Arthur Grumiaux | |
---|---|
Arthur Grumiaux in 1965 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Arthur Grumiaux |
Gebore | Villers-Perwin, België | 21 Maart 1921
Sterf | 16 Oktober 1986 (op 65) Brussel, België |
Beroep(e) | Violis |
Baron Arthur Grumiaux (21 Maart 1921 – 16 Oktober 1986) was 'n Belgiese violis.
Grumiaux is op 21 Maart 1921 gebore in die Belgiese dorpie Villers-Perwin,[1] Grumiaux was slegs drie jaar oud toe sy oupa hom begin aanmoedig het om die studie van musiek op te neem. Hy het op 6-jarige ouderdom ingeskryf aan die Konservatorium in Charleroi; terwyl die normale ouderdom vir intrede 11 was. Hy het tot 11-jarige ouderdom die viool en klavier gestudeer, waarna hy gegradueer het en aanbeweeg het na die Koninklike Konservatorium in Brussel om die viool te studeer.[2]
Daar is bespiegel dat hy sy debuut in Brussel op 14-jarige ouderdom gemaak het,[2] of in 1935,[1] alhoewel daar oor die algemeen aanvaar word dat hy sy buiging in 1940 gemaak het.[3][4][5] Laasgenoemde opvoering het in België plaasgevind saam met die Brusselse Filharmoniese Orkes, en Grumiaux het Mendelssohn se Concerto gespeel.[4]
As gevolg van die Duitse inval van België het hy eers weer in die openbaar gespeel na die bevryding van Europa in 1945, saam met die ENSA (die Geallieerde militêre vermaaklikheidorganisasie),[6][7] in sy Londense buiging daardie jaar.[3][4]
In 1949 is hy aangestel as professor van viool aan die Brusselse Konservatorium, waar hy vantevore studeer het.[3][8] Sy debuut in die Verenigde State was in Boston in 1951, en die volgende jaar het hy deur die VSA getoer.[6][9]
In 1973 is hy op grond van sy dienste aan musiek deur die koning van België tot die adelstand verhef, met die titel van baron.[8]
Hy het in 1986 op die ouderdom van 65 in Brussel aan 'n Beroerte beswyk.[1]
Grumiaux het 'n lang en vrugbare verhouding met die Philips Plate-etiket gehad (meer as 20 jaar). Opnames op die plate-etiket sluit werke deur Händel, Bach, Vivaldi, Michael Haydn, Schubert, Mendelssohn, Bruch, Tsjaikofski, Wieniawski en Johan Svendsen in.[10][11]
Grumiaux se opname van die Gavotte en rondeaux uit Bach se Partita no. 3 vir solo viool is ingesluit op die Voyager Goue Plaat, wat aan boord van Voyager 1 en Voyager 2 geplaas is toe hulle in 1977 gelanseer is as voorbeeld van kultuur op Aarde.[12]
Hy het 'n Guarneri (die "Rose", gemaak deur Giuseppe Guarneri in 1744)[13] en 'n Stradivarius, die "General Dupont", wat in 1727 gemaak is, besit.[14]
Die Internasionale Grumiaux-kompetisie vir Jong Violiste word jaarliks gehou en vind plaas by die Koninklike Konservatorium van Brussel in België.[15][16]
Dit is die eerste keer in 2008 gehou onder die naam Bravo.[17] In 2015 is die kompetisie na Arthur Grumiaux hernoem.[18] Dit staan tans bekend as die Concours International Grumiaux pour Jeunes Violonistes (Internasionale Grumiaux-kompetisie vir Jong Violiste).[19]