CERN (afkorting vir Conseil Européen pour la Recherche Nucléaire, Europese Kernnavorsingsraad[1]) is ’n groot wetenskaporganisasie in Genève, Switserland, wat deeltjiefisika bestudeer en die wêreld se grootste deeltjiefisika-laboratorium bedryf. Die organisasie is in 1954 gestig en is geleë in die noordwestelike voorstede van Genève op die grens tussen Frankryk en Switserland. Altesame 20 Europese lande is lid daarvan en die sentrum is bekend vir sy groot en kragtige deeltjieversnellers (spesiale masjiene wat baie klein materiepartikels teen hoë snelhede laat beweeg). Sy nuutste versneller, die Groot Hadron-versneller, is die kragtigste ter wêreld.[2]
Die term CERN word ook gebruik om na die laboratorium te verwys waar 2 400 voltydse en 1 500 deeltydse werknemers betrokke is en ongeveer 10 000 besoekende wetenskaplikes en ingenieurs van nagenoeg 608 universiteite en navorsingseenhede is. 113 nasionaliteite word daar verteenwoordig.
CERN se hooffunksie is om die deeltjieversnellers en ander infrastruktuur te verskaf wat nodig is vir hoë-energiefisikanavorsing – die resultaat is dat talle eksperimente uitgevoer is deur CERN na internasionale samewerkingsgeleenthede. Die Wêreldwye Web het ook hier ontstaan. Die hoofterrein by Meyrin huisves ’n groot rekenaar met ’n kragtige dataverwerkingsfasiliteit, hoofsaaklik vir eksperimentele data-ontleding. Weens die behoefte aan beskikbaarheid van hierdie fasiliteite aan navorsers op ander plekke, is hierdie histories ’n groot kern vir ’n wye areanetwerk.
CERN was oorspronklik 'n afkorting vir Conseil Européen pour la Recherche Nucléaire (Europese Raad vir Kernnavorsing). Op 29 September 1954 word 'n akte geteken wat die raad ontbind en met l'Organisation européenne pour la Recherche nucléaire (Europese Organisasie vir Kernnavorsing) vervang. Tans word na CERN verwys as die Laboratoire européen pour la physique des particules (Europese laboratorium vir partikelfisika). Die oorspronklike naam, CERN het dus al die jare behoue gebly en dra opsigself nie meer enige betekenis nie.
Een van CERN se bekendste uitvindings is die wêreldwye web (www) wat deur twee van hulle informatici, die Engelsman Tim Berners-Lee en die Belg Robert Cailliau begin is.
Ongeveer 3000 mense werk (in 2003) voltyds by CERN. Daarnaas neem ongeveer 6500 wetenskaplikes (van 500 universiteite uit 80 lande) deel aan die eksperimente wat daar uitgevoer word. Hierdie eksperimente vind in een van hulle ses partikelversnellers plaas. Met die eksperimente word gepoog om insig te kry in hoe materie opgebou is: uit watter partikels dit bestaan en wat se kragte dit bymekaar hou.
Die ondersoeke word gedoen deur middel van partikelversnellers, waarmee partikels tot amper die spoed van lig versnel word voordat dit met mekaar bots. Gedurende die impak breek die partikels in quarks op. Hierdie eksperimente word gedoen om teorieë te vind wat die 4 fundamentele kragte (elektromagnetiese krag, swaartekrag, swak kernkrag en sterk kernkrag) kan verklaar ten opsigte van 'n enkele elementêre krag.
Op hierdie oomblik word aan 'n nog groter partikelversneller, die Groot Hadronversneller gewerk. Die versneller het in September 2008 operasioneel geword. Daar word gehoop om die Higgsboson in die versneller te vind. Die Higgsboson is 'n partikel wat ander partikels massa gee, en is die laaste partikel in die standaardmodel van materie wat nog nie waargeneem is nie.
Die lande wat CERN in 1954 gestig het is:
Lande wat daarna toegetree of CERN verlaat het:
In 2003 was daar 'n totaal van 20 lande by CERN betrokke.
Naas bogenoemde lede behoort daar ook 'n aantal toeskouerlande aan CERN. Hierdie lande mag die bestuursvergaderings bywoon en die notules verkry, maar het geen stemreg nie. Die status is ideaal vir lande wat nie lede kan of mag word nie, maar wel graag wil deelneem. Die huidige toeskouerlande is:
Naas lede en toeskouers neem wetenskaplikes uit verskeie ander lande aan CERN se eksperimente deel. Suid-Afrika word ook in die groep verteenwoordig. Hulle is:
Wikimedia Commons bevat media in verband met CERN. |