Sint Aleksander Nefski | |
---|---|
Grootprins van Nowgorod en Wladimir | |
’n Ikoon van Aleksander Nefski.
| |
Periode | 1236–1263 |
Voorganger | Andrei II |
Opvolger | Jaroslaf III |
Huis | Rjoerik |
Vader | Jaroslaf II |
Gebore | 30 Mei 1220 |
Oorlede | 14 November 1263 |
Tot heilige verklaar | 1547, deur die Russies-Ortodokse Kerk |
Feesdae | 23 November, 23 Mei, 30 Augustus |
Beskermheilige | Soldate, grense van Rusland |
Sint Aleksander Nefski (Russies: Алекса́ндр Яросла́вич Не́вский; 30 Mei 1220 – 14 November 1263) was die grootprins van Nowgorod en Wladimir-Soezdal tydens een van die mees onstuimige tye in die stede se geskiedenis. Hy word algemeen beskou as die belangrikste figuur van die Middeleeuse Kiëf-Roes.
Aleksander was die kleinseun van Wsewolod die Groot Nes en het legendariese status behaal met sy militêre oorwinnings oor Duitse en Sweedse invallers terwyl hy ’n beleid van samewerking met die magtige Goue Horde gevolg het.
Aleksander is in Pereslawl-Zalesski gebore as die vierde seun van prins Jaroslaf II van Wladimir en dit was onwaarskynlik dat hy ooit oor Wladimir sou regeer. In 1236 het die mense van Nowgorod hom egter gevra om hulle prins en militêre leier te word en hulle te help om hulle noordelike gebiede teen Sweedse, Duitse en Moslem-invallers te beskerm.
Nadat die Sweedse leër by die samevloei van die Izjora- en Newarivier geland het, het Aleksander en sy klein leër hulle op 15 Julie 1240 skielik aangeval en verslaan. Die Slag van die Newa het ’n volskaalse inval van die noorde af voorkom. Danksy hierdie oorwinning het die 19-jarige Aleksander die bynaam Nefski ("van die Newa") gekry.
Dit het gevolg net drie jaar ná die rampspoedige inval van die Mongole in Rusland. Dit het Nefski se politieke invloed versterk, maar terselfdertyd het dit sy betrekkinge met die bojare geskaad. Hy moes Nowgorod gou daarna verlaat weens dié konflik.
Nadat die Lyflandse Orde, ’n afdeling van die Duitse Orde, Pskof binnegeval het, het Nowgorod Alexander gevra om terug te keer. In 1241 het hy ’n leër op die been gebring en op 5 April 1242 het hy die invallers op die ys van die Peipusmeer verslaan tydens die Slag op die Ys.
Aleksander se oorwinning was ’n belangrike gebeurtenis in die Middeleeue. Voetsoldate van Nowgorod het ’n leër van ridders omsingel en verslaan, ’n groot prestasie vir dié tyd. Dit was ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling van Moskowië.
Ná die Lyflandse inval het Aleksander die Russiese noordweste verder versterk. Hy het ’n afvaardiging na Swede gestuur en hulle het in 1251 die eerste vredesooreenkoms tussen dié land en Rusland geteken.
Aleksander was ’n versigtige en versiende politikus. Hy het die Romeinse Curie se pogings om oorlog tussen Rusland en die Goue Horde aan te vuur afgekeur omdat hy verstaan het dat ’n oorlog met dié sterk mag geen nut gehad het nie. Historici is blykbaar onseker oor die redes vir Aleksander se houding teenoor die Mongole. Dit kan wees dat hy gedink het Katolisisme hou ’n groter bedreiging vir Russiese nasionalisme in as die betaling van belasting aan die Mongoolse khan, wat glad nie belanggestel het in Rusland se godsdiens en kultuur nie. Daar word ook gereken hy het die Mongole gebruik om sy eie status te beskerm en gedink hulle sou sy kant kies as iemand sy mag sou uitdaag.
Die mees waarskynlike rede was ’n poging deur Aleksander om te keer dat die Mongole die wydverspreide stadstate wat later Rusland sou word, herhaaldelik aanval. Hy het byvoorbeeld self na die Horde gegaan en groot sukses behaal om te keer dat Russe saam met die Mongoolse leërs teen laasgenoemde se vyande veg. Die feit dat die Russiese stadstate glad nie opgewasse teen die Goue Horde was nie, moet in ag geneem word wanneer Aleksander se optrede jeens die Mongole beoordeel word.
Danksy sy vriendskap met Sartaq Khan is Aleksander in 1252 aangestel as grootprins van Wladimir (en dus die Russiese hoofleier). Hy is ’n dekade later op die dorp Gorodets dood terwyl hy van die stad Sarai, die hoofstad van die Goue Horde, op pad terug was huis toe. Hy is in Wladimir begrawe. Net voor sy dood het hy ’n kloostergelofte afgelê en die religieuse naam Alexis gekry.
Die naam van sy eerste vrou is nie bekend nie. Sy word soms Paraskewija of Aleksandra genoem. Hulle het minstens vyf kinders gehad, onder wie Daniil van Moskou.
Hy is kort voor sy dood met sy tweede vrou, Wasilisa, getroud. Hulle het sover bekend nie kinders gehad nie.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Aleksander Nefski. |