1968), Catch-22 (1970), The In-Laws (1979), Edward Scissorhands (1990), Glengarry Glen Ross (1992), Little Miss Sunshine (2006) en Argo (2012).
Hy is benoem vir twee Oscars vir beste akteur, vir The Russians Are Coming, the Russians Are Coming en The Heart Is a Lonely Hunter, en een vir beste manlike byspeler vir Argo. Met eersgenoemde het hy een van net ses mense[6] geword wat ’n Oscar-benoeming vir beste akteur vir sy eerste rolprentrol gekry het. Hy het dié prys vir beste manlike byspeler gewen vir Little Miss Sunshine, wat tot dusver sy enigste Oscar is.