Carlo Bergonzi | |
---|---|
Bergonzi voor die Carnegie Hall in New York, 1994 | |
Gebore | 13 Julie 1924 |
Sterf | 25 Julie 2014 (op 90) |
Beroep | Operasanger |
Jare aktief | 1948–2000 |
Eggenoot | Adele Aimi (trou 1950–2014) |
Kinders | 2 |
Carlo Bergonzi (13 Julie 1924 – 25 Julie 2014)[1] was 'n Italiaanse opera tenoor. Alhoewel hy belcanto en verismo rolle vertolk het word hy veral geassosieer met die operas van Giuseppe Verdi, insluitende baie van die komponis se minder bekende werke. Hy het sodoende tot die herlewing van verskeie van sy minder bekende werke bygedra. Hy het deur sy loopbaan meer as veertig rolle vertolk.[2][3]
Bergonzi is op 13 Julie 1924 in Polesine Parmense [4] naby Parma in Noord-Italië gebore. Hy was die enigste kind.[4] Hy sou later beweer dat hy sy eerste opera, Verdi se Il trovatore, gesien het toe hy slegs ses jaar oud was. Hy het in die kerk gesing, en gou in kinderoperarolle in Busseto, 'n nabygeleë stad, begin verskyn. Nadat hy op 11-jarige ouderdom die skool verlaat het, het hy in 'n Parma-kaasfabriek begin werk. Sy vader het ook daar gewerk, en Carlo het dikwels in die moeilikheid beland omdat hy gesing het.
Op die ouderdom van 16 het hy sy vokale studies as 'n bariton aan die Arrigo Boito Konservatorium in Parma onder Maestro Ettore Campogalliani begin.[5]
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Bergonzi betrokke geraak by anti-Duitse-aktiwiteite. Hy is in 1943 in 'n Duitse krygsgevangekamp geïnterneer. Twee jaar later is hy deur die Russe bevry. Hy het hy 106 km gestap om 'n Amerikaanse kamp te bereik. Terwyl hy op pad was, het hy egter ongekookte water gedrink en tifus opgedoen, waarvan hy binne 'n jaar herstel het.[4] Na die oorlog het hy teruggekeer na die Arrigo Boito Konservatorium in Parma. Hy het maar 36 kilogram (80 pond) geweeg toe hy daar aangekom het.[3]
Tydens 'n onderhoud in 1985 met Opera Fanatic se Stefan Zucker het Bergonzi die jaar 1948 genoem as die jaar van sy professionele debuut as 'n bariton.[6] Hy het die rol van Figaro gesing in Rossini se Die Barbier van Seville, wat hy opgevoer het met 'n voormalige gevangenevereniging waarby hy aangesluit het na die oorlog. Die bedrag van 2000 lire wat hy vir sy professionele debuut betaal is was onvoldoende om sy maaltye en reiskoste te dek.[4]
Ander baritonrolle wat hy aangepak het, was onder andere dié van Metifio in L'arlesiana, Dokter Malatesta in Don Pasquale , Belcore in L'elisir d'amore, Enrico Ashton in Lucia di Lammermoor , Ghirlino in Le astuzie di Bertoldo, Silvio in Pagliacci , Dawid in L' amico Fritz, Alfio in Cavalleria rusticana, Albert in Werther, Marcello in La bohème , Sonora in La fanciulla del West , Sharpless in Madame Butterfly, Lescaut in Manon Lescaut, Laerte in Mignon, die titelrol in Rigoletto, en Georgio Germont in La traviata.
Hy het egter besef dat die tenoorrepertorium meer geskik was vir sy stem, en nadat hy weer opgelei is, het hy gedebuteer as tenoor in die titelrol van Andrea Chénier by die Teatro Petruzzelli in Bari in 1951.[2] In dieselfde jaar het Bergonzi in die Colosseum in Rome gesing tydens 'n herdenkingskonsert van Verdi se dood.[7] Die Italiaanse staats-radionetwerk RAI het Bergonzi ook betrek vir 'n reeks uitsendings van die minder bekende Verdi-operas vir dieselfde doel. Dit het I due Foscari [8] sowel as Giovanna d'Arco en Simon Boccanegra ingesluit.[9]
In 1953 het Bergonzi sy debuut by La Scala gemaak en die titelrol in Jacopo Napoli se opera Mas 'Aniello geskep, gebaseer op die lewe van Tommaso Aniello , die 17de-eeuse Italiaanse visserman wat 'n rewolusionêr geword het.[3] Sy Londense debuut as Alvaro in La forza del destino het in 1953 in die Stoll Theatre plaasgevind.[2] Sy Amerikaanse debuut was in 1955 by die Liriese Opera van Chicago. Sy Metropolitan Opera debuut as Radames in Aida het die volgende jaar gekom, toe hy (en Antonietta Stella) 'n positiewe resensie van Howard Taubman ontvang het.[10] Bergonzi het vir 'n verdere 30 jaar by die Met gesing, met sy laaste optrede in die rol van Rodolfo in Verdi se Luisa Miller in 1988.[2]
Hy het weer die rol van Radames gesing vir sy debuut met die Philadelphia Liriese Operageselskap in 1961. In 1962 het hy die rol van Alvaro vertolk vir sy debuut saam met die Royal Opera, Covent Garden. Hy het in 1969 met die San Francisco Opera gedebuteer as Don Alvaro in La forza del destino. Bergonzi het gedurende die 1960's 'n besige internasionale loopbaan in die operahuis en opnamestudio gehandhaaf. Sy vernaamste Italiaanse mededingers in hierdie tydperk was Franco Corelli en Mario del Monaco. Bergonzi het egter regdeur die 1970's by groot operahuise bly sing. Maar in die tagtigerjare, toe sy eie stemgehalte onvermydelik met ouderdom begin verswak het het hy gekonsentreer op solo voordragte. In 1996 het Bergonzi deelgeneem aan die dirigent James Levine se 25-jarige gala by die Metropolitan Opera. Hy het op 17 April dieselfde jaar sy Amerikaanse afskeidskonsert in Carnegie Hall gehou.
'n Aankondiging dat hy op 3 Mei 2000 die titelrol sou sing tydens 'n opvoering van Verdi se Otello onder leiding van Eve Queler en die Opera Orchestra of New York het baie belangstelling gewek, veral omdat hy nooit die veeleisende rol op die verhoog vertolk het nie. Die gehoor het onder andere Anna Moffo, Licia Albanese, Sherrill Milnes, José Carreras, Plácido Domingo en Luciano Pavarotti ingesluit.[3] Bergonzi was nie in staat daartoe om die opvoering te voltooi nie. Hy het hom ná twee bedrywe onttrek en die oorblywende twee laat sing deur die plaasvervanger Antonio Barasorda. Hierdie opvoering is wyd as 'n ramp beskou.[3]
Nadat hy afgetree het, het Bergonzi die tenore Roberto Aronica, Giuliano Ciannella, Berle Sanford Rosenberg, Vincenzo La Scola, Filippo Lo Giudice, Philip Webb, Giorgio Casciari, Paul Caragiulo, Lance Clinker, Fernando del Valle en Salvatore Licitra gementor. Die sopraan Frances Ginsberg was ook een van sy leerlinge.
Bergonzi het 'n nalatenskap gelos van verskeie opnames van individuele arias en volledige opera's, waaronder werke van Verