Breederivier Breërivier | |
---|---|
Die Breederivier ongeveer 5 km vanaf sy monding.
| |
Stroomgebied | Wes-Kaap, Suid-Afrika |
Oorsprong | Skurweberg, Wes-Kaap |
Sytak -links | sien teks vir sytakke |
Monding | Witsand, Indiese Oseaan |
Lengte | 337 km |
Monding-hoogte | 0 m |
Koördinate: 34°24′S 20°50′O / 34.400°S 20.833°O |
Die Breederivier (ook Breërivier[1]), voorheen ook Fleuve Large,[2] vloei deur van die bekendste wynproduserende streke van Suid-Afrika. Die rivier ontspring in die Warm Bokkeveld met die Skurwe- en Hexrivierberge as opvanggebied, en vorm waar die Titus-, Koekedou- en Dwarsriviere saamkom. In die St. Sebastiaanbaai by Kaap Infanta (westelike oewer) en Witsand en Port Beaufort (oostelike oewer) mond die rivier in die Indiese Oseaan uit. Die mond is 900 meter wyd.
Op 'n Portugese kaart van voor 1502 word die Breederivier aangedui onder die naam Rio de Nazaret. Reeds so vroeg as 1667 het sersant Pieter Cruijthoff in die omgewing verkenningswerk gedoen. Negentig jaar later was daar naby Swellendam al 'n pont oor die rivier. In die middel van die 19de eeu ontwikkel die Barry-familie die dorpie Port Beaufort as rivierhawe. Hulle firma het 'n aantal jare 'n bootverbinding tussen Kaapstad, Port Beaufort en die nedersetting Malgas, 48 km stroomop, in stand gehou.
Die rivier is 325 km lank en het 'n totale opvanggebied van nagenoeg 12 300 vierkante kilometer. Vanaf sy oorsprong gaan die rivier verby Ceres, en sny deur die berge wes van die dorp deur die 1 500 m diep Mostertshoekkloof. Ook die Michellspas gaan deur hierdie kloof. Daarna draai hy suidoos, vloei deur die wye Breëriviervallei tussen die Hexrivierberge aan die noordekant en die Slanghoek- en Du Toitskloofberge aan die suidekant en gaan verby Worcester, Robertson, Bonnievale en Swellendam. Digby Swellendam vloei die rivier onder deur die N2 nasionale pad.
Die rivier het 'n gemiddelde val van 10 m per km oor sy hele lengte gemeet. Die opvanggebied het 'n jaarlikse reënval wat wissel van 190 cm in die berge tot 38 cm in die vallei. Orals langs die rivier en sy talryke sytakke is daar besproeide landerye.
Verskeie groter en kleiner sytakke voed die Breederivier. Wynkelders dra dikwels die name van die riviere waaruit die wingerde besproei word.
In die hele Breederivierstelsel is daar 'n groot aantal reservoirs. Die grootstes en bekendstes is die volgende:
Die Burchell se rooivlerkie (Pseudobarbus burchelli) kom hoofsaaklik hier voor. Van die ander visse wat hier aangetref kan word is: die Bloustert-harder, die Seelt, die Natalse maanskynvis en die Kaapse maanskynvis.