Alessandro Manzoni | |
Portret van Alessandro Manzoni deur Francesco Hayez (Pinacoteca di Brera, Milaan, 1841) | |
Senator van die Koninkryk Italië
| |
Monarg | Victor Emanuel II |
---|---|
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | Alessandro Francesco Tommaso Manzoni 7 Maart 1785 |
Sterf | 22 Mei 1873 (op 88) Milaan, Italië |
Nasionaliteit | Italiaans |
Ouers | Pietro Manzoni en Giulia Beccaria |
Kind(ers) | Giulia Claudia (1808–1834) Pietro Luigi (1813–1873) Cristina (1815–1841) Sofia (1817–1845) Enrico (1819–1881) Clara (1821–1823) Vittoria (1822–1892) Filippo (1826–1868) Matilde (1830–1856) |
Alessandro Francesco Tommaso Antonio Manzoni (Italiaanse uitspraak: alesˈsandro manˈdzoːni; 7 Maart 1785 – 22 Mei 1873) was 'n Italiaanse romansier, digter en filosoof. Hy is bekend vir sy roman I Promessi Sposi (Afrikaans: Die verloofde) (1827), algemeen erken as een van die meesterstukke van die wêreldletterkunde.[1] Die roman is bygevolg 'n simbool van die Italiaanse unifikasie, beide om die werk se patriotiese boodskap [1] en omdat dit 'n grondliggende mylpaal in die ontwikkeling van moderne, gestandaardiseerde en verenigde Italiaans is.[2] Manzoni het ook bygedra tot die stabilisasie van die moderne Italiaanse taal en tot die bestediging van linguïstiese eenheid deur Italië. Manzoni was 'n invloedryke voorstander van liberale Katolisisme in Italië.[3][4] Sy werk en gedagtes word deur dikwels deur kritici gekontrasteer met die van sy jonger tydgenoot, Giacomo Leopardi.[5]
Manzoni is op 7 Maart 1785 in Milaan, Italië, gebore. Pietro, sy vader, ongeveer vyftig jaar oud, het behoort aan 'n ou familie van Lecco, oorspronklik feodale here van Barzio, in die Valsassina. Sy biologiese vader was egter waarskynlik die illuminis Alessandro Verri, broer van die invloedryke skrywer Pietro Verri. Die digter se grootvader aan moederskant, Cesare Beccaria, was 'n bekende skrywer en filosoof, en sy moeder Giulia het ook oor literêre talent beskik. Die jong Alessandro het sy eerste twee jaar deurgebring in cascina Costa in Galbiate, en Caterina Panzeri het na hom omgesien, soos geboekstaaf deur 'n gedenktablet wat op die plek aangebring is. In 1792 het sy ouers geskei[1], en sy moeder het 'n verhouding met die skrywer Carlo Imbonati begin, en na Engeland en later Parys verhuis. Om hierdie rede het Alessandro in verskeie godsdienstige milieus grootgeword.
Manzoni was 'n stadige ontwikkelaar, en by die verskillende kolleges wat hy bygewoon het, is hy as ietwat van 'n deugniet en weetniet beskou. Op vyftien het hy egter 'n passie vir poësie ontwikkel en twee sonnette van aansienlike verdienste geskryf. Met die dood van sy vader in 1807 het hy by die vrydenkende huishouding van sy moeder in Auteuil aangesluit en twee jaar spandeer in die geselskap van die literêre establishment van die sogenaamde "ideoloë" , filosowe van die 18de-eeuse skool, onder wie hy baie vriende gemaak het, veral Claude Charles Fauriel. By Auteuil het hy 'n lewenslange belangstelling in liberalisme ontwikkel. Hy was selfs veronderstel om met die dogter van Antoine Destutt de Tracy te trou.[6] Hier het hy hom ook vereenselwig met die anti-Katolieke oortuiging van Voltaireisme.
In 1806–1807, terwyl hy in Auteuil was, het hy die eerste keer as digter voor die publiek verskyn, met twee werke, een getiteld Urania, in die klassieke styl, waarvan hy later die mees opvallende teëstander geword het, die ander 'n elegie in blanke vers, by die dood van graaf Carlo Imbonati, van wie hy deur sy moeder aansienlike eiendom geërf het, insluitend die villa van Brusuglio, van toe af sy hoofwoning.
In 1808 trou Manzoni met Henriette Blondel, dogter van 'n Geneefse bankier. Sy het uit 'n Calvinistiese familie gekom, maar in 1810 het haar bekeer tot die Katolisisme.[7] Haar bekering het haar man diep beïnvloed.[8] Dieselfde jaar het hy 'n godsdienstige krisis beleef wat hom van Jansenisme na 'n streng vorm van Katolisisme gelei het.[9] Manzoni se huwelik was gelukkig, en hy het vir baie jare 'n rustige en selftevrede huishoudelike lewe gelei, verdeel tussen letterkunde en sy boerderyaktiwiteite in die skilderagtige Lombardye.
