Die Antieke Egiptiese rassedebat het ontstaan uit die historiese vraag oor van watter ras antieke Egiptenare was. Dit is geopper as 'n produk van die vroeë begrippe oor ras van die 18de en 19de eeu. 'n Paar menings is gehandhaaf oor die rasse-identiteit van die Egiptenare en die bron van hulle kultuur.[5]
Sommige geleerdes het gereken die antieke Egiptiese kultuur is beïnvloed deur ander Afro-Asiatiessprekende bevolkings in Noord-Afrika, die Horing van Afrika of die Midde-Ooste, terwyl ander gewys het op invloede van verskeie Nubiese bevolkingsgroepe in Europa.
In onlangser tye bevraagteken sommige skrywers steeds die hoofstroomsiening, veral wat betref die ras van spesifieke individue soos die koning wat die Groot Sfinks van Giza verteenwoordig, die inheemse koning van die 18de Dinastie farao Toetankamen, koningin Tije en die Grieks-Ptolemeïese koningin Cleopatra VII.
Die meeste geleerdes weier vandag om te aanvaar Egipte was 'n wit of swart beskawing; hulle glo 'n mens kan nie moderne idees van ras op antieke Egiptenare van toepassing maak nie.[6][7][8] Net so verwerp geleerdes die idee dat antieke Egiptenare 'n homogene ras was; hulle glo die velkleur het gewissel tussen die volke van Benede-Egipte, Bo-Egipte en Nubië, wat antieke Egipte in verskillende tydperke oorheers het. In die Egiptiese geskiedenis het die demografie nie groot veranderings ondergaan nie, ondanks verskeie buitelandse verowerings.[9][10][11]
In die 18de eeu het die Franse filosoof en voorstander vir die afskaffing van slawerny, Constantin François de Chassebœuf, comte de Volney, in 'n stel kommentare oor die ras van die antieke Egiptenare geskryf "die Kopte is die werklike verteenwoordigers van die antieke Egiptenare vanweë hulle geel en berookte vel, wat nie Grieks of Arabies is nie, hulle vol gesigte, pofferige oë, plat neuse en hulle dik lippe... die antieke Egiptenare was ware Negers,[nota 1] van dieselfde tipe as alle inheems gebore Afrikane".[12]
Volney het ook gesê die Sfinks het hom die sleutel tot die raaisel gegee oor hoekom al die Egiptenare wat hy oor die hele land sien, "'n opgeblase gesig, pofferige oë, plat neuse en dik lippe het – kortom, die ware gesig van 'n mulatto". Hy skryf hy wou dit aan die klimaat toeskryf, maar toe hy die Sfinks besoek, het die voorkoms van die beeld hom die antwoord gegee; "toe ek daardie kop sien, tipies Neger in al sy gelaatstrekke".[13] Volney het dit beskou as "die ware antwoord op die enigma". Hy gaan voort deur te sê "die Kopte is 'ware Negers' van dieselfde ras as alle outogtone (inheemse) volke van Afrika", en hulle "moes ná 'n paar eeue van mengery... die volle swartheid van hulle oorspronklike kleur verloor het".[14] Jacques Joseph Champollion-Figeac het Volney en sy gevolgtrekkings gekritiseer en gesê dit is "ontoelaatbaar".[15]
Die vooraanstaande Franse wetenskaplike van die 18de eeu Georges Cuvier het gedink die Egiptenare is wit. Toe die disseksie en eerste wetenskaplike lykskouing van 'n antieke Egiptiese mummie in 1825 deur die Italiaanse geneesheer Augustus Granville uitgevoer is, het Granville hom by Cuvier geskaar.[16]
In 1839 het die Franse filoloog Jean-François Champollion voorgestel: "In die Kopte van Egipte vind ons nie enige van die gelaatstrekke van die antieke Egiptiese bevolking nie. Die Kopte is die resultaat van kruisteling met al die nasies wat Egipte suksesvol oorheers het. Dit is verkeerd om in hulle die hoofgelaatstrekke van die ou ras te soek."[17]
In 1839 het Jacques Joseph Champollion-Figeac beide Champollion en Volney se bewerings betwis en gesê 'n misverstand van die antieke Egiptenare is verwantwoordelik vir die verspreiding van die valse indruk van 'n Neger-Egipte. "Die twee fisieke eienskappe swart vel en kroeshare is nie genoeg om 'n ras as Negers te bestempel nie."[14]:26[15]
Die dabat oor die ras van die antieke Egiptenare het intensiewer geraak tydens die 19de-eeuse beweging om slawerny in die VSA af te skaf, omdat argumente vir die regverdiging van slawerny al hoe meer gegaan het oor die beweerde historiese, geestelike en fisieke minderwaardigheid van swart mense.[18] In 1851 het John Campbell byvoorbeeld die bewerings van Champollion en ander dat Egipte swart was, regstreeks weerspreek en gesê: "Daar is een groot probleem, en in my oë 'n onoorkombare een, waarvoor die voorstanders van die Negerbeskawing van Egipte nie voorsiening probeer maak nie, en dit is hoe dié beskawing verlore gegaan het... Egipte het vooruitgegaan, en hoekom? Omdat hulle wit was."[19] Argumente oor die ras van die Egiptenare is al hoe meer verbind met die debat oor slawerny in die VSA, terwyl spanning algaande gelei het tot die Amerikaanse Burgeroorlog.[20]
Vandag is kwessies oor die ras van die antieke Egiptenare "troebel waters wat die meeste mense wat hoofstroomgeskrifte oor antieke Egipte skryf, vermy."[21] Die debat vind daarom hoofsaaklik in die openbare sfeer plaas en is geneig om op 'n paar spesifieke sake te fokus.
