Atman (Sanskrit: आत्मन्) beteken die innerlike self, gees of siel.[1][2] In Hindoefilosofie, veral die Vedanta-skool van Hindoeïsme, is "atman" die eerste beginsel:[3] die ware self van ’n individu. Om moksha (bevryding) te bereik moet ’n mens selfkennis (atma gyan) opdoen.
Die ses ortodokse skole van Hindoeïsme glo daar is ’n atman in elke lewende wese. Dit verskil van Boeddhisme, wat glo daar is geen siel of self nie.[4][5]
Die Sanskrit-woord ātman beteken "essensie, asem, siel".[6][7] Dit is afgelei van die Proto-Indo-Europese woord *h₁eh₁tmṓ (’n wortel wat beteken "asem"; vergelyk die Nederlandseadem en Duitseatmen "om asem te haal"). Dit kan ook verbind word met die Griekse woord atmos, waarvan die woord "atmosfeer" afgelei is.[6]
Atman word in Hindoeïsme beskou as ewig, onverganklik, bo tyd verhewe, "nie dieselfde as liggaam of gedagtes of bewussyn nie, maar... maar iets bo dit verhewe wat hulle almal deurdring".[8][9]
Atman is ’n metafisiese en spirituele begrip vir Hindoes wat dikwels in hulle geskrifte bespreek word saam met die begrip brahman.[10]