Bulls | ||||
![]() | ||||
Stigting | 1997 | |||
Unie | Blou Bulle Maatskappy | |||
Ligging | Pretoria, Suid-Afrika | |||
Streek | Pretoria, Gauteng, Limpopoprovinsie | |||
Stadion | Loftus Versfeld | |||
Kapasiteit | 51 762 | |||
Afrigter(s) | Jake White | |||
Kaptein(s) | Marcell Coetzee | |||
Liga(s) | Verenigde Rugbykampioenskap | |||
2021 | 2de Suid-Afrikaanse skild | |||
|
||||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste wedstryde | 122 Morné Steyn | |||
Meeste drieë | 37 Bryan Habana | |||
Eerste wedstryd | ||||
Noord-Transvaal 30 – 8 Natal (9 Maart 1996) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Bulls 92 – 3 Reds (5 Mei 2007) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
ACT Brumbies 73 – 9 Noordelike Bulls (27 Maart 1999) | ||||
Amptelike webwerf | ||||
www.thebulls.co.za |
Die Bulls (weens borgskapredes bekend as die Vodacom Bulls) is ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan wat aan Superrugby deelgeneem het van 1996 tot 2020, en sedert 2021 aan die Verenigde Rugbykampioenskap. Die konsessie sluit Pretoria, die Limpopoprovinsie en die Oosrand in. In terme van Curriebekerspanne kom die Bullsspelers van die Blou Bulle en die Valke af. Hulle tuiswedstryde word op Loftus Versfeld in Pretoria gespeel en die kaptein in 2021 is Marcell Coetzee.
Voor die professionele Superrugbyliga het Noord-Transvaal (Blou Bulle) tussen 1993 en 1995 aan die Super 10 deelgeneem waarin spanne van Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland en die nasionale spanne van Wes-Samoa en Tonga gespeel het. Die beste drie spanne van die vorige seisoen se Curriebeker het gekwalifiseer vir die Super 10. Noord-Transvaal het in die 1993 seisoen in poel B teen Transvaal, Nieu-Suid-Wallis, North Harbour en Waikato gespeel. Noord-Transvaal het derde geëindig in die rondomtalietoernooi. Hulle het nie aan die volgende twee seisoene deelgeneem nie.
Na die professionalisering van rugby is die Super 10-toernooi hergestruktureer. Die Super 12 is op die been gebring en spanne van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika het daaraan deelneem. Australië en Nieu-Seeland het van die begin af konsessiemodelle vir hul spanne gevorm maar Suid-Afrika het besluit om die beste vier spanne van die vorige seisoen se Curriebeker vir die Super 12 te oorweeg.
Noord-Transvaal was een van die spanne wat aan die heel eerste Super 12-kompetisie deelgeneem het. Die span het agt van hul elf wedstryde gewen en derde op die punteleër geëindig, naas die Auckland Blues en die Queensland Reds. Jannie Kruger van Noord-Transvaal het ook die derde meeste punte van die seisoen aangeteken. Noord-Transvaal het na Auckland gereis vir die halfeindronde maar het met 48 - 11 verloor op Edenpark.
Na ’n redelik suksesvolle eerste toernooi het die Bulls ietwat teleurgestel in die volgende seisoen toe hulle net drie wedstryde kon wen (hulle het ook in drie wedstryde gelykop gespeel). Hulle het die seisoen in die agtste plek afgesluit. Na afloop van die 1997-seisoen het Suid-Afrika besluit om ook konsessies te vorm vir deelname aan die Super 12. Die Bulls is as een van die nuwe konsessies gevorm. In 1998 het die Bulls nog swakker vertoon as in 1997 toe hulle die seisoen afgesluit het in die elfde plek nadat hulle slegs drie wedstryde kon wen. Vir die volgende vier seisoene (1999 - 2002) het die Bulls die laaste plek op die punteleër beklee behalwe toe hulle in 2000 elfde was. Hulle kon in die vier seisoene slegs vier wedstryde wen en het in 2002 nie een wedstryd gewen nie en 500 punte afgestaan. Die Bulls is tot dusver die enigste span wat in een seisoen van Superrugby nie een wedstryd kon wen nie en ook om 500 of meer punte in een seisoen af te staan.
