Amoksisillien is 'n antibiotikum wat gebruik word vir die behandeling van 'n aantal bakteriële infeksies. Dit sluit onder meer middeloorinfeksie, keelontsteking, longontsteking, velinfeksies en urienweginfeksies in. Dit word gewoonlik per mond geneem, of minder gereeld deur inspuiting.[1][2]
Algemene newe-effekte sluit in naarheid, maagongemak en uitslag.[1] Dit kan ook die risiko van swaminfeksies verhoog en diarree as dit in kombinasie met klavulaansuur gebruik word. Dit moet nie gebruik word by diegene wat allergies is vir penisillien nie. Alhoewel dit bruikbaar is vir mense met nierprobleme, moet die dosis liefs verminder word. Die gebruik daarvan tydens swangerskap en borsvoeding blyk nie skadelik te wees nie. Amoksisillien is 'n lid van die beta-laktamfamilie van antibiotika.
Amoksisillien is een van die semisintetiese penisilliene wat deur Beecham-wetenskaplikes in 1958 ontdek is, en word sedert 1972 medies gebruik.[3][4] Dit is op die Wêreldgesondheidsorganisasie se lys van noodsaaklike medisyne. Dit is een van die mees voorgeskrewe antibiotika, ook by kinders.[5]
Die patentreg op amoksisillien het lank reeds verval, dus word amoksisillien- en ko-amoksiklavpreparate regoor die wêreld onder verskillende handelsname (sg. "generiese medisyne") bemark.[1][6] In 2018 was dit die sewentiende meeste voorgeskrewe medisyne in die Verenigde State, met meer as 31 miljoen voorskrifte.[7][8]
Amoksisillien word gebruik vir die behandeling van 'n aantal infeksies, insluitend akute otitis media, streptokokkale faringitis, longontsteking, velinfeksies, urienweginfeksies, Salmonella-infeksies, Lyme-siekte en chlamydia-infeksies.[1][9]
Kinders met akute otitis media wat jonger as 6 maande is, word gewoonlik met amoksisillien of ander antibiotika behandel. Alhoewel die meeste kinders met akute otitis media wat ouer as twee jaar oud is, nie baat vind by behandeling met amoksisillien of ander antibiotika nie, kan sulke behandeling nuttig wees vir kinders jonger as twee jaar met akute otitis media wat bilateraal is of gepaard gaan met oordreinering. In die verlede is amoksisillien drie keer per dag toegedien vir die behandeling van akute otitis media, wat gelei het tot gemisde dosisse. Daar is nou bewyse dat dosering een- of tweekeer per dag dieselfde effektiwiteit toon.
Amoksisillien en amoksisillien-klavulanaat word deur die riglyne aanbeveel as die middel van keuse vir bakteriese sinusitis en ander asemhalingsinfeksies.[9] Die meeste sinusitis-infeksies word veroorsaak deur virusse, waarvoor amoksisillien en amoksisillien-klavulanaat ondoeltreffend is, en die klein voordeel wat met amoksisillien verkry word, kan deur die nadelige gevolge oorheers word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel amoksisillien aan as eerstelinie behandeling vir longontsteking wat nie te ernstig is nie. Amoksisillien word gebruik na blootstelling aan ingeasemde antraks (miltsiekte) om siekteprogressie te halt en as voorkoming teen die siekte.
Dit is effektief as een bestanddeel van 'n multi-geneesmiddelregime vir die behandeling van maaginfeksies weens Helicobacter pylori. Dit word gewoonlik gekombineer met 'n protonpompremmer (soos omeprasool) en 'n makrolied-antibiotika (soos klaritromisien).
Amoksisillien word soms gebruik vir die behandeling van velinfeksies.[9][10] Dit is dikwels 'n effektiewe behandeling vir gevalle van aknee vulgaris wat swak gereageer het met ander antibiotika, soos doksisiklien en minosiklien.[11]
Amoksisillien word ook gebruik om bakteriële endokarditis te voorkom en as 'n pynstiller by mense met 'n hoë risiko wat tandheelkundige werk laat doen, om Streptococcus pneumoniae-infeksies te voorkom. In die Verenigde Koninkryk word die gebruik daarvan aanbeveel as endokarditis-infeksieprofilakse.[12]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |