Berberis aristata

Berberis aristata
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eudicots
Orde: Ranunculales
Familie: Berberidaceae
Genus: Berberis
Spesie:
B. aristata
Binomiale naam
Berberis aristata
DC.

Berberis aristata, ook bekend as die Indian barberry, Mara manjal (மரமஞ்சள்), chutro, sumba, of tree turmeric, is 'n struik wat aan die familie Berberidaceae en die genus Berberis behoort. B. aristata is inheems aam die Himalaja in Indië en in Nepal.[1][2] Dit kom ook voor in Suid-Indië se Nilgiri-gebergtes en in Sri Lanka.[3]

Morfologie

[wysig | wysig bron]

Die Berberis aristata is 'n regop, stekelrige struik, met 'n lengte van tussen 2 tot 3 m. Dit is 'n houtagtige plant met bas wat aan die buitekant geel tot bruin vertoon, en sterk geel aan die binnekant. Die bas is bedek met drie-takkige dorings (wat eintlik gemodifieerde blare is), en kan met die hand in lengtegewyse stroke verwyder word. Die blare is in klossies of trosse van vyf tot agt gerangskik, en is ongeveer 4.9 cm lank en 1.8 cm breed. Die blare is diepgroen op die dorsale oppervlak en liggroen op die ventrale oppervlak. Die blare is leeragtig van tekstuur, met klein, getande inkepings langs die kant van die blaar.[4]

Blomme en vrugte

[wysig | wysig bron]
Die vrugte van die Berberis aristata

Die blomseisoen begin in die middel van Maart en strek regdeur Aprilmaand.[5] Die geel blomme wat ontwikkel is hermafrodities. Die gemiddelde deursnee van 'n volledig oopgemaakte blom is 12.5 mm. Die blomme het 'n trosvormige bloeiwyse, met 11 tot 16 blomme per tros, wat gerangskik is langs 'n sentrale stam. Die blom is meerskildig, met drie groot en drie klein kelkblare, en veelblarig, met in totaal ses kroonblare. Die manlike voortplantingstruktuur, die androecium, is poliandries en bevat ses meeldrade, 5-6 mm lank. Daar is een vroulike voortplantingstruktuur, die gynoecium, wat 4-5 mm lank is en wat bestaan uit 'n kort styl. Die plant produseer trosse suur, eetbare bessies wat helderrooi van kleur is en oor medisinale eienskappe beskik. Die vrugte begin ryp word vanaf die tweede week van Mei regdeur Juniemaand. Die bessies is ongeveer 7 mm lank, 4 mm in deursnee, en weeg ongeveer 227 mg.[4]

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Die vrugte van die spesie word geëet deur mense wat in die gebiede woon waar die plant voorkom, dikwels as 'n nagereg. Die vrugte is sappig en bevat baie suikers en ander nuttige voedingstowwe wat as 'n dieetaanvulling dien. Die wortels kan ook gebruik word om 'n alkoholiese drankie te brou.

Die plant as geheel is 'n goeie bron van kleurstof en tannien wat gebruik word vir die kleur van klere en vir leerlooiery.[4]

Medisinale gebruike

[wysig | wysig bron]
Chemiese struktuur van berberien, 'n alkaloïed wat gevind word in B. aristata

In Indië word B. aristata gebruik in tradisionele kruiemedisyne. Die stam, wortels en vrugte daarvan word gebruik in die alternatiewe medisyne-stelsel Ajurveda.[6]

’n Preparaat genaamd rasaunt word voorberei deur die bas van die wortel en van die onderste deel van die stam in water te kook. Die oplossing word dan gefiltreer en ingedamp totdat 'n halfvaste massa, rasaunt, verkry word. Dit word gemeng met óf botter en aluin, óf met opium en lemmetjiesap.[4]

Die wortelbas bevat die bitter alkaloïed berberien, wat vir sy potensiële farmakologiese eienskappe bestudeer word.[7]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Berberis aristata DC". Global Biodiversity Information Facility. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2022. Besoek op 22 Junie 2022.
  2. Ray, Rajasri; Gururaja, K. V.; Ramchandra, T. V. (2011). "Predictive distribution modeling for rare Himalayan medicinal plant Berberis aristata DC" (PDF). Journal of Environmental Biology. 32 (6): 725–730. PMID 22471208. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 November 2011.
  3. Rathi, Bhawana; Sahu, Juhi; Koul, Sameksha; Kosha, R. L. (2013). "Detailed pharmacognostical studies on Berberis aristata DC plant". Ancient Science of Life. 32 (4): 234–240. doi:10.4103/0257-7941.131981. PMC 4078475. PMID 24991073.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 Parmar, C. & M.K. Kaushal (1982). Berberis aristata, in: "Wild Fruits". New Delhi, India: Kalyani Publishers. pp. 10–14.
  5. "Berberis aristata DC". Flora Cafe. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Maart 2012. Besoek op 11 Mei 2011.
  6. Kala, C.P.; et al. (2006). "Developing the medicinal plants sector in northern India: challenges and opportunities". Journal of Ethnobiology and Ethnomedicine. 2: 32. doi:10.1186/1746-4269-2-32. PMC 1562365.
  7. "Berberine". WebMD.