Sy intellektuele energie in hierdie tydperk van sy lewe is gewy aan die samestelling van die Inni sacri, 'n reeks heilige lirieke, en aan 'n verhandeling oor Katolieke moraliteit getiteld Osservazioni sulla morale cattolica, 'n taak wat onderneem is onder godsdienstige leiding, ter vergoeding van sy vroeëre afvalligheid. In 1818 moes hy sy erfporsie van die hand sit, aangesien hy 'n oneerlike agent met sy geld vertrou het. Sy kenmerkende vrygewigheid is in hierdie tyd getoon deur sy optrede teenoor sy kleinboere, wat hom baie dank verskuldig was. Hy het nie net ter plaatse alle skulde wat aan hom verskuldig was, gekanselleer nie, maar beveel dat hulle die hele komende mielie-oes vir hulleself hou.
In 1819 het Manzoni sy eerste tragedie gepubliseer geiteld Il Conte di Carmagnola, wat op onverskrokke wyse alle klassieke konvensies oortree het en 'n hewige kontroversie tot gevolg gehad het. Dit is hewig gekritiseer in 'n Kwartaallikse Oorsig-artikel, waarop Goethe in sy verdediging geantwoord het, "een genie," soos graaf de Gubernatis opgemerk het, "wat die ander ken en verstaan." Die dood van Napoleon in 1821 het Manzoni se kragtige strofes, Il Cinque maggio (Die Vyfde Mei) geïnspireer, en is een van die gewildste lirieke in Italiaans.[10] Die politieke gebeure van daardie jaar en die gevangenskap van baie van sy vriende, het Manzoni se gedagtes oorheers, en die historiese studies waarin hy afleiding gesoek het tydens sy daaropvolgende aftrede by Brusuglio was 'n vvorspel tot sy magnus opus.
Manzoni het in 1821 aan die roman begin werk,[11] maar hy het die werklike skryf van Fermo e Lucia op 24 April 1821 begin, nadat hy die romans van Walter Scott gelees het, hoofsaaklik in Franse vertalings.[12] By die skryf van die geval van die Innominato[13], wat histories geïdentifiseer word met Bernardino Visconti (Bernardino Visconti of Bernardino Conti (oorlede 1540) was 'n Rooms-Katolieke prelaat wat gedien het as Biskop van Alatri vanaf 1537 tot 1540.[14] Op 29 Oktober 1537 is Visconti tydens die pousdom van Pous Paulus III as Biskop van Alatri aangestel.[14][15] Op 30 Desember 1537 is hy ingewy as biskop deur Alfonso Oliva, Biskop van Bovino.[15] Hy het tot sy dood in 1540 in Rome, Italië, gedien as biskop van Alatri.[14][15]), het die eerste manuskrip van die roman Die verloofde (in die oorspronklike Italiaans I Promessi Sposi) in vorm begin groei en is in September 1823 voltooi. Die werk is gepubliseer, nadat dit met 'n streng oog hersien is deur die skrywer en ook nagegaan is deur vriende in 1825–1827, teen die tempo van 'n volume per jaar; dit het Manzoni onmiddellik internasionale literêre roem besorg. Daar word algemeen saamgestem dat dit sy grootste werk is, en die model vir moderne Italiaanse. Die Penguin Companion to European Literature merk op dat "die boek se werklike grootheid in sy karakterafbakening lê ... in die heldin, Lucia, in Padre Cristoforo, die Capuchin-broeder, en die heilige kardinaal (kardinaal Carlo Borromeo) van Milaan, het hy drie lewende voorbeelde geskep van daardie suiwer en heelhartige Christendom wat sy ideaal is. Maar sy psigologiese penetrasie strek ook tot diegene wat nie aan hierdie standaard voldoen nie, hetsy deur swakheid of verdorwenheid, en die roman is ryk aan beelde van gewone mans en vroue, geskets met 'n heerlike ironie en ontnugtering wat altyd kort is van sinisme, en wat 'n perfekte balans bied vir die evangeliese ywer van sy ideaal." In 1822 publiseer Manzoni sy tweede tragedie, Adelchi, wat as tema het die omverwerping deur Karel die Grote van die Lombarde se oorheersing in Italië, en met baie versluierde toespelings en innuendos op die bestaande Oostenrykse bewind bevat. Met hierdie werke is Manzoni se literêre loopbaan feitlik afgesluit. Maar hy het I Promessi Sposi moeisaam hersien in Toskaans-Italiaans, en dit in 1840 heruitgegee in hierdie vorm, met 'n historiese opstel, Storia della colonna infame, oor besonderhede van die 17de-eeuse plaag in Milaan wat so 'n belangrike rol speel in die roman. Hy het ook 'n klein verhandeling oor die Italiaanse taal geskryf.
