Amerikaanse draadhaarkat | ||||
Land | VSA | |||
Ontstaan | Mutasie | |||
Soort lyf | Gemiddeld/stewig | |||
Pels | Kort | |||
Patroon | Alle | |||
Wetenskaplike naam | ||||
Felis catus (huiskat) | ||||
|
Die Amerikaanse draadhaarkat (Engels: American wirehair) is ’n katras wat in die noorde van die Amerikaanse staat New York ontstaan het. Hoewel dit baie bekend is, is dit die seldsaamste van die Amerikaanse Cat Fanciers' Association (CFA) se 41 rasse.
Die Amerikaanse draadhaarkat is ’n spontane mutasie van die Amerikaanse korthaarkat.[1] Die eerste een wat sover bekend gebore is, was in 1966 in Vernon, New York. Dit was die enigste kat in ’n werpsel van vyf Amerikaanse korthaarkatjies wat draadagtige hare gehad het.[2] Die eienaar het ’n plaaslike teler van rex-katte, Joan O'Shea, gevra om na die mannetjieskat te gaan kyk. Sy het die kat en een van die wyfies met normale hare gekoop om ’n teelprogram te begin. Die mannetjie is Adam gedoop en die wyfie Tip-Top.
Die twee katte se kleintjies was draadhaarkatte[3] en van hulle is aan ander telers verkoop. Van die katte is later na Kanada uitgevoer, asook na Duitsland, waar hulle baie gewild was. In 1967 het die CFA hulle erken.
Amerikaanse draadhaarkatte lyk nes Amerikaanse korthaarkatte buiten die draadagtige pels.[3] Die hare is soortgelyk aan die hare van sekere hondrasse, soos terriërs. Hulle kan al die kleure wees wat gewoonlik by katte aangetref word, hoewel kleurpunte, sjokoladebruin en lila nie vir kompetisies aanvaar word nie. Die draadhaar-eienskap is dominant en enige kleintjies van ’n draadhaar- en ’n ander kat sal draadhaarkatte wees. Draadhaarkatte het goue oë, behalwe sommige wittes wat blou of amber oë het.[4]
Die gedragspatroon van die katte stem ook ooreen met dié van Amerikaanse korthaarkatte. Die meeste verkies om binnenshuis te bly.[5]