Die Britse Hoërhuis (Engels: House of Lords) is een van die kamers van die Britse tweekamerstelsel. Die Britse Hoërhuis was tot Oktober 2009 ook die hoogste hof vir kriminele aangeleenthede in Engeland, Wallis, Noord-Ierland en vir burgerlike aangeleenthede in die hele Verenigde Koninkryk.
Die Hoërhuis, wat uit die 14de eeu dateer, is die teenhanger van die Laerhuis. Daar heers 'n meer gedempte atmosfeer as in die Laerhuis; die lede spreek mekaar steeds tydens sessies aan as my edele vriend of my edele dame, dit is by uitstek 'n vergestalting van ou tradisies. Die voorsitter, die Lord Speaker, sit steeds op 'n wolsak, aangesien skaapboerdery in die Middeleeue as Engeland se ekonomiese basis beskou is.
Die huis het nie veel mag nie; hoogstens kan dit besluite van die Laerhuis vir 'n geruime tyd weerhou. Wetgewing word egter gereeld op inisiatief van die Hoërhuis gewysig.