Algemeen | |
---|---|
Naam | Bensaldehied |
Chemiese formule | C6H5CHO |
Molêre massa | 106.12 g/mol |
CAS-nommer | 100-52-7 |
Voorkoms | Kleurlose of liggeel vloeistof met sterk refraksie |
Reuk | amandelagtig |
Fasegedrag | |
Smeltpunt | -57.12 °C |
Kookpunt | 178.1 °C |
Digtheid | 1.044 g/mL, vloeistof |
Oplosbaarheid | 0.3 g/100 mL (20 °C)[1] |
Viskositeit | 1.321 cP (25 °C) |
Suur-basis eienskappe | |
pKa | |
Veiligheid | |
Flitspunt | 64 °C |
Selfontbrandingspunt | 192 °C |
LD50 | 1300 mg/kg (rot, oraal) |
Tensy anders vermeld is alle data vir standaardtemperatuur en -druk toestande. | |
Portaal Chemie |
Bensaldehied (C6H5CHO), is 'n organiese verbinding wat bestaan uit 'n benseenring met 'n formielsubstituent. Dit is die eenvoudigste aromatiese aldehied, en het baie industriële toepassings.
Dit is 'n kleurlose vloeistof met 'n kenmerkende reuk van amandels. Bensaldehied is die primêre komponent van bitter amandelolie, en kan uit 'n verskeidenheid natuurlike bronne geëkstraheer word.[2] Sintetiese bensaldehied is die geur in nagemaakte amandelekstrak, wat algemeen in gebakte produkte gebruik word.[3]
Bensaldehied is in 1803 deur die Franse apteker Martrès vir die eerste keer uit bitter amandels geëkstraheer.[4] In 1832 het die Duitse chemici Friedrich Wöhler en Justus von Liebig bensaldehied vir die eerste keer gesintetiseer.[5]
Teen 1999 is 7000 ton sintetiese, en 100 ton natuurlike bensaldehied jaarliks geproduseer.[6] Vloeistoffase chlorinering en oksidasie van tolueen is die belangrikste sintetiese roetes. Talle ander metodes is ook al ontwikkel, soos byvoorbeeld die gedeeltelike oksidasie van bensielalkohol, alkaliese hidrolise van bensalchloried, en karbonilering van benseen.[7]
'n Beduidende hoeveelheid van natuurlike bensaldehied word verkry deur die retro-aldol reaksie uit te voer op kaneelaldehied afkomstig van cassia-olie: die kaneelaldehied word in 'n waterige/alkoholiese oplossing tussen 90 °C en 150 °C met 'n basis (mees algemeen natriumkarbonaat (soda) of koeksoda) vir 5 tot 80 uur onder reflux verhit,[8] en die gevormde bensaldehied word vervolgens deur distillasie gesuiwer. Hierdie reaksie lewer ook asetaldehied. Die natuurlike status van bensaldehied wat op hierdie manier verkry word, is omstrede.
Setel-spesifieke KMR-spektroskopie, wat 1H/2H isotoopverhoudings kan bepaal, word gebruik om te onderskei tussen natuurlike en sintetiese bensaldehied.[9]
Bensaldehied en soortgelyke chemikalieë kom natuurlik in baie voedselsoorte voor. Die meeste van die bensaldehied wat mense eet is van natuurlike plantaardige voedsel soos amandels afkomstig.[10]
Die pitte van amandels, appelkose, appels en kersies bevat beduidende hoeveelhede van amygdalin. Hierdie glikosiedverbinding word deur ensieme in bensaldehied, blousuur en twee molekules van glukose afgebreek.
Bensaldehied dra by tot die geur van oestersampioene (Pleurotus ostreatus).[11]
Bensaldehied kan deur oksidasie in bensoësuur omgeskakel word, 'n reuklose verbinding wat 'n algemene onsuiwerheid in laboratoriummonsters is. Bensielalkohol kan deur hidrogenasie uit bensaldehied gevorm word. Reaksie van bensaldehied met watervrye natriumasetaat en asynsuuranhidried lewer kaneelsuur, terwyl alkoholiese kaliumsianied gebruik kan word om die kondensasie van bensaldehied na bensoïen te kataliseer. Bensaldehied ondergaan disproporsionering onder inwerking van gekonsentreerde alkali in die Cannizzaro reaksie: een molekuul van die aldehied word tot die ooreenstemmende alkohol gereduseer, terwyl 'n ander molekule geoksideer word tot bensoaat.
Bensaldehied word algemeen gebruik om amandelgeur aan kos en gegeurde produkte te verleen. Dit word soms ook in skoonheidsprodukte gebruik.[12]
In industriële toepassings word bensaldehied hoofsaaklik as 'n voorloper tot ander organiese verbindings gebruik, vanaf farmaseutiese produkte tot plastiekbymiddels. Die anilienkleurstof malachietgroen word byvoorbeeld vanaf bensaldehied en dimetielanilien geproduseer. Bensaldehied is ook 'n voorloper tot sekere akridienkleurstowwe. Via aldolkondensasies, word bensaldehied in afgeleides van kaneelaldehied en stireen omgeskakel. Die sintese van mandelsuur begin met bensaldehied:
Blousuur word eers by bensaldehied gevoeg, en die nitriel wat so geproduseer word, word vervolgens gehidroliseer om mandelsuur te vorm. Die skema hierbo toon slegs een van die twee gevormde enantiomere.
Bensaldehied word as 'n afweerder vir heuningbye gebruik.[13] 'n Klein hoeveelheid bensaldehiedoplossing word op 'n rookblad naby die heuningkoeke aangebring. Die bye beweeg dan weg om die dampe te vermy.[14] Die byeboer kan dan die heuningrame van die byekorf verwyder met minder risiko vir beide bye en byeboer.
In voedsel, skoonheidsmiddels, farmaseutiese produkte, en seep, word bensaldehied oor die algemeen beskou as veilig, en het derhalwe die status "Generally Recognized As Safe" (GRAS) vanaf die Amerikaanse Food and Drug Aministration (FDA).[15] Hierdie status is bevestig na 'n hersiening in 2005. Dit word ook in die Europese Unie as 'n geurmiddel aanvaar. Toksikologiese studies dui daarop dat dit, in die konsentrasies wat in voedsel en skoonheidsmiddels gebruik word, veilig is en nie kankerwekkend is nie, en mag selfs karsinostatiese (anti-kanker) eienskappe hê.
In hoë konsentrasies soos by industriële toepassings, kan bensaldehied egter gevaarlik wees. Vir 'n 70 kg mens, word die dodelike dosis geskat op 50 mL. 'n Aanvaarbare daaglikse inname van 15 mg/dag is deur die Verenigde State se Environmental Protection Agency vasgelê.[16] Bensaldehied akkumuleer nie in menslike weefsel nie: dit word gemetaboliseer en dan in die urine uitgeskei.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)