Babelas

Babelas
Subklas vanAlkohol en gesondheidWysig
Oorsaakkorttermyn effekte van alkoholWysig
Mediese vakgebiedneurologie, Psigiatrie, narcologyWysig

'n Babelas (ook gespel babbelas, babelaas of babalaas)[1] is die somtotaal van die onaangename simptome wat volg na die oormatige inname van alkoholiese dranke. Die mees algemene kenmerk van 'n babelas is 'n geweldige dors, lusteloosheid, naarheid, sensitiwiteit ten opsigte van sonlig en klank en 'n hoofpyn. Hipoglisemie, dehidrasie en 'n vitamien B12-tekort word gereken om oorsake van die simptome van 'n babelas te wees. Die tydsduur waarteen die simptome van 'n babelas hul opwagting maak na alkohol-inname is veranderlik en die duur daarvan is gewoonlik 'n relatief kort tydperk (12 tot 36 ure[2]), en soms selfs langer (48 tot 72 uur na die inname van die laaste alkoholiese drank[3]).

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die Afrikaanse woord babelas is ontleen uit die Zoeloe ibhabhalazi wat op sy beurt uit die Afrikaans bibberasie ontleen is.[1][4]

Simptome

[wysig | wysig bron]

'n Babelas veroorsaak deur etanol word verbind met 'n verskeidenheid simptome wat dehidrasie, moegheid, hoofpyn, naarheid, diarree, swakheid, oormatige afskeiding van speeksel, gebrek aan konsentrasie, angs, prikkelbaarheid, sensitiwiteit vir lig en klank en slaaploosheid. Die simptome verskil van persoon tot persoon en van geleentheid tot geleentheid en begin gewoonlik verskeie ure nadat daar gedrink is. Dit is nog onseker of 'n babelas 'n mens se redenasievermoë aantas.

Oorsake

[wysig | wysig bron]

Stowwe soos etanol het 'n ontwateringseffek, wat hoofpyne, droë mond en lusteloosheid tot gevolg het. Dehidrasie het ook 'n afname in breinvolume tot gevolg.[5] Die simptome kan teëgewerk word met verhoogde waterinname na of tydens die drink van alkoholiese dranke. Die naarheid kan toegeskryf word aan alkohol se impak op die maagwand. As gevolg van die verhoogde NADH-vervaardiging tydens die metabolisme van etanol met behulp van alkohol- en aldehieddehidrogenase, kan oormatige NADH opbou en glukoneogenese in die lewer vertraag met gevolglike hipoglisemie.

'n Ander faktor wat bydra tot 'n babelas is die gevolg van die afbraak van etanol deur twee chemiese reaksies wat aangehelp word deur ensieme wat in die lewer vervaardig word. Etanol word na asetaldehied omgeskakel deur die ensiem alkoholdehidrogenase en dan van asetaldehied na asynsuur deur die ensiem asetaldehieddehidrogenase. Asetaldehied is matig giftig wat dan bydra tot die babelas.

Die bogenoemde twee reaksies vereis ook die omskakeling van NAD+ na NADH. Met 'n oormaat NADH word die laktaatdehidrogenase-reaksie gedryf om laktaat te vervaardig vanuit piruvaat (die eindproduk van glikolise) om NAD+ te hergenereer, wat noodsaaklik is vir die voortsetting van lewe. Dit neem die piruvaat weg van ander reaksies soos glukoneogenese en verminder die lewer se vermoë om glukose aan weefsels, veral die brein, te lewer. Omdat glukose die primêre energiebron van die brein is, dra hierdie gebrek aan glukose by tot die simptome van 'n babelas soos moegheid, swakheid, slegte buie en gebrekkige konsentrasie.

Wanneer 'n mens alkohol inneem vergroot die bloedvate in die gesig wat 'n rooi voorkoms gee. Wanneer 'n babelas begin, krimp die vate egter weer, wat bydra tot die kopseer en moegheid wat dikwels tydens 'n babelas ervaar word. Mense wat 'n babelas het sal dikwels koud kry. Dit is omdat alkohol 'n sekere soort hipotermie tot gevolg het waardeur die liggaam se hitte te vinnig uitgestraal word, as gevolg van die verhoogde bloedvloei na die vel.

Laastens is daar ook die uitwerking op die senuweestelsel. Die onderdrukkende effekte van alkohol in die brein is waarskynlik die oorsaak van die hoër lig- en klanksensitiwiteit.

Die teenwoordigheid van ander alkohole (soos metanol en ander swaarder alkohole) wat byprodukte van die alkoholiese gistingsproses, ook kogenerante genoem, vererger dikwels ook die simptome. Die hoeveelheid kogenerante in die alkoholiese drank mag daarom 'n impak hê op die graad van die simptome. Rooiwyn bevat byvoorbeeld tipies meer kogenerante as witwyn en sommige mense beweer hul kry 'n ligter babelas van witwyn.

In die metabolisme van alkohol, lewer een molekuul etanol (die hoofaktiewe bestanddeel van alkoholiese dranke) twee molekule NADH, wat sianokobalamien as koënsiem inspan. Die oormatige verbruik van alkohol kan dus ook 'n vitamien B12-tekort tot gevolg hê.

Nikotieninname kan ook die simptome van 'n babelas vererger, veral omdat rokers geneig is om meer te rook wanneer hulle onder die invloed is.

Moontlike kure

[wysig | wysig bron]

Daar word dikwels gegis oor hoe om 'n babelas te vermy of die impak daarvan te verminder. Daar word dikwels gespekuleer dat deur selfs meer alkohol in te neem as die nag tevore 'n babelas kan verdring. Die belangrikste om in gedagte te hou is egter dat die reeds oorlaaide lewer enige alkohol wat die liggaam inneem moet verwerk.

Ander moontlikhede om die simptome te verminder:

  • Drink baie water —Rehidrasie: "Effektiewe ingrepe sluit in rehidrasie, prostaglandieninhibitors en vitamien B6."[6]
  • Vitamien B6 (piritinol): Navorsing het bevind dat vitamien B6 die effek van babelas kan verminder, indien dit vroeg vooraf ingeneem is.[6][7] Die waarskynlikste rede hiervoor is dat B-vitamiene die lewer teen uitputting beskerm, tydens die verhoogde werklading om die oormaat alkohol te metaboliseer.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe. Pearson. 2015. ISBN 978-1-77025-700-9.
  2. Erowid.org Erowid Alcohol Vault: Effects
  3. Federal Aviation Administration. Brosjure vir veiligheid vir Loodse
  4. Etimologiewoordeboek van Afrikaans.
  5. The effects of dehydration on brain volume – preliminary results’, International Journal of Sports Medicine 2005; 26:481-485
  6. 6,0 6,1 Jeffrey G. Wiese, Michael G. Shlipak, Warren S. Browner The Alcohol Hangover Annals of Internal Medicine 6 June 2000 Volume 132 Issue 11 pp897-902
  7. Khan MA, Jensen K, Krogh HJ. Alcohol-induced hangover: A double-blind comparison of pyritinol and placebo in preventing hangover symptoms Q J Stud Alcohol. 1973;34:1195-201