Beaufortsee | |
---|---|
Arktiese lente oor die Beaufortsee | |
Kaart van die Beaufortsee | |
Koördinate: | 72°N 137°W / 72°N 137°W |
Ligging: | Kanada, Verenigde State |
Soort: | See van die Arktiese Oseaan |
Oppervlakte: | 476 000 km² (184 000 myl²) |
Gemiddelde diepte: | 1 004 m (3 239 vt) |
Maksimum diepte: | 4 682 m (15 360 vt) |
Volume: | 22 000 km³ |
Invloei: | Mackenzierivier |
Eiland/e: | Kanadese Arktiese Argipel |
Gevries: | Feitlik die hele jaar |
Die Beaufortsee (Engels: Beaufort Sea, Frans: Mer de Beaufort) is 'n see van die Arktiese Oseaan in Noord-Amerika tussen Kaap Barrow in die weste, die Kanadese Arktiese Argipel in die ooste en die vasteland van Alaska (Verenigde State) en Yukon (Kanada) in die suide. Die Beaufortsee grens aan die Tsjoekotkasee in die weste, die Arktiese Oseaan in die noorde en die Kanadese Arktiese Argipel in die ooste. Die see het 'n oppervlakte van sowat 476 000 km² en 'n gemiddelde diepte van 1 004 m.[1] Die see is genoem ná die Ierse hidrograaf Francis Beaufort.
Die Beaufortsee grens in die suidooste aan die Golf van Amundsen en maak deel uit van die bekende Noordwestelike Deurvaart tussen die Atlantiese en die Stille Oseaan. Die see is feitlik die hele jaar gevries. 'n Klein deel van die Beaufortsee langs die gemeenskaplike grens is omstrede tussen Kanada en die Verenigde State.[2][3][4][5][6][7][8][9]
Die Mackenzierivier, die langste in Kanada, mond uit in die Kanadese deel van die Beaufortsee wes van Tuktoyaktuk, wat een van die min permanente nedersettings aan die see se kus is.
Die see word gekenmerk deur strawwe klimaat en is oor die grootste deel van die jaar gevries. Histories het slegs 'n smal pas tot 100 km in Augustus-September naby sy kus ontdooi van die ys, maar onlangs het die ysvrye gebied in die laat somer baie vergroot weens klimaatsverandering in die Arktiese gebied. Die Beaufortsee was vroeër bekend as 'n belangrike reservoir vir die aanvulling van Arktiese see-ys. See-ys sou dikwels vir etlike jare roteer in die Beaufort Gyre, die dominante seestroom van die Beaufortsee, en groei tot stewige en dik meerjarige ys.
Bewerings dat die seekus sowat 30 000 jaar gelede bevolk was, is grootliks gediskrediteer; die huidige bevolkingsdigtheid is baie laag. Die see bevat aansienlike hulpbronne van petroleum en aardgas onder sy yslaag, soos die Amauligak-veld. Die hulpbronne is ontdek in die tydperk tussen die 1950's en 1980's, en sedert die laaste deel van daardie tydperk het hul verkenning die belangrikste menslike aktiwiteit in die gebied geword.
Die tradisionele beroepe van vissery en walvis- en robbejag word slegs plaaslik beoefen, en het geen kommersiële betekenis nie. Gevolglik huisves die see een van die grootste kolonies witwalvisse, en daar is geen teken van oorbevissing nie. Om oorbevissing in sy waters te voorkom, het die VSA in Augustus 2009 'n voorkomende kommersiële visserybestuursplan aanvaar. In April 2011 het die Kanadese regering 'n memorandum van verstandhouding met die Inuvialuit onderteken as 'n eerste stap in die ontwikkeling van 'n groter seebestuursplan. Die Kanadese regering het in Oktober 2014 aangekondig dat geen nuwe kommersiële visserye in die Beaufortsee oorweeg sal word totdat navorsing volhoubare voorraad getoon het wat eers aan Inuvialuit beskikbaar gestel sal word nie.
Die Kanadese regering het blokke van die Beaufortsee as Mariene Beskermde Gebiede (MPA's) aangewys. Die Anguniaqvia niqiqyuam MPA omring die Parry-skiereiland in die Amundsen-golf, en die Tarium Niryutait MPA is geleë by die Mackenzierivierdelta en -riviermond. Die beskermde gebiede is ingestel om spesies en habitatte vir die Inuvialuit-gemeenskap te beskerm.
Die Internasionale Hidrografiese Organisasie definieer die grense van die Beaufortsee soos volg:
Aan die Noorde. 'n Lyn vanaf Point Barrow, Alaska, na Lands End, Prins Patrickeiland ( 76°16′N 124°08′W ).
Aan die Ooste. Vanaf Lands End deur die suidwestelike kus van Prins Patrickeiland tot by Griffiths Point, vandaar 'n lyn na Cape Prince Alfred, die noordwestelike uiterste van Banks-eiland deur sy weskus tot by Kaap Kellet, die suidwestelike punt, en vandaar 'n lyn na Kaap Bathurst op die vasteland (70°36′N 127°32′W ).
Op 20 Augustus 2009 het die Amerikaanse minister van handel, Gary Locke, 'n moratorium aangekondig op visvang in die Beaufortsee noord van Alaska. Volgens Locke: "Namate Arktiese see-ys weens klimaatsverandering terugtrek, is daar toenemende belangstelling in kommersiële visvang in Arktiese waters. Ons is in 'n posisie om te beplan vir volhoubare vissery wat nie die algehele gesondheid van hierdie brose ekosisteem beskadig nie. Hierdie plan volg 'n voorsorgbenadering tot enige ontwikkeling van kommersiële visvang, in 'n gebied waar daar nie in die verlede was nie."
