Batik is 'n kunsvorm wat 'n besondere tegniek vereis en eintlik 'n kunsvaardigheid is. Deur middel van die besondere tegniek word tekstiel, en dikwels ook papier en selfs leer, versier. Dit het moontlik sy oorsprong in Java, waar dit ook tot 'n hoogtepunt gevoer is. Dit is eers sedert omstreeks 1890 ook in Europa en ander lande beoefen. Die woord batik is afgelei van die Javaanse (am)batik, wat oorspronklik "stippeling" beteken het, maar later ook "teken".
By batik word daar met was "geteken" op die materiaal wat versier moet word. Tekstiel is deurgaans gebruik, en in die besonder wit katoen. Voor daar begin word, word die materiaal eers goed gewas om die stysel te verwyder. Hierna word 'n ontwerp op die materiaal aangebring. Dié dele wat wit of sonder verf moet bly, word eers met was bedek. Die was (byewas of paraffienwas, wat goedkoper is, of 'n mengsel van albei) word gesmelt en terwyl dit vloeibaar en warm is met behulp van 'n tjanting of 'n kwassie op die materiaal aangebring. ’n Tjanting is 'n klein koperbakkie met 'n dun tuitjie, 'n soort gietertjie. Om dit makliker te kan hanteer, is dit aan 'n houtstafie gemonteer.) Sodra die was droog is, word die materiaal in 'n kleurbad gedompel. Die ou Javaanse batik was met natuurlike verfstof gekleur, maar vandag word chemiese verfstof gebruik. Wanneer die materiaal goed met die kleurstof deurdrenk is, word dit opgehang om droog te word. Daarná word die was versigtig afgekrap. Die oppervlakke wat met was bedek was, het ongekleur gebly. Waar daar egter barsies in die was gekom het, het die kleursel deurgesyfer en klein strepies op die materiaal veroorsaak. Hierdie "aartjies" gee aan die batikwerk 'n interessante voorkoms en onderskei dit van materiaal wat op 'n ander manier versier is.
Vir elke volgende kleur wat 'n mens wil aanbring, moet die proses herhaal word. Besondere kleurskakerings word byvoorbeeld verkry deur eers 'n ligte kleur te gebruik, slegs gedeeltes daarvan met was te bedek en die werkstuk dan in 'n donkerder kleurstof te dompel. Die moontlikhede van effekte wat deur middel van kleurvermenging verkry kan word, is feitlik onbeperk.
In Indonesië word daar dikwels veertien dae lank aan een skepping gewerk. In die tweede helfte van die 19e eeu is daar op Java 'n nuwe tegniek ontwikkel om vinniger, en daarom goedkoper, te werk: die sogenaamde stempel metode. Met behulp van koperstempels word groot materiaaloppervlakke vinnig met was bedek. Die moeilikste deel van hierdie metode is om die stempelpatrone presies bymekaar te laat aansluit. Een persoon kan egter met gemak tot 20 stempel-batikwerke per dag maak. Die mans doen die stempelwerk. In Indonesië word batikwerk slegs deur vroue uit die hoër klasse gedoen.
Waar en wanneer batik presies ontstaan het, is nie 'n uitgemaakte saak nie. Daar is lank geglo dat batik slegs op Java, een van die Groot Soenda-eilande in die Indiese Argipel, gemaak is, maar dit is nou bekend dat dit ook op die ander Indonesiese ei lande voorgekom het. Dit is egter op Java waar die tegniek die verste ontwikkel het. Die kleure wat die Javane gebruik, is deurgaans blou, bruin, rooi, swart, geel en groen op wit katoen.
Gebatikte materiaal was oorspronklik slegs vir kledingstukke soos sarongs, kopdoeke en sjaals gebruik. In die twintigerjare van die twintigste eeu het dit in Europa mode geword om dit ook vir muurbehangsels te gebruik.
Dit was eers in die 19e eeu dat daar in die Weste werklik 'n belangstelling in die beoefening van batik gekom het. Sedertdien het die toepassing daarvan baie uitgebrei. Katoen is ook nie meer die enigste materiaal waarop gewerk word nie.
In Suid-Afrika was dit in die 1980’s nie vreemd as 'n vrou in haar selfgemaakte kaftan verskyn nie. Muurbehangsels was egter die gewildste, hoewel gebatikte lampskerms, stoelbekleedsels, skerms vir vuurherde, ensovoorts, dikwels gesien was.