Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word. |
Aspirien | |
---|---|
Chemie | |
Chemiese formule | C9H8O4 |
Molêre massa | 180.157 g/mol |
Voorkoms | wit, kristallyn |
CAS-nommer | 50-78-2 |
Farmakokinetika | |
Biobeskikbaarheid | Vinnig en volledig geabsorbeer |
Proteïengebonde | 99.6% |
Metabolisme | Lewer |
Uitskeiding | Niere |
Halfleeftyd | 3.1 tot 5 uur |
Aspirien, ook bekend as asetielsalisielsuur, is 'n salisilaatgeneesmiddel, wat dikwels gebruik word as 'n pynstiller om ligte tot matige pyn te verlig, of as koorswerende of anti-inflammatoriese medikasie. Die aktiewe bestanddeel van Aspirien is die eerste keer in 1763 in die bas van die wilgerboom ontdek deur Edward Stone van Wadham Kollege, Oxford Universiteit. Hy het salisielsuur, die aktiewe metaboliet van aspirien ontdek.[1] Aspirien is die eerste keer in 1897 vervaardig deur Felix Hoffmann, 'n chemikus wat vir die Duitse maatskappy Bayer gewerk het.[2]
Aspirien het ook 'n uitwerking op bloed se plaatjiekleefbaarheid, deur die produksie van tromboksaan. Onder normale omstandighede bind plaatjiemolekules saam met fibrinogeen in stukkies om beskadigde wande van bloedvate te herstel, bv. wanneer 'n mens 'n skrapie opdoen wat effens bloei. Omdat die plaatjieklont te groot kan word en bloedvloei verminder of afsny, word aspirien teen 'n lae dosis op langtermyn gebruik. Dit help om hartaanvalle, beroertes, en bloedklontvorming te voorkom in pasiëte met 'n hoë risiko vir die ontwikkeling van hartvatsiekte en bloedklonte. Daar is ook vasgestel dat lae dosisse van aspirien gegee kan word onmiddellik ná 'n hartaanval om die risiko van nog 'n hartaanval of die afsterwe van hartweefsel te verminder.[3] Aspirien kan effektief wees by die voorkoming van sekere vorme van kanker, veral kolorektale kanker.[4][5][6]
Die belangrikste ongewenste newe-effekte van aspirien mondelings geneem, is maagsere, maagbloeding, en tinnitus, veral teen hoë dosisse. In kinders en tieners word aspirien nie meer aangedui vir griepagtige simptome of om die simptome van waterpokkies of ander virale siektes te beheer nie, as gevolg van die gevaarrisiko van Reye se sindroom.[7]
Aspirien is deel van 'n groep van medisyne genoem nie-steroïdale anti-inflammatoriese middels (NSAIMs), maar verskil van die meeste ander NSAIMs in die meganisme van aksie. Ander salisilate het soortgelyke effekte (koorswerend, anti-inflammatories, pynverligting) maar aspirien werk op 'n onomkeerbare wyse en, in teenstelling met ander, beïnvloed meer die COX-1 as die COX-2 variant van die ensiem.[8]
Vandag is aspirien een van die mees gebruikte medisynes in die wêreld, met 'n geskatte 40 000 ton wat elke jaar verbruik word.[9] In lande waar Aspirien 'n geregistreerde handelsmerk is, besit deur Bayer, word die generiese naam asetielsalisielsuur vir die medisyne algemeen gebruik.[10]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |