Ville de Cannes Cano / Canas | |
---|---|
Stad | |
![]() Uitsig oor Le Suquet, die historiese middestad van Cannes | |
Koördinate: 43°33′05″N 7°00′46″O / 43.55139°N 7.01278°O | |
Land | ![]() |
Gewes | ![]() |
Département | ![]() |
Arrondissement | Grasse |
Kanton | Cannes-Centre, Cannes-Est, Mandelieu-Cannes-Ouest |
Stigting | 2de eeu v.C. |
Regering | |
• Burgemeester | David Lisnard |
Oppervlak | |
• Totaal | 19,62 km2 (7,58 vk. myl) |
Hoogte | 0–260 m (0–850 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 73 325 |
• Digtheid | 3 740/km2 (9 700/vk. myl) |
Poskode | 06400, 06150 |
Skakelkodes | 06029 |
Webwerf | cannes.com |
Cannes (Oksitaans-Provençaals Cano of Canas; Franse uitspraak: [kan], in die plaaslike dialek: [ˈkanə]) is 'n stad en munisipaliteit (commune) aan die Middellandse See in die suide van Frankryk. Die stad het sowat 73 000 inwoners wat in Frans Cannois genoem word en ressorteer onder die département Alpes-Maritimes (Suid-Frankryk). Dit lê aan die Côte d'Azur, die gewildste kusstreek van die land met talle vakansieoorde. Cannes staan veral bekend vir sy Internasionale Rolprentfees wat jaarliks in Mei plaasvind.[1]
Ander belangrike jaarlikse skoue en feeste sluit die Cannes Lions International Festival of Creativity, 'n vergadering van die internasionale advertensiebedryf; die musiekhandelskou MIDEM in Junie; die internasionale bootskou Yachting Festival Cannes (voorheen bekend as Festival International de la Plaisance) wat sedert 1977 jaarliks in September gehou word; die motorskou Salon d’Automobile en die fees van vuurwerkkuns Festival d’Art Pyrotechnique, wat 200 000 besoekers lok, in.
Die Franse woord "Cannes" beteken "riete" in Afrikaans. In die gebied, wat deur moeras en riet oorheers word, het die Romeine 'n vesting op die huidige Mont Chevalier opgerig wat hulle Castellum Marsellinum genoem het.
Omtrent 410 het die heilige Honoratus, die seun van 'n Romeinse amptenaar uit die stad Trier, 'n klooster gestig op St. Honorat, een van die Leriniese Eilande langs die kus van Cannes. Die abdy, wat as Lérins bekend staan, het in die vroeë Middeleeue tot 'n beroemde sentrum van die Latynse kultuur en 'n belangrike instelling vir die onderwys van 'n aantal bekende sendelinge ontwikkel. In 660 het die klooster die Benediktynse ordereëls aanvaar. Die kloostereiland is in 732 deur Arabiere verower, en vervolgens het die monnike die eiland verlaat. Die abdy is in die 10de eeu herstel.
In die 11de eeu het 'n klein visserdorpie met 'n madonnakapel in die plaaslike duine bestaan.
Vanaf die Middeleeue tot in die vroeë dertigerjare van die 19de eeu was Cannes niks meer as 'n klein visserdorp nie. Die voormalige Britse minister van Finansies en Ekonomiese Sake, Lord Henry Peter Brougham (1778–1868), was die eerste bekende persoonlikheid wat hom in 1834 in die dorp gevestig het. Kort voor lank het ook Franse en buitelandse adellikes aangetrokke gevoel tot die natuurskoon van die omgewing en hier hulle vakansiehuise opgerig. In 1868 het die Croisette, die bekende kuslaan van Cannes, ontstaan, en twee jaar later was daar reeds 215 villa's en 34 hotelle. Vanaf 1912 het luukse hotelle langs die laan hul deure vir welgestelde toeriste.
Die stad is vandag nog steeds 'n gewilde kuierplek vir bekende en welvarende persoonlikhede. Die Internasionale Rolprentfees word sedert 1946 gehou.