Barbican Estate is 'n woonstelkompleks vir sowat 6 000 mense wat tussen 1965 en 1976 in die City of London, die historiese middestad van Londen, ontstaan het. Die buurt, wat tans veral finansiële instellings huisves, is gedurende die Tweede Wêreldoorlog swaar deur Duitse bomaanvalle getref.
Die verwesenliking van die Barbican Estate-projek, wat volgens ontwerpe van die argitekte Chamberlin, Powell en Bon ontstaan het, was deel van 'n utopiese visie vir die heropbou van die Barbican-buurt ná die oorlog. Saam met woonstelgeboue het 'n aantal kulturele en opvoedkundige instellings in of naby die buurt ontstaan, waaronder die Barbican Arts Centre, die Londense Museum (Museum of London), die Guildhall-skool vir Musiek en Drama, die Barbican-biblioteek, die City of London School for Girls en 'n YMCA-gebou wat intussen gesluit is, wat saam die Barbican Complex vorm. Die kompleks, een van die bekendste voorbeelde van Britse brutalistiese boukuns in Londen, word bestuur deur die Barbican Estate Office, 'n departement van die City of London Corporation.
Die kompleks se naam is afgelei van die Vulgêrlatynse term barbecana wat na 'n versterkte buitepos of poort verwys het – soos byvoorbeeld die buitenste mure of versterkings van 'n nedersetting of kasteel of enige toring wat bo-op 'n poort of brug opgerig en vir verdedigingsdoeleindes gebruik is.
Die huidige kompleks is aan die noordelike ent van die vroeëre Romeinse nedersetting Londinium geleë waar enkele bouvalle van die ou Londense stadsmuur bewaar gebly het. Die ruïnes, wat tans nog besigtig kan word, dateer grotendeels uit die Tudor-tydperk. Destyds het nuwe geboue dikwels op die fondamente van vroeëre strukture ontstaan. So is ook die stadsmuur, lank nadat dit sy militêre betekenis as versterking verloor het, vir nuwe argitektoniese doelwitte hergebruik en in Tudor-baksteengeboue geïntegreer.
Die Romeinse Londinium het oor 'n gebied van sowat 325 akkers gestrek, terwyl die Saksiese Londen heeltemal buite die oorspronlike stadsmuur geleë was en 677 akkers beslaan het. Dit was ook die oppervlakte van die stadsgebied in die tyd van die Normandiese verowering van Engeland – net so groot soos die gebied wat die moderne City of London beslaan.
Die bogenoemde Barbecana was waarskynlik êrens tussen die noordelike kant van die Church of St. Giles Cripplegate en die vroeë YMCA-gebou in Fann Street geleë.
Teen die middel van die 19de eeu was die buurt dig bebou met hoë, donker woonhuise en gekenmerk deur nou straatjies wat nouliks aan die eise van die destyds vinnig groeiende perdevervoer kon voldoen nie. Oorbevolking was 'n knellende vraagstuk. Die City se totale bevolking is in dié tyd op 129 000 beraam van wie 14 000 in die Cripplegate-parogie gehuisves is – rofweg die gebied wat tans deur die Barbican Estate beslaan word. Sy ekonomie was in 'n groot mate op die sogenaamde rag trade gegrond – 'n bedryf wat enigiets kon insluit van die handel met tekstiele tot klerevervaardiging.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die City onder 'n vlaag van verwoestende Duitse lugaanvalle gebuk gegaan waarna as die Blitz of die Tweede Groot Brand van Londen verwys word. Die eerste brandbom het op 25 Augustus 1940 in Fore Street digby London Wall ontplof.[1] In die intensiewe bombardemente, wat maande lank – tussen 7 September 1940 en 21 Mei 1941 – voortgeduur en buurte dwarsoor Groter Londen geteiken het, is altesaam 30 000 Londenaars dood. Die Cripplegate-parogie is so swaar getref dat sy oorblywende bevolking in 1951 nog slegs 48 beloop het, teenoor 5 324 in die hele City of London.
Die befaamde joernalis en reisskrywer HV Morton het in 1951 'n besoek aan Cripplegate gebring, elf jaar nadat Duitse bomwerpers die buurt vernietig het. Hy het onder die indruk gestaan van die geweldige omvang van oorlogskade. Die meeste geboue was tot bouvalle gereduseer waarvan slegs die kelders oorgebly het. Vir Morton was herstelwerk ondenkbaar:[2]
“How can anyone reconstruct a town from its cellars?” |
In 1952 het die openbare debatvoering oor die moontlike herontwikkeling van die verwoeste buurt begin. Vroeëre voorstele, soos die stadsbeplanner Patrick Abercrombie se Greater London Plan van 1944, het voorsiening gemaak vir die herontwikkeling van Cripplegate as kommersiële buurt, met die bou van stoorhuise, winkels, kantoor- en enkele woongeboue.
Vir baie debatvoerders, wat by die City of London betrokke was, was die vinnig krimpende woonbevolking binne die Square Mile of historiese middestad sorgwekkend. Daar was vrese dat die ontvolking van die Londense middestad die City of London se historiese status as unieke administratiewe entiteit sou kon bedreig. So is die oorspronklike planne geskrap en in plaas daarvan oorweeg om nuwe bewoners in die gebied te vestig om die bevolkingsgetal op 'n hoër vlak te stabiliseer. In 1956 het die Britse minister van huisvesting, Duncan Sandys, die bou van 'n residensiële buurt voorgestel, met die benodigde infrastruktuur van skole, winkelgeriewe en oop ruimtes. 'n Amptelike verslag is voorgelê, en op 19 September 1957 het die Court of Common Council die skepping van 'n nuwe woongebied in die Cripplegate-buurt as beleidsoogmerk aanvaar.
Grond in die betrokke buurt is aangekoop en 'n kontrak aangegaan met die argitekte-ateljee van Peter Chamberlin, Geoffry Powell en Christof Bon, wat reeds die nabygeleë Golden Lane Estate ontwerp het. Vir die City of London het die projek, wat lewe sou terugbring na die sentrale sakekern, simboliese waarde gehad. So was die argitekte se benadering in sekere opsigte radikaal verskillend en geïnspireer deur moderne en utopistiese beginsels van stedelike lewe soos dié van Le Corbusier.