'n Bergère is 'n agtiende eeuse Franse gemakstoel (Fauteuil)[1] met 'n gestoffeerde rugleuning en armleunings, op 'n gestoffeerde raamwerk.[2] Die raamwerk van die sitplek is oorgestoffeerd, maar die res van die stoel se houtraamwerk is sigbaar. Die houtraamwerk kan gevormd wees of uitgekerf word. Dit kan van geverfde of vergulde boekenhout, of van vrugtehout, okkerneuthout of mahonie gemaak word. Die hout het gewoonlik 'n waksafwerking. Die elmboogreste kan gestoffeerd wees. 'n Bergère het gewoonlik 'n los, maar pasgemaakte, sitkussing. Dit is ontwerp vir gemak, met 'n dieper, wyer sitplek as dié van 'n gewone fauteuil, wat meer formeel is. 'n Bergère in die agttiende eeu was in wese 'n geriefsmeubelstuk, wat ontwerp is om met gemak rondgeskuif te word, eerder as om permanent en formeel teen die mure van 'n vertrek te staan.[1]
Die spoggerige naam, "herderinstoel", het in die middel van agtiende eeuse Parys inslag gevind. Die stoel het nie noemenswaardig verskil van die laat-sewentiende eeuse chaise de commodité, 'n variasie van die vleuelstoel, nie. Tradisioneel het die gestoffeerde "vlerke" van die vleuelstoel die gesig teen kaggelhitte of koue lugtrekke beskerm. In die geval van bergère à oreilles ('met ore'), is die "vlerke" behou. Die stoel was ook, op 'n meer dramatiese vlak, bekend as bergère confessionale, wat geïmpliseer het dat die persoon wat op die stoel sit buite sig is, soos wanneer 'n sondebelydenis afgelê word. 'n Bergère kan 'n plat, skuinshellende rugkant hê, in welke geval dit à la reine genoem is. Bergères in die Rococo of Lodewyk XV-styl het egter meestal 'n gekurfde rugleuning en boogstoelpote - dit word en cabriolet genoem. 'n Bergère met 'n lae, gekurfde rugkant waarvan die armleunings aaneenlopend daarmee is, staan bekend as 'n marquise. [3]
Hoewel die Bergère aanvanklik die eerste keer in Parys tydens die Régence-tydperk (1715-1723) gesien is, het die harmonieuse, elegante kurwes van die Rococo-styl die finale voorkoms van die stoel bepaal. Tydens die daaropvolgende historiese tydperke van Lodewyk XVI en die Directoire, sowel as tydens die Franse en Amerikaanse ryksperiodes, het die bergère 'n meer reglynige, argitektoniese voorkoms gekry.