Aleksander Afanasiëf | |
---|---|
Slavis, folkloris, resensent, historikus, joernalis | |
Geboorte | Bogoetsjar, Woronezj, Russiese Ryk | 23 Julie 1826
Oorlede | 5 Oktober 1871 (op 45) Moskou, Russiese Ryk |
Bekende werke | Russiese Feëverhale |
Aleksander Nikolajewitsj Afanasiëf (of Afanas'jef; Russies: Алекса́ндр Никола́евич Афана́сьев) (23 Julie [O.S. 11 Julie] 1826 - 5 Oktober [O.S. 23 September] 1871) was 'n Russiese Slavis en volkekundige wat byna 600 Russiese feëverhale en folklorestories gepubliseer het. Dit was een van die grootste versamelings folklore in die wêreld.[1] Die versameling is nie streng gesproke Russies nie, maar sluit volksverhale van Oekraïne en Belarus in.[2]
Die eerste uitgawe van sy versameling is van 1855 tot 1867 in agt volumes gepubliseer, en dit het hom die reputasie besorg as die Russiese eweknie van die broers Grimm.[3]
Aleksander Afanasiëf is op die dorp Bogoetsjar, Woronezj, Russiese Ryk gebore. Hy was die sewende kind en sy ma, Warwara, is aan die einde van sy geboortejaar dood. Die kinders is grootgemaak deur hulle pa, Nikolai.[4][5]
Afanasiëf het in die 1850's geïnteresseerd geraak in ou Russiese en Slawiese tradisies en stories ("folklore" as 'n studieveld het toe nog nie bestaan nie). Sy vroeë artikels, soos "Ведун и ведьма" ("Towenaar en heks") wat in 1851 in Комета gepubliseer is, was deel van die sogenaamde mitologiese skool wat legendes en stories beskou het as 'n skatkis van inligting vir die bestudering van meer antieke heidense mitologie. In so 'n vertolking het hy die sprokie Wasilisa die Skone beskou as die uitbeelding van die konflik tussen die sonlig (Wasilisa), die storm (haar stiefma) en donker wolke (haar stiefsusters).[6]
Hy was 'n groot argivaris en sy werke verskaf baie inligting, bewyse en paragrawe uit ou kronieke oor die ou Russiese kultuur, geskiedenis en tradisie, sowel as ander Indo-Europese tale, folklore en legendes – veral Duitse tradisies; hy het Duits vlot gepraat, asook baie Slawiese en antieke tale.
In die vroeë 1850's, toe Afanasiëf reeds bekend was vir sy artikels, het hy begin dink aan 'n versameling van sy volksverhale. Hy is toe deur die Russiese Geografiese Vereniging van Sint Petersburg gevra om die volksverhale te publiseer wat toe reeds 10 jaar in die vereniging se argief was. Dit was die begin van sy "versameling". Afanasiëf het 74 van dié verhale gekies, die enorme versameling van Wladimir Dal (sowat 1 000 tekste) en sy eie versameling van sowat 10 stories van die Woronezj-streek bygevoeg, asook ander versamelings. Hy het ook verhale wat reeds gepubliseer is (soos "Maria Marijewna", "Die Vuurvoël", "Die Grys Wolf", ensovoorts) bygevoeg.
Hy verdien sy prominente pek in die geskiedenis van Slawiese volkekunde hoofsaaklik danksy dié Russiese Feëverhale (Народные русские сказки), wat tussen 1855 en 1863 gepubliseer is en geïnspireer is deur die versameling van die broers Grimm. Uit 'n wetenskaplike standpunt gaan sy versameling verder. Hy het talle bydraers tot sy beskikking gehad en het probeer om die bron en plek waar die storie vertel is, aan te gee. Hy het nooit een definitiewe weergawe van 'n volksverhaal gegee nie; as hy byvoorbeeld sewe weergawes versamel het, het hy almal weergegee (soos met "Die Vuurvoël").
In 1860 was daar 'n skandaal om die publikasie van Russiese Volkslegendes (Русские народные легенды, 1860), 'n versameling volksverhale van oor die land wat geskoei was op die lewe van Jesus en Christelike heiliges. Die resultaat was 'n unieke mengsel van die Christendom en heidendom. Die Heiligste Sinode het die verhale as onortodoks bestempel en die boek is amptelik verbied.[7] Hy was ook die opsteller van Kosbare Verhale (Заветные сказки), 'n verskeidenheid stories wat persklaar gemaak is vir Russiese Volkslegendes plus ander moontlik omstrede stories – wat naamloos in Switserland gepubliseer is as Russiese Verbode Verhale weens die onwelvoeglike en antiklerikale aard van die materiaal.[8][9]
Voor Afanasiëf se werk in die 1850's is nog net 'n paar pogings aangewend om die volksgelowe van die plattelandse Rusland te bestudeer. Hoewel geskrewe Kerkslawies sedert die 10de eeu bestaan het, is dit feitlik uitsluitlik deur die kerk gebruik en net vir geestelike werke. Eers in die 18de en 19de eeu het 'n aansienlike volume werk in sekulêre letterkunde in die Russiese spreektaal ontwikkel. Afanasiëf se werk het dus 'n baie waardevolle bydrae gelewer tot die publisering en wettiging van die Russiese kultuur en volksgelowe. Die invloed van dié werke kan gesien word in die werk van baie skrywers en dirigente, veral Nikolai Rimski-Korsakof (Sadko, Die Sneeumeisie) en Igor Stravinsky (Die Vuurvoël, Petroesjka en L'Histoire du soldat).[10]