Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Meermale was die kasteelhere roofridderes wat kort-kort uitgetrek het om kloosters te oorval of kooplui aan te val en te besteel of selfs na die kasteel te ontvoer, waar hulle gehou is totdat ʼn losprys betaal is. Omdat daar soveel was, en hul kastele so goed verskans, het dit lank geduur voordat die vorste ʼn einde aan hul wanpraktyke gemaak het.
ʼn Ander onverkwiklike verskynsel was die gedurige vetes tussen die kasteelhere. Omdat die kastele so moelik was om in te neem, moes die eenvoudige en weerlose mense van die volk daaronder ly: die ridders het mekaar probeer skade aandoen deur mekaar se onderdane aan te val en te beroof.
'n Kasteel kon onverwags ingeneem word as die aanvallers dit kon bereik voor die kasteel se verdedigers besef dat hulle daar is. Kastele is egter gewoonlik op plekke gebou van waar mens die omgewing goed kon bespied; alle bome, bosse en ander skuiling is verwyder en daar was altyd wagte op die uitkykposte.
'n Kasteel kon ook ingeneem word a.g.v. verraad in sy garnisoen. Dit was egter nie maklik om boodskappe in 'n goed verdedigde kasteel te smokkel nie. Kastele moes uiteindelik oorgee as die voedsel opraak. Hulle is egter gewoonlik gebou op plekke waar die garnisoen genoeg water kon kry, sodat dors geen probleem was nie. Dit was ook moontlik om ʼn enorme hoeveelheid kos in die kelders op te gaar sodat ʼn garnisoen baie lank teen die beleëraars kon uithou.