Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Litaue |
Administratiewe gewes | Alytus |
Koördinate | 54°24′N 24°2′O / 54.400°N 24.033°O |
Stigting (eerste verwysing) | 1377 |
Stadstatus | 1581 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 48 vk km |
Hoogte bo seevlak | 93 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2018) | 51 561 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 074/vk km |
Tydsone | EET (UTC +2) |
- Somertyd | EEST (UTC +3) |
Klimaat | |
- Tipe | Kontinentaal-gematig |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | - |
- Gem. temp. Januarie/Julie | - |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | - |
Burgemeester | Vytautas Grigaravičius |
Amptelike Webwerf | http://www.alytus.lt/ |
Alytus is die sesde grootste stad van Litaue met 'n oppervlakte van 40 vierkante kilometer en 'n bevolking van 51 561 in 2018. Die stad, wat 65 kilometer suid van Kaunas en 108 kilometer suidwes van Vilnius aan weerskante van die Nemunas-rivier geleë is, is 'n beduidende administratiewe en nywerheidsentrum in die suidelike etnografiese gewes Dzūkija en die hoofstad van die administratiewe gewes Alytus (Litaus: Alytaus apskritis).
Vanweë sy strategiese ligging was Alytus eeue lank 'n omstrede nedersetting wat in die gevegte tussen Litause magte en Duitse kruisridders sentraal gestaan het. Later het Pruise, Pole en Russe pogings onderneem om Alytus in te neem. Die burgheuwel (Piliakalnis) by die samevloeiing van die Alyputin- en die Nemunas-rivier dateer uit hierdie vroeë tydperk. Omstreeks 1340 was hier 'n vesting van vors Keštutis, Aliten, geleë.
Die eerste historiese verwysing na Alytus in 'n kroniek van Wigand von Marburg dateer uit die jaar 1377. In 1581 het Alytus stadstatus volgens die Maagdenburgse Reg verkry.
Aangesien die Nemunas-rivier in die geskiedenis dikwels 'n grenslyn gevorm het, was Alytus verskeie kere in twee helftes verdeel. Die eerste verdeling het uit 'n vredesooreenkoms tussen Litaue en die Duitse Ridderorde voortgespruit wat in 1422 gesluit is. In 1795 is die stad tussen Pruise en Rusland en in die tydperk voor die Tweede Wêreldoorlog tussen Pole en Litaue verdeel.
Alytus is deur die oorlogshandelinge grotendeels verwoes en onder die Sowjet-bewind herenig. Die Nemunas-brug tussen die twee stadsdele is in 1960 voltooi. Vandag staan Alytus onder meer as hoofkwartier van Litaue se leidende vervaardiger van vonkelwyn en ander alkoholiese dranke, Alita, bekend.
Alytus is vandag 'n beduidende nywerheidstad waar naas Alita en chemiese fabrieke ook die bekende Litause vervaardiger van koel- en vrieskaste, AB Snaigė (letterlik "Sneeuvlok"), sy hoofkwartier het. Die stad beskik daarnaas oor 'n aantal vakskole.