Astrobiologie is die studie van die oorsprong, evolusie, verspreiding en toekoms van lewe in die heelal: aardse sowel as buiteaardse lewe. Dit omsluit die soeke na bewoonbare omgewings in die Sonnestelsel en op eksoplanete (planete buite die Sonnestelsel), en na bewyse van prebiotiese chemie; laboratorium- en veldnavorsing oor die oorsprong en vroeë evolusie van lewe op Aarde; en studies oor die moontlike aanpassing van lewe by uitdagings op Aarde en in die buitenste ruim.[2] Dit ondersoek die kwessie of lewe buite die Aarde bestaan en hoe die mens dit kan opspoor as dit wel bestaan.[3] Die term eksobiologie is soortgelyk, maar meer spesifiek – dit handel oor die soeke na lewe buite die Aarde en die uitwerking van buiteaardse omgewings op lewende organismes.[4]
Astrobiologie maak gebruik van fisika, chemie, sterrekunde, biologie, ekologie, planetêre wetenskap, geografie en geologie om die moontlikheid van lewe in ander wêrelde te ondersoek en biosfere te help identifiseer wat moontlik anders as die biosfeer op Aarde is.[5][6] Dit gaan ook oor die ontleding van bestaande wetenskaplike data; meer gedetailleerde en betroubare data van ander dele van die heelal kan die basis uitdaag van fisika, chemie en biologie – die hoekstene van astrobiologie self. Hoewel bespiegelings soms gebruik word om dinge in die regte verband te bring, het astrobiologie hoofsaaklik te doen met hipoteses wat stewig binne bestaande wetenskaplike teorieë pas.
Die enigste bekende lewe bestaan op Aarde.[7][8] Onlangse wetenskaplike navorsing het egter basiese aannames oor die moontlikheid van lewe in die heelal verander en die raming van die getal bewoonbare sones om ander sterre laat styg.[9][10] Saam met die ontdekking van honderde eksoplanete en nuwe insig in die ekstreme habitats hier op Aarde, dui dit daarop dat daar nog baie bewoonbare plekke in die heelal kan wees. Op 4 November 2013 het sterrekundiges op grond van data van die Kepler-ruimtesending berig daar kan tot 40 miljard aardgrootte planete in die bewoonbare sone van sonagtige sterre en rooidwerge in die Melkweg wees[11][12] – van hulle kan 11 miljard om sonagtige sterre voorkom.[13] Die naaste sodanige planeet kan volgens die wetenskaplikes minder as 12 ligjare van die Aarde af wees.[11][12]
Daar is al voorgestel dat virusse moontlik op ander planete aangetref kan word.[14] Pogings om huidige of voormalige lewe op Mars te ontdek is ’n aktiewe navorsingsterrein. Op 24 Januarie 2014 het Nasa aangekondig huidige studies op die planeet deur die verkenningstuie Curiosity en Opportunity sal nou soek na bewyse van antieke lewe.[15][16] Die soeke na bewyse van bewoonbaarheid, tafonomie (verwant aan fossiele) en organiese koolstof op Mars is nou ’n primêre mikpunt van Nasa.[15]
↑"About Astrobiology". NASA Astrobiology Institute (in Engels). Nasa. 21 Januarie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2008. Besoek op 20 Oktober 2008.
↑Altermann, Wladyslaw (2008). "From Fossils to Astrobiology – A Roadmap to Fata Morgana?". From Fossils to Astrobiology: Records of Life on Earth and the Search for Extraterrestrial Biosignatures. Vol. 12. p. xvii. ISBN1-4020-8836-1. {{cite book}}: Onbekende parameter |editors= geïgnoreer (hulp)
↑Horneck, Gerda; Petra Rettberg (2007). Complete Course in Astrobiology. Wiley-VCH. ISBN3-527-40660-3.
↑Davies, Paul (18 November 2013). "Are We Alone in the Universe?". New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2019. Besoek op 20 November 2013.