André Alphons Lefevere (België, 19 Junie 1945 – VSA, 27 Maart 1996) was ’n vertaalteoretikus. Hy het aan die Universiteit van Gent studeer (1964–1968) en daarna, in 1972, sy doktorsgraad behaal aan die Universiteit van Essex. By sy afsterwe was hy professor in Germaanse studies aan die Universiteit van Texas in Austin.[1]
Sy belangrikste bydrae is op die gebied van vergelykende literatuurstudies en vertaalstudies in die besonder. Hy het gebruik gemaak van die gedagte van polisisteemteoretici soos Itamar Even-Zohar en het die teorie uiteengesit dat vertaling ’n vorm van herskryf is wat geproduseer en gelees word saam met ’n stel idiologiese en politiese beperkings in die teikentaal se kultuurstelsel. Lefevere het die idee ontwikkel dat vertaling ’n vorm van herskryf is, wat beteken dat enige teks wat op grond van die ander geproduseer word, die oogmerk het om die ander teks aan te pas by ’n sekere ideologie of by ’n sekere poëtiek, en gewoonlik by albei.
Lefevere, saam met Gideon Toury, James Holmes en Jose Lambert, kan gereken word onder die voorste geleerdes wat van vertaalstudies ’n outonome studieveld gemaak het. Saam met Susan Bassnett het hy verwag dat "nóg die woord nóg die teks, maar die kultuur die operasionele ‘eenheid’ van vertaling word". Dit is deur Edwin Gentzler, een van die voorste sintetiseerders van vertaalteorie geprys as ’n "ware deurbraak vir die veld van vertaalstudies". Dit is die hoogtepunt van wat as "die bereiking van volwassenheid" van die studieveld genoem kan word; ’n toenemende interkulturele of veelkulturele neiging wat die postkoloniale wending genoem kan word.[2]