Amy Kleinhans-Curd | ||
Gebore | 12 Julie 1968 | |
Plek | Worcester, Suid-Afrika[1] | |
Nasionaliteit | Suid-Afrikaans | |
Geboortenaam | Amy Hope Kleinhans | |
Beroep | Onderwyseres, model, sakevrou | |
Alma mater | Universiteit van Kaapstad | |
Loopbaan | ||
Titel(s) | Mej. Suid-Afrika 1992 | |
Haarkleur | Swart | |
Oogkleur | Bruin | |
Lengte | 1,73 m | |
Persoonlike gegewens | ||
Gade | Leighton Curd | |
Kinders | Vier |
Amy Kleinhans-Curd (* 12 Julie 1968 op Worcester) is ’n Suid-Afrikaanse skoonheidskoningin wat in 1992 die Mej. Suid-Afrika-kroon gewen het.[2] Dié destydse onderwyseres was die eerste nie-wit wenner van die titel in die land se geskiedenis. Sy het by die Mej. Wêreldkompetisie op 12 Desember 1992 onder die topvyf geëindig. Amy is sedert 2023 ook deel van die werklikheidsreeks Die Real Housewives van die Wynlande op KykNET.
Amy het in 1991 as 23-jarige bruin vrou die eerste keer aan die Mej. SA-kompetisie deelgeneem en tweede gekom. Sy het die volgende jaar weer deelgeneem en 11 ander deelnemers uitgestof om die eerste nie-wit Mej. Suid-Afrika te word.[2] Haar eerste prinses was ook nie-wit: die swart Augustine Masilela van Soweto wat later by die Mej. Heelal-kompetisie onder die toptien geëindig het.
’n Jaar later het Amy haar opvolger gekroon: Jacqui Mofokeng, die eerste swart en slegs tweede nie-wit Mej. Suid-Afrika.[3]
Op 12 Desember by die Mej. Wêreld-kompetisie by Sun City, Suid-Afrika, is sy gekroon as Mej. Wêreld Afrika en het sy die topvyf gehaal. Die wenner was Julia Kourotchkina van Rusland.
Tydens die seremonie het deelnemers met hul land se vlag geparadeer. Amy het geweier om die vlag van die destydse apartheid-Suid-Afrika te dra en het eerder ’n wit vlag vasgehou wat vrede gesimboliseer het. Ná die tyd het sy ’n oproep van Nelson Mandela ontvang waarin hy haar vir dié besluit geprys het.[4]
Amy is deesdae ook sakevrou en is getroud met die Nieu-Seelandse sakeman Leighton Curd. Hulle het vier kinders.
In 2023 sluit Amy aan by die werklikheidsreeks Die Real Housewives van die Wynlande, wat op kykNET uitgesaai word.
Voorafgegaan deur Diana Tilden-Davis |
Mej. Suid-Afrika 1992 |
Opgevolg deur Jacqui Mofokeng |