Manzoni was sterk ten gunste van Italiaanse unifikasie, en was selfs 'n lid van die Italiaanse Senaat.[16] Voor en na sy omhelsing van 'n strenge Katolisisme nadat hy getroud is met Henriett Blondel, kan Manzoni se politiek breedweg as liberaal beskryf word. Manzoni se liberale sienswyse het na sy Franse reis 'n diepgaande begrip van die ekonomie ingesluit. Hy was goed bekend met skrywers soos Jean-Baptiste Say en Adam Smith en het talle aantekeninge nagelaat oor die ekonomiese verhandelings en essays wat hy besig was om te lees.
Sy begrip van die ekonomie is duidelik te bespeur uit sy groot historiese roman I Promessi Sposi, veral in Hoofstuk 12, waar hy handel met die hongersnood in Lombardye. Die ekonoom en president van die Italiaanse Republiek, Luigi Einaudi, het die hoofstuk en die hele boek geprys as "een van die beste verhandelings oor politieke ekonomie wat ooit geskryf is".<ref. name="auto"/> Die ekonomiese historikus Deirdre McCloskey het dit eweneens beskryf as "'n les in Ekonomie 101".[17]
Die dood van Manzoni se vrou in 1833 is voorafgegaan en gevolg deur dié van verskeie van sy kinders, en van sy moeder. In die middel 1830's het hy die "Salotto Maffei", 'n byeenkoms ("salon") in Milaan, bygewoon wat deur Clara Maffei aangebied is, en in 1837 het hy weer getrou, met Teresa Borri, weduwee van graaf Stampa. Teresa het ook voor hom gesterf, terwyl van die nege kinders wat vir hom in sy twee huwelike gebore is, almal behalwe twee hom oorleef het. In 1860 het koning Victor Emanuel II hom as senator aangestel.[18] Die dood van sy oudste seun Pier Luigi op 28 April 1873 was die laaste slag wat sy einde verhaas het. Hy was reeds verswak omdat hy op 6 Januarie geval het toe hy die San Fedele-kerk verlaat het en sy kop die trappe getref het. Hy sterf 5 maande hierna aan serebrale breinvliesontsteking, 'n komplikasie van die trauma wat hy opgedoen het. Sy begrafnis is in die Katedraal van Milaan met byna koninklike prag en praal gehou.[19] Sy stoflike oorskot, nadat dit vir 'n paar dae in staatsie gelê het, is geneem na die Cimitero Monumentale in Milaan deur 'n groot gevolg, insluitend die koninklike prinse en al die belangrike staatsoffisiere, maar sy edelste monument en grootste eerbetoon was Verdi se Mis, geskryf om sy nagedagtenis te eer.
Sy Osservazioni sulla morale cattolica is deur Pous Pius XI aangehaal in sy ensikliek oor Christelike Onderwys getiteld Divini Illius Magistri:
"20. Dit is opmerklik hoe 'n leek, 'n uitstekende skrywer, en terselfdertyd 'n diep en pligsgetroue denker, hierdie fundamentele Katolieke leer goed kon verstaan en uitdruk: 'Die Kerk sê nie dat moraliteit suiwer, in die sin van eksklusiwiteit, aan haar behoort nie, maar dat dit geheel en al aan haar behoort. Sy het nog nooit volgehou dat buite haar skuiling en afgesien van haar lering, die mens nie enige morele waarheid kan begryp nie, sy het inteendeel meer as een keer hierdie opinie veroordeel omdat dit in meer vorme verskyn het as een. Sy sê egter, en sal altyd volhou, dat weens haar instelling deur Jesus Christus, omdat die Heilige Gees haar in Sy Naam deur die Vader gestuur het, sy alleen besit wat sy onmiddellik van God ontvang het en nooit kan verloor nie, die geheel van die morele waarheid, omnem veritatem, waarin alle individuele morele waarhede ingesluit is, sowel as dié wat die mens met behulp van die rede kan leer, as dié wat deel vorm van openbaring of wat daaruit afgelei kan word'".[20]
Niemand minder nie as Verdi was 'n groot bewonderaar van Manzoni, en het in 'n brief aan een van sy vriendinne, soos beskryf (en vryelik hier vertaal) in Charles Osborne se biografie, Verdi: A life in the Theatre, geskryf: "Ek is so jaloers op my vrou omdat sy die Groot Man kon sien. Maar ek weet nie of ek, selfs indien ek Milaan sou besoek, die moed sou hê om myself aan hom voor te stel nie. Jy weet goed genoeg hoe diep my eerbied vir hierdie Man lê, wat in my opinie nie slegs die belangrikste boek van ons tyd geskryf het nie, maar ook een van die grootste werke wat die menslike gees ooit voortgebring het. En dit is meer as slegs 'n boek, dit is 'n troos aan die mensdom."