Verskeie geleerdes, insluitende die Senegalese geskiedkundige Cheikh Anta Diop, het al beweer Toetankamen was swart en het beswaar gemaak daarteen dat pogings om sy gelaatstrekke te herkonstrueer (soos uitgebeeld op die voorblad van National Geographic) hom "te wit" laat lyk het. Nog 'n skrywer was die Amerikaanse geskiedkundige Chancellor Williams, wat gesê het koning Toetankamen, sy ouers en sy grootouers was swart.[22]
Forensiese kunstenaars en fisieke antropoloë van Egipte, Frankryk en Amerika het onafhanklik van mekaar borsbeelde van Toetankamen gemaak, geskoei op CT-skanderings van die kopbeen. Die biologiese antropoloog Susan Anton, die leier van die Amerikaanse span, het gesê dit is moeilik om af te lei wat sy ras was. Die harsingsholte dui daarop dat hy 'n Afrikaan was, terwyl die neusopeninge dui op smal neusvleuels, wat gewoonlik beskou word as 'n wit gelaatstrek. Daar is dus besluit die skedel is dié van 'n Noord-Afrikaan.[23] Ander geleerdes het gemeen nie een van die twee eienskappe is 'n betroubare aanduiding van ras nie.[24]
Hoewel Toetankamen se gelaatstrekke danksy moderne tegnologie baie akkuraat herbou kan word, geskoei op CT-skanderings van sy mummie,[25][26] is dit onmoontlik om sy velkeur en die kleur van sy oë te bepaal. Die kleimodel van National Geographic het dus 'n kleur gekry wat, volgens die kunstenaar, geskoei is op 'n "gemiddelde skakering van moderne Egiptenare".[27]
Terry Garcia van National Geographic het in reaksie op kritiek teen die tydskrif se rekonstruksie gesê:
Die groot veranderlike is velskakering. Ons weet vandag Noord-Afrikane het 'n reeks velskakerings gehad, van lig tot donker. In dié geval het ons 'n middelmatige skakering gekies... Ons sal nooit vir seker weet wat sy presiese velkleur of die kleur van sy oë was nie... Mense sal dalk in die toekoms tot 'n ander gevolgtrekking kom.[28]
Toe Amerikaanse aktiviste in September 2007 druk oor die saak uitoefen op die sekretaris-generaal van die Egiptiese Opperraad vir Antiekhede, Zahi Hawass, het hy gesê: "Toetankamen was nie swart nie."[29]
Volgens die historikus William Stiebling en argeoloog Susan N. Helft het botsende DNS-ontledings deur verskillende navorsingspanne op antieke Egiptiese mummies, insluitende die oorskot van Toetankamen, gelei tot 'n gebrek een konsensus oor die genetiese samestelling van antieke Egiptenare en hulle geografiese herkoms.[30]
Daar was ook al 'n debat oor die ras en velkleur van Cleopatra VII, die laaste aktiewe Masedonies-Griekse heerser van die Ptolemeïese dinastie van Egipte, wat in 323 v.C. gestig is,[31] hoewel gewoonlik nie onder geleerdes nie.[32] Die artikel "Was Cleopatra Black?" is byvoorbeeld in 2012 in die Amerikaanse tydskrif Ebony gepubliseer,[33] en 'n artikel oor Afrosentrisme in die St. Louis Post-Dispatch vra ook die vraag.[34]
Mary Lefkowitz, 'n emiritus professor in klassieke studies, het die oorsprong van die swart Cleopatra teruggespeur na 'n bewering in die boek van 1946 World's Great Men of Color, deur J.A. Rogers, maar merk op die idee kom reeds van minstens die 19de eeu af.[35][36]
