Die Bybel is die heilige boek van Christendom, Judaïsme, Rastafarianisme en Samaritaïsme. Die Joodse Bybel of Tanag het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.[1]
Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke) af, wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion, wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as 'n aanduiding van papier, geskrif of boek(rol). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:
Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is oor die eeue heen geskryf en het oorspronklik vir die grootste deel uit Hebreeuse teks met enkele Aramese paragrawe bestaan. Die Tanag, d.w.s. wysheidsboeke en profete, word anders georden.
Die Nuwe Testament, geskryf tydens die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).
In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal, en ingrepe van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).
Met geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper-boek van alle tye beskou.[2][3] Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop.[4][5] Dit is uniek in baie opsigte, waarvan skrywers en vertaling net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.[6]
Die meervoudsvorm biblia ("boekrolle, boeke") van die Griekse woord biblion is in die antieke tyd as die enkelvoudsvorm van 'n Latynse vroulike term, en benewens ook as 'n sinoniem van die Griekse term hagia graphae ("Heilige Skrif") geïnterpreteer.
In sowel die Joodse asook die Christelike godsdiens word hierdie versameling van boeke as 'n openbaring van God beskou en het dus 'n normatiewe karakter vir die godsdiensbeoefening.
Die Hervormde en Gereformeerde opinie en geloof is steeds dat die Bybel die Heilige Skrif is wat deur die Heilige Gees inspireer is en alle kennis bevat vir die verlossing en saligmaking van die mens.
Vir die Joodse godsdiens is die Torah, en hier veral die verbond wat God by die berg Sinaï met Israel gesluit het, die "woord van God". Christene beskou Jesus Christus as die sentrale figuur in die Heilige Skrif, en die persoon wat hul pad na saligheid belig. Met die kanonisering van die Nuwe Testament het die kerk ook besluit om die Hebreeuse Skrifte as die "woord van God" te erken.
Hier volg 'n paar feite oor die struktuur van die Bybel:[7]
Beskrywing
Ou Testament
Nuwe Testament
Totaal
Boeke
39
27
66
Hoofstukke
1189
929
260
Verse
23 200
7 950
31 150
Woorde
622 000
184 600
806 600
Letters
-
-
3 116 480
Let wel dat die aantal verse, woorde en letters hierbo verskil van verskillende vertalings. Die doel hier is slegs om 'n aanduiding te gee van die grootte van die Bybel.
Die eerste Afrikaanse vertaling (bekend as die "ou" vertaling) van die Bybel het in 1933 verskyn. Die vertaalwerk is deur prof. J.D. du Toit, prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, dr. S.P.E Boshoff, dr. H.C.M. Fourie en prof. B.B. Keet behartig. 'n Hersiene uitgawe daarvan het in 1953 verskyn sodat die "ou vertaling" ook bekend staan as die 1933/'53-vertaling.
Die nuwe vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn en word deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Die eindredaksie van hierdie vertaling was prof. E.P. Groenewald, J.P. Oberholzer, A.H. Van Zyl, P. A. Verhoef, J.L. Helberg en W. Kempen.
Die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes is in 2008 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.[8]