Bee Gees | |
---|---|
Die Bee Gees, van links na regs, Barry Gibb, Robin Gibb en Maurice Gibb. | |
Agtergrondinligting | |
Oorsprong | Douglas (Eiland Man) |
Genres | Pop, R&B, Rock, Disco |
Jare aktief | 1958–2003 2009–2012 |
Etikette | Leedon, Festival, Polydor, Atco, RSO, Warner Bros. |
Assosiasies | Colin Petersen Vince Melouney Geoff Bridgford Alan Kendall Dennis Bryon Blue Weaver |
Webwerf | beegees.com |
Lede | Barry Gibb Robin Gibb Maurice Gibb |
Die Bee Gees is Australiese popgroep wat groot sukses in die 1960's en 1970’s behaal het. Die groep het bestaan uit die drie Gibbs-broers, Barry, Maurice en Robin Gibb. Die Bee Gees se totale verkope was meer as 200 miljoen albums wat hulle in uitgelese geselskap soos Pink Floyd en The Rolling Stones plaas. Naas The Beatles word hulle as die beste Britse liedjieskrywers beskou.
Die groep maak hul deurbraak in 1967 in Engeland met die nommer-een treffer, Massachusetts. Hulle word veral onthou vir die musiek van die fliek Saturday Night Fever, wat hulle self geskryf én gesing het. Met hulle hoë stemme en vibrato- en falsetto-harmonieë het hulle treffers soos Jive Talkin’ , Staying Alive, How Deep Is Your Love en Night Fever opgelewer.[1]
Die groep is om die tweeling Robin Gibb (1949–2012, sang) en Maurice Gibb (1949–2003, sang, baskitaar en klawerbord) en hul ouder broer Barry Gibb (1946, kitaar en sang) gebou. Hulle is almal op die Maneiland aan die Britse kus gebore.
In die laat 1950s emigreer hulle na Australië, waar hulle hul musiekloopbaan begin. In Januarie 1967 keer hulle na die Verenigde Koninkryk terug, waar hulle roem verwerf. In 1975 trek die broers na Florida in die Verenigde State van Amerika, waar hulle gewoon en albums opgeneem het.
Maurice is in 2003 oorlede en Robin op 20 Mei 2012.[2]