Lefkowitz verwerp Rogers se hipotese op grond van verskeie redes. Geleerdes het gereken Cleopatra was in wese Grieks met 'n bietjie Persiese en Sogdies-Iranse bloed, geskoei op die feit dat haar Mesedonies-Griekse familie vermeng het met die Seleukidiese aristokrasie van die tyd. Michael Grant het verklaar Cleopatra het waarskynlik nie 'n druppel Egiptiese bloed gehad nie en "sou haarself as Grieks beskryf het".[37] Duane W. Roller meen daar is "absoluut geen bewyse" dat Cleopatra swart was nie,[32] hoewel hy dink sy was omtrent 'n kwart Egipties.[38]
Cleopatra se amptelike muntstukke (wat sy sou goedgekeur het) en die drie portretborsbeelde van haar wat nou in die Altes Museum in Berlyn is en wat geleerdes as eg beskou, stem almal ooreen en beeld Cleopatra as 'n Griekse vrou uit.[39][40][41][42][43]
Die identiteit van die model vir die Groot Sfinks van Giza is onbekend.[44] Die meeste kenners[45] dink die gesig is 'n uitbeelding van dié van farao Chafra, hoewel ander verskillende teorieë voorstaan.
'n Vroeë beskrywing van die Sfinks, "tipies Neger in al sy gelaatstrekke", is aangeteken in die reisbeskrywings van Volney, wat Egipte tussen 1783 en 1785 besoek het[46] saam met die Franse romanskrywer Gustave Flaubert.[47] 'n Soortgelyke beskrywing kom voor in 'n boek[48] deur die Franse skrywer Vivant Denon waarin hy die Sfinks soos volg beskryf: "Die karakter is dié van 'n Afrikaan; buiten die mond, waarvan die lippe dik is."[49] Ná Volney, Denon en ander vroeë skrywers het talle Afrosentristiese geleerdes, soos W.E.B. du Bois,[50][51] Cheikh Anta Diop[52] en Molefi Kete Asante,[53] die Sfinks se besig as swart, of "Negeragtig", beskryf.
Die Amerikaanse geoloog Robert M. Schoch het geskryf die Sfinks "het 'n eiesoortige Afrika-, Nubiese of Negeragtige aspek wat ontbreek in die gesig van Chafra".[54] Ander het Schoch egter beskryf as 'n "skynwetenskapskrywer".[55][56]
km as simbool | kmt (plek) | kmt (mense) | |||||||||
|
|
|
Antieke Egiptenare het na hulle land verwys as kmt, wat konvensioneel as Kemet uitgespreek word. Volgens Cheikh Anta Diop het die Egiptenare na hulleself as "swart" mense, of kmt, verwys. Die etimologiese wortel is km, wat ook in ander woorde voorkom, soos Gam, wat in die Hebreeuse tradisie na swart mense verwys.[14]:27[57] In 'n resensie van David Goldenberg se The Curse of Ham: Race and Slavery in Early Judaism, Christianity and Islam word gesê Goldenberg "argumenteer oortuigend dat die Bybelse naam Gam geen verband het met die idee van swartheid nie en dat die etimologie van die naam onbekend is".[58] Diop,[59] William Leo Hansberry[59] en Aboubacry Moussa Lam[60] meen die naam kmt is afgelei van die velkleur van die mense van die Nylriviervallei, wat Diop beweer swart was.[14]:21, 26
By die Unesco-simposium in 1974 het Sauneron, Obenga en Diop tot die gevolgtrekking gekom kmt en km beteken swart.[14]:40 Sauneron het egter duidelik gemaak die selfstandige naamwoord kmtyw beteken "mense van die swart land", eeder as "swart mense". Volgens hom het die Egiptenare nooit kmtyw vir ander swart volke gebruik nie; net om na hulleself te verwys.[61]
Hoofstroomgeleerdes glo kmt beteken die "swart land" of die "swart plek" en dat dit verwys na die vrugbare swart grond wat van Sentraal-Afrika af gespoel is wanneer die Nyl elke jaar oorstroom het. In teenstelling daarmee is die woestyngebied buite die Nyl se opvanggebied dšrt (deshret), of die "rooi land", genoem.[59][62]
