Alphonse Daudet (Franse fonetiese uitspraak: dodɛ; 13 Mei1840 - 16 Desember1897) was 'n Franse romansier. Hy was getroud met Julia Daudet. Sy kinders was Edmée, Léon en Lucien. Verskeie kolleges en skole in hedendaagse Frankryk dra sy naam. Sy werke word steeds wyd gelees, met verskeie daarvan wat steeds in druk is.
Daudet is gebore in Nîmes, Frankryk.[1] Sy familie, aan beide vaders- en moederskant, het aan die bourgeoisie behoort. Sy vader Vincent Daudet was 'n syvervaardiger, maar is lewenslank geteister deur ongeluk en mislukking. Alphonse was lief vir stokkiesdraai en het 'n neerdrukkende jeug gehad. In 1856 verlaat hy Lyon, waar hy grotendeels skoolgegaan het, en begin sy loopbaan as skoolonderwyser te Alès, Gard, in die suide van Frankryk. Dié posisie was egter ondraaglik: Daudet het later gesê dat hy maande lank nadat hy Alès verlaat het met afgryse wakker sou word, denkende dat hy steeds onder sy weerbarstige leerlinge is. Hierdie ervarings en andere word weerspieël in sy roman Le Petit Chose
Op 1 November 1857 het hy die onderwys verlaat en by sy broer Ernest Daudet begin woon. Ernest was slegs sowat drie jaar ouer as hy, en het 'n onsekere bestaan gevoer as joernalis in Parys. Alphonse het die pen opgeneem, en sy gevolglike gedigte is versamel in 'n klein bundel, Les Amoureuses (1858), wat 'n goeie ontvangs gehad het. Hy het werk gekry by Le Figaro, wat destyds onder Hippolyte de Villemessant (Cartier de Villemessant) se energieke redakteurskap gestaan het, twee of drie toneelstukke geskryf, en mettertyd die erkenning geniet van die literêre establishment. Duc de Morny, Napoleon III se magtige minister, het hom as een van sy sekretarisse aangestel - 'n pos wat hy beklee het tot Morny se dood in 1865.
In 1866 het Daudet se Lettres de mon moulin, geskryf in Clamart naby Parys, en wat verwys na 'n windmeul in Fontvieille, Bouches-du-Rhône, Provence, die leserspubliek gaande gehad. Die eerste van sy langer werke, Le Petit Chose (1868), was egter nie besonder gewild nie. Dit is in hoofsaak die verhaal van sy vroeëre jare, en word op grasieuse en aangrypende wyse vertel. Die jaar 1872 het die beroemde Aventures prodigieuses de Tartarin de Tarascon en die driebedryf toneelstuk L'Arlésienne opgelewer. Sy Fromont jeune et Risler aîné (1874) het egter dadelik die wêreld gaande gehad. Dit het iets gebied wat beslis nie 'n nuwigheid in die Engelse letterkunde was nie, maar betreklik nuut was in die Franse letterkunde. Sy kreatiwiteit het gelei tot karakters wat eg en oortuigend was.
Jack, 'n roman oor 'n buite-egtelike kind; 'n martelaar vir sy ma se selfsug, wat in 1876 gevolg het, het slegs gedien om dieselfde indruk te verdiep. Sy loopbaan was voortaan dié van 'n suksesvolle skrywer van hoofsaaklik romans soos Le Nabab (1877), Les Rois en exil (1879), Numa Roumestan (1881), Sapho (1884) en L'Immortel (1888). Hy het ook op nostalgiese wyse geskryf vir die verhoog, soos in Trente ans de Paris (1887) en Souvenirs d'un homme de lettres (1888). Hierdie werke, saam met die drie Tartarins[2]-Tartarin de Tarascon, Tartarin sur les Alpes en Port-Tarascon en die kortverhale, wat grotendeels geskryf is voordat hy roem en bekendheid verwerf het, maak sy lewenswerk uit.
L'Immortel is 'n bittere aanval op die Académie française, waaraan Daudet nooit behoort het nie. Daudet het ook vir kinders geskryf, insluitend La Belle Nivernaise, die verhaal van 'n ou boot en haar bemanning. In 1867 trou Daudet met Julia Allard, skryfster van Impressions de nature et d'art (1879), L'Enfance d'une Parisienne (1883) en 'n paar literêre studies geskryf onder die skuilnaam "Karl Steen".
Daudet was nie 'n besonders getroue eggenoot nie, en was een van 'n generasie Franse literêre sifilislyers.[3] Daudet het sy maagdelikheid reeds op 12-jarige ouderdom verloor, en het tydens sy huwelik voortdurend saam met die minnaresse van sy vriende geslaap. Daudet sou verskeie pynlike behandelings en operasies ondergaan vir dié latere verlammende siekte. Sy joernaalinskrywings wat verband hou met die pyn wat hy as gevolg van tabes dorsalis[4] ervaar het, is versamel in die bundel La Doulou, wat in Engels vertaal is deur Julian Barnes as In The Land of Pain (2003). Daudet is op 16 Desember1897 in Parys oorlede, en is in dié stad se Père Lachaise-begraafplaas begrawe.
Die verhaal van Daudet se vroeëre jare word vertel in sy broer Ernest Daudet se Mon frère et moi. Daar is ook heelwat outobiografiese besonderhede in Daudet se Trente ans de Paris en Souvenirs d'un homme de lettres en ook in sy ander boeke. Verwysings na Daudet in die Journal des Goncourt is talryk.
↑Sachs, Murray (1966). "Alphonse Daudet's Tartarin Trilogy," The Modern Language Review, Vol. 61, No. 2, pp. 209–217.
↑"Alphonse Daudet's Illness," The British Medical Journal, Vol. 2, No. 3745, 1932, p. 722.
↑Naamlik, die latere simptome van neurosifilis, wat gekenmerk word deur die stadige degenerasie (spesifiek, demyelinisering) van die neurale bane, hoofsaaklik in die dorsale wortelganglia van die rugmurg (senuweewortel). Hierdie pasiënte ervaar pynlike senuweewortelpyn wat vererger word deur die voorkoms van hoesbuie, met kenmerke van sensoriese ataksie met okulêre betrokkenheid.
↑White, Nicholas (2001–2002). "Paternal Perspectives on Divorce in Alphonse Daudet's "Rose et Ninette" (1892)," Nineteenth-Century French Studies, Vol. 30, No. 1/2, pp. 131–147.