Daar is nie nou wydverspreide kommersiële visserye in die waters nie.
Die moratorium is ingestel in afwagting dat aardverwarming die waters toeganklik sou maak vir kommersiële visserye. Die moratorium het kontroversie in Kanada verwek omdat die streek waar die VSA die moratorium aangekondig het, 'n groot wigvormige streek van betwiste waters ingesluit het. Randy Boswell, van Canada.com het geskryf dat die betwiste gebied 'n 21 436 vierkante kilometer gedeelte van die Beaufortsee dek. Hy het geskryf dat Kanada in April 'n "diplomatieke nota" by die VSA ingedien het toe die VSA die eerste keer planne vir die moratorium aangekondig het. Jack Layton, leier van die Nuwe Demokratiese Party van Kanada, het die Amerikaanse moratorium oor die betwiste waters in die Beaufortsee die "grootste inbreuk op Kanadese grondgebied in ons geskiedenis" genoem.
Verskeie riviere soos die Kongakutrivier in Alaska en die Firthrivier in Yukon loop uit in die Beaufort. Die grootste rivier wat in die see vloei, is die Mackenzie, Kanada se langste, wat in die Kanadese deel van die see, wes van Tuktoyaktuk, uitmond. Die Kontinentale plat is taamlik smal, veral naby en oos van Point Barrow in die Alaska-deel van die see, en bevat talle ondersese valleie. Dit word wyer naby die delta van die Mackenzierivier, maar oorskry nêrens 145 km nie.
Naby die kus is die diepte vlakker as 60 m, maar dit neem vinnig toe noordwaarts tot 'n paar kilometer, en verander in 'n massiewe platform wat geologies soortgelyk is aan dié van die oseane.
Daar is baie klein eilande in die see en in die delta van die Mackenzierivier. 'n Paar groteres lê wes van die Mackenzierivier, soos Herschel-eiland 4 km van die kus af, en Barter-eiland 0,3 km van die kus af.
Die kus is laag, met die maksimum hoogtes tussen 250 en 750 m. Die grond word die hele jaar deur gevries op 'n diepte van ongeveer een meter, wat permafrost vorm, en slegs die boonste paar tien sentimeter ontdooi in die somer. Gevolglik moet geboue bogronds verhef word op houtstapels wat in die permafrost gedompel is.
Die Beaufortsee is deur die jaar bevrore, behalwe vir Augustus en September wanneer die ys naby die kus breek en 'n 50–100 km breë strook oop water oopmaak. Gedurende die 2000's, as gevolg van klimaatsverandering in die Arktiese gebied, het die ysvrye gebied in die laat somer baie vergroot. Tydens die rekord minimum omvang van Arktiese see-ys in September, 2012, het die see-ysgrens noordwaarts baie verder as normaalweg van die kus af teruggetrek.
Die kanale van die Mackenzierivier ontdooi vroeër, laat Mei-vroeg Junie. Hierdie ontdooiing verhoog die gemiddelde waterafvoer van ongeveer 150 000 tot 250 000 kubieke meter per sekonde.
Versteekte veranderinge in die ysbedekking van die Beaufortsee is in 2009 ontdek. Terwyl die ysarea stabiel bly, soos deur die waarnemingsatelliete bespeur, asook die gepaardgaande watertemperatuur en soutgehalte, het die ysstruktuur onlangs verander. Die nuwe ys, genoem vrot ys, is dunner en struktureel baie swakker.
Die seewater het 'n stabiele temperatuur en word soos volg in afsonderlike lae geskei:
Die boonste 100 m is oppervlakwater met temperature van −1.4 °C in die somer en −1.8 °C in die winter.
Die volgende laag word gevorm deur die invloei van die Stille Oseaan en Beringsee wat deur die Beringstraat kom; dit strek tot by die Noordpool. Die warmste, diep Atlantiese laag hee temperaturvan e tussen 0 en 1°C , en water aan die onderkant is 'n bietjie kouer teen -0,4 tot -0,8 °C. Die gemiddelde soutgehalte wissel tussen 28% en 32% (dele per duisend) van suid na noord. Tipiese lugtemperature (by Tuktoyaktuk) is −27 °C in Januarie en 11 °C in Julie.
Die waterstrome vorm die kloksgewys-gerigte Beaufort Gyre, wat suidwestelike en westelike strome naby die kus tot gevolg het. Die Mackenzierivier beïnvloed hierdie sirkulasie gedeeltelik en veroorsaak klein oostelike strome naby sy mond. Die rivier bring jaarliks ongeveer 15 miljoen ton sedimente wat ryk is aan dolomiet en kalsiumkarbonaat. Hierdie afsettings word oor die see versprei en met modder en gruis gemeng.
Die Beaufortsee se kuslyn is bedek met toendra en dui die noordelike grens van die landreeks van die ysbeer in Noord-Amerika aan. Die Mackenzierivier is 'n belangrike habitat vir walvisse en seevoëls en is nog relatief onaangeraak deur kommersiële verkeer. Die delta van Mackenzierivier bevat talle mere en damme wat deur muishonde bewoon word.