Antieke Egiptiese grafkelders en tempels bevat duisende skilderye, beelde en geskrewe werk wat baie vertel van die mense van dié tyd. Die uitbeeldings van hulleself in hulle kuns en op artefakte wat bewaar gebly het, is soms simbolies, eerder as realisties. Daarom verskaf Egiptiese artefakte soms botsende en onsekere bewyse van die etnisiteit van die mense wat in dinastiese tye in Egipte gewoon het.[64][65]
In hulle eie kuns "word Egiptenare dikwels verteenwoordig in 'n kleur wat amptelik donkerrooi genoem word", volgens Diop.[66] Ondanks ander teorieë, haal Diop vir Champollion-Figeac aan wat sê: "'n Mens onderskei op Egiptiese monumente verskeie spesies swartes, wat wissel... met betrekking tot kleur en wat Negers swart of koperkleurig maak."[67]
Geleerdes van die Universiteit van Chicago meen Nubiërs word gewoonlik met swart verf uitgebeeld, maar die pigmentkleur op Egiptiese skilderye wat na Nubiërs verwys, kan wissel "van donkerrooi tot bruin tot swart".[68] Dit kan gesien word in skilderye uit die grafkelder van die Egiptiese Hoei, sowel as die tempel van Ramses II by Beit el-Wali.[69]
Stuart Tyson Smith, 'n Egiptoloog en professor in antropologie aan die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, skryf in 2001: "Die toneel van 'n ekspedisie na Poent in koningin Hatsjepsoeis se grafkelder by Deir el-Bahri wys die mans van Poent met 'n rooi vel en gelaatstrekke soortgelyk aan dié van Egiptenare, met lang hare, bokbaarde en kilts".[70]
Najovits skryf weer in 2003: "Egiptiese kuns beeld Egiptenare aan die een kant en Nubiërs en ander swartes aan die ander kant uit met verskillende etniese karaktertrekke. Die Egiptenare het van 'n vroeë stadium in hulle kuns en letterkunde op 'n akkurate, aggressiewe manier 'n nasionale en etniese onderskeid geskep."[71] Volgens hom is daar talle voorbeelde van "rooibruin Egiptenare en swart Nubiërs".[71]
In 2003 het David O'Connor en Andrew Reid opgemerk "mans van Poent en Egipte het dieselfde rooierige velle, maar Nubiërs het gewoonlik donkerder velle, en Libiërs het meestal ligte, gelerige velle. Mans van Nubië en Poent is aanvanklik met 'n soortgelyke voorkoms en kleredrag uitgebeeld (kort linnekilts), maar teen omstreeks 1400 v.C. het hulle baie verskillend gelyk."[72]
Barbara Mertz skryf in 2011 in Red Land, Black Land: Daily Life in Ancient Egypt: "Die begrip van ras sou vir hulle heeltemal vreemd gewees het... Die kleur wat hulle vir mans se velle gebruik het, is 'n rooibruin. Vrou is met 'n ligter gelaat uitgebeeld,[73] dalk omdat hulle nie so baie tyd in die buitelug deurgebring het nie. Sommige individue word met swart velle uitgebeeld. Ek kan nie 'n enkele voorbeeld van die woorde 'swart', 'bruin' of 'wit' onthou wat in Egiptiese geskrifte gebruik is om 'n persoon te beskryf nie."
Van die tweede helfte van die 20ste eeu af het wetenskaplikes toenemend tipologiese en hiërargiese modelle van ras verwerp. Die meeste geleerdes is van mening dat dit verkeerd is om moderne idees oor ras op die antieke Egiptenare van toepassing te maak.[74][75][76]
Die huidige posisie van moderne geleerdes is dat die Egiptiese beskawing 'n inheemse Nylvallei-ontwikkeling was.[77][78][79][80] Op die Unesco-simposium van 1974 het verskeie deelnemers tot die gevolgtrekking gekom dat die Antieke Egiptiese beskawing inheems aan die Nylvallei was en bestaan het uit mense van noord en suid van die Sahara wie se velkleure verskil het.[81][82]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)