Alexander | |
---|---|
Koning van die Hellene | |
![]() | |
Periode | 11 Junie 1917 – 25 Oktober 1920 |
Voorganger | Konstantyn I |
Opvolger | Konstantyn I |
Huis | Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg |
Vrou | Aspasia Manos |
Kinders | Prinses Alexandra van Griekeland |
Vader | Konstantyn I |
Moeder | Prinses Sophie van Pruise |
Gebore | 1 Augustus 1893, Athene |
Oorlede | 25 Oktober 1920, Athene |
Alexander (Grieks: Ἀλέξανδρος, Βασιλεὺς τῶν Ἑλλήνων, Aléxandros, Vasiléfs ton Ellínon; 1 Augustus 1893 – 25 Oktober 1920) was van 1917 tot 1920 koning van die Hellene (Griekeland).
Hy is op 1 Augustus 1893 in Tatoi naby Athene gebore as die tweede oudste seun van koning Konstantyn I en prinses Sophie van Pruise. Nadat Konstantyn en sy oudste seun, kroonprins George, gedwing is om die land te verlaat weens Konstantyn se steun aan Duitsland tydens die Eerste Wêreldoorlog, het Alexander koning geword. Hy het egter in werklikheid geen mag gehad nie en was net ’n marionet in die hande van die eerste minister, Eleftherios Venízelos.
In een belangrike saak het hy teen die wil van die eerste minister opgetree: Op 4 November 1919 het hy skelm getrou met Aspasia Manos, ’n gewone burgerlike en die dogter van kol. Petros Manos. Dit was ’n groot skandaal en Venizelos was woedend. Aspasia moes uit Athene vlug tot die krisis opgelos is en die huwelik wettig verklaar is. Sy was egter nooit koningin nie en slegs bekend as "Madame Manos". Die egpaar het Parys ses maande later besoek op voorwaarde dat hulle nie saam reis of saam by amptelike geleenthede opdaag nie.[1]
Alexander is op 27 jaar dood nadat ape sy hond op 2 Oktober 1920 tydens ’n wandeling aangeval het. Hy het die hond verdedig en is self gebyt.[2] Hy het infeksie opgedoen en binne dae ’n hewige reaksie ontwikkel. Op 12 Oktober het hy ernstig siek geword[3] en op 25 Oktober is hy in Athene dood.[4] Sy pa, Konstantyn, is gevra om terug te keer as koning.