Brno


Kaart Vlag
Wapen
 Land Vlag van Tsjeggië Tsjeggië
 Streek Suid-Morawië
 Koördinate 49°12′N 16°37′O / 49.200°N 16.617°O / 49.200; 16.617
 Gestig op 1243
 Oppervlakte:  
 - Totaal 230,19 vk km
 Hoogte bo seevlak 237 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2017) 377 973
 - Bevolkingsdigtheid 1 642/km²
 - Metropolitaanse gebied
 Tydsone UTC +01:00
 Burgemeester Markéta Vaňková (ODS)

Brno (uitgepsreek /ˈbr̩no/, Duits: Brünn) is die tweede grootste stad in die Sentraal-Europese land Tsjeggië met 'n bevolking van sowat 378 000 (in 2017). Die vroegste nedersetting het met die vestiging van Slawiese stamme in die 6de eeu ontstaan. Die gebied word sedertdien sonder onderbreking bewoon. In die laat 13de eeu is Brno deur die vesting Špilberk (Duits: Burg Spielberg) beskerm wat as residensie van die Morawiese markgrawe uit die Huis van Luxemburg gedien het.

Die stad was vanaf die 17de eeu die historiese sentrum van Morawië en is die huidige administratiewe setel van die streek van Suid-Morawië. 'n Aantal universiteite en ander tersiêre instellings is hier gesetel, net soos navorsingsinstellings en die Rooms-Katolieke Kerk se bisdom Brno. As Tsjeggië se juridiese hoofstad is Brno die setel van die Grondwetlike Hof (Ústavní soud), die Appèlhof (Nejvyšší soud), die Hoogste Administratiewe Geregshof en die aanklaer-generaal. Daarnaas het ook die Tsjeggiese Ombudsman en die hoogste Kartelkantoor hul hoofkwartiere in Brno.

Die nywerheidsomwenteling in die 19de eeu het van Brno een van die mees vooruitstrewende stedelike nedersettings in Europa gemaak. Die stad handhaaf steeds sy status as een van Tsjeggië se belangrikste industriële, ekonomiese, kulturele en handelspilpunte. Belangrike handelskoue en ander uitstallings word jaarliks op 'n uitgestrekte terrein in die stadsdeel Pisárky gehou. 'n Verskeidenheid historiese, argitektoniese en kulturele monumente maak van Brno 'n gewilde toeristebestemming. Besienswaardighede sluit Brno se katakombe en die Duitse argitek Ludwig Mies van der Rohe se Villa Tughendhat in, 'n juweel van modernistiese boukuns in Europa wat deur Unesco in 2001 as wêrelderfenis gelys is.[1]

Verwysings

[wysig | wysig bron]