Die 2003- en 2004-seisoene verloop baie beter vir die Bulls en hulle het in altwee jare sesde geëindig. In 2005 het hulle weer tot die uitspeelrondes deurgedring nadat hulle derde was na afloop van die rondomtalietoernooi. Hulle het na Sydney gereis om teen die Waratahs te speel in die halfeindronde. Die Bulls het met 23 - 13 in Sydney verloor.
In 2006 het die Bulls weer na die uitspeelrondes deurgedring nadat hulle vierde op die punteleër geëindig het. Hierdie keer het hulle na Christchurch gereis om teen die Crusaders in die halfeindronde te speel. Hulle het daar met 35 - 15 verloor.
2007 was een van die Bulls se beste seisoene en hulle het 11 van hul rondomtaliewedstryde gewen. In die laaste ronde moes die Bulls met 72 punte teen die Reds wen om ’n tuishalfeindstryd te verseker. Hulle het die Reds met 92 - 3 gewen (die grootste oorwinning tot nog toe in Superrugby) wat beteken het dat hulle tweede op die punteleër geëindig het. Dit het ook beteken dat die Bulls ’n tuishalfeindstryd[1] teen die wenners van die vorige seisoen, die Crusaders, behaal het. Die Bulls het die wedstryd met 27 - 12 gewen en hulle het na Durban gereis vir die eindstryd teen die Sharks. Die Bulls wen ’n spannende wedstryd na meer as 80 minute met ’n doelskop van Derick Hougaard. Nadat die sirene die einde van die wedstryd afgekondig het, het François Steyn van die Sharks besluit om die bal in spel te hou. Hy het die bal vorentoe geskop, Bryan Habana het die bal bemeester en deurgehardloop om die wendrie te druk. Derick Hougaard moes die drie verdoel om die telling 20 - 19 te maak. Die Bulls het in daardie jaar die eerste Suid-Afrikaanse span geword wat die Superrugbykompetisie kon wen.
Die volgende jaar het die Bulls nie daarin geslaag om hul titel suksesvol te verdedig nie en het die seisoen afgesluit met ’n tiende plek. In 2009 het die Bulls verbeter op hul sukses van 2007 en het tien wedstryde gewen om bo-aan die punteleër te eindig. Die Bulls moes weer teen die Crusaders speel in die halfeindronde en het die wedstryd in Pretoria met 36 - 23 gewen. Daarna het hulle teen die Chiefs in die eindrondte gespeel. Dit was ’n eensydige wedstryd wat die Bulls met 61 - 17 gewen het.
Die konsessie is gesentreer om die Blou Bulle Rugbyunie (Pretoria en die Limpopoprovinsie) maar kry ook spelers van die Valke (wat die Oosrand verteenwoordig). Tot 2005 het die konsessie ook spelers van die Pumas (Mpumalanga) en die Luiperds (Noordwes) getrek, maar met die herskikking van die Suid-Afrikaanse konsessies vir die 2006 seisoen, is hierdie twee unies geskuif na die Cats (later die Lions).
Die Bulls speel al hul tuiswedstryde op Loftus Versfeld in Pretoria, wat ook die tuiste van die Blou Bulle in die Curriebekerreeks is. Die Springbokke speel gereeld hier rugby en die stadion was ook gebruik tydens die Rugbywêreldbeker 1995. Die stadion is sedert 1908 in gebruik en in 1932 is die veld vernoem na Robert Loftus Owen Versfeld, die stigter van georganiseerde rugby in Pretoria.[2][3] Die stadion het sitplek vir 51 762 mense.
Die volgende tabel som die Bulls se Super 12-uitslae op:[4]
Seisoen | Pos | Gespeel | Gewen | Gelyk | Verloor | Punte vir | Punte teen | +/− | BP | Pte | Notas |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
1996 | 3de | 11 | 8 | 0 | 3 | 329 | 208 | +121 | 6 | 38 | verloor as Noord-Transvaal teen Auckland Blues in halfeindrondte |
1997 | 8ste | 11 | 3 | 3 | 5 | 264 | 342 | −78 | 4 | 22 | as Blou Bulle (Noord-Transvaal) |
1998 | 11de | 11 | 3 | 0 | 8 | 249 | 306 | −57 | 4 | 16 | |
1999 | 12de | 11 | 1 | 0 | 10 | 203 | 447 | −244 | 3 | 7 | |
2000 | 11de | 11 | 1 | 2 | 8 | 231 | 395 | −164 | 3 | 11 | |
2001 | 12de | 11 | 2 | 0 | 9 | 241 | 378 | −137 | 3 | 11 | |
2002 | 11de | 11 | 0 | 0 | 11 | 232 | 500 | −268 | 1 | 1 | |
2003 | 6de | 11 | 6 | 0 | 5 | 320 | 354 | −34 | 5 | 30 | |
2004 | 6de | 11 | 5 | 1 | 5 | 302 | 320 | −18 | 6 | 28 | |
2005 | 3de | 11 | 7 | 0 | 4 | 301 | 229 | +72 | 6 | 34 | Verloor teen Waratahs in halfeindrondte |
Die volgende tabel som die Bulls se Super 14-uitslae op:[4]
Seisoen | Pos | Gespeel | Gewen | Gelyk | Verloor | Punte vir | Punte teen | +/− | BP | Pte | Notas |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
2006 | 4de | 13 | 7 | 1 | 5 | 355 | 290 | +65 | 8 | 38 | Verloor in halfeindrondte teen Crusaders |
2007 | 1ste | 13 | 9 | 0 | 4 | 388 | 223 | +165 | 6 | 42 | Wen teen Sharks in eindrondte |
2008 | 10de | 13 | 6 | 0 | 7 | 324 | 347 | −23 | 4 | 28 | |
2009 | 1ste | 13 | 10 | 0 | 3 | 338 | 271 | +67 | 6 | 46 | Wen teen Chiefs in eindrondte |
2010 | 1ste | 13 | 10 | 0 | 3 | 436 | 345 | +91 | 7 | 47 | Wen teen Stormers in eindrondte |
Die volgende tabel som die Bulls se Superrugby-uitslae op:
Seisoen | Pos | Gespeel | Gewen | Gelyk | Verloor | Punte vir | Punte teen | +/− | BP1 | Pte | Notas |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
2011 | 7de | 16 | 10 | 0 | 6 | 416 | 370 | +46 | 6 | 54 | |
2012 | 5de | 16 | 10 | 0 | 6 | 472 | 369 | +103 | 11 | 59 | Verloor teen Crusaders in kwalifiserende rondte |
2013 | 2de | 16 | 12 | 0 | 4 | 448 | 330 | +118 | 7 | 63 | Verloor teen Brumbies in halfeindrondte |
2014 | 9de | 16 | 7 | 1 | 8 | 365 | 335 | +30 | 8 | 38 | |
2015 | 9de | 16 | 7 | 0 | 9 | 397 | 388 | +9 | 10 | 38 |
1 Punte toegeken vir ’n loslootjie is nie hierby ingereken nie.
Die volgende tabel som die Bulls se Superrugby-uitslae vir die uitgebreide toernooi van agtien spanne op:
Seisoen | Pos Alg | Pos Groep | Gespeel | Gewen | Gelyk | Verloor | Punte vir | Punte teen | +/− | BP1 | Pte | Notas |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
2016 | 9de | 4de | 15 | 9 | 1 | 5 | 399 | 339 | +60 | 4 | 42 | |
2017 | 15de | 7de | 15 | 4 | 0 | 11 | 339 | 459 | –120 | 4 | 20 |
Bulls 2021/22 Verenigde Rugbykampioenskapspan
Stutte
Hakers Slotte |
Losvoorspelers
Skrumskakels Losskakels |
Senters Vleuels Heelagters |
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Bulls (Superrugbyspan). |
Voorafgegaan deur 2006 - Crusaders 2008 - Crusaders |
Super 14-kampioene 2007 (1ste) 2009 (2de) - 2010 (3de) |
Opgevolg deur 2008 - Crusaders 2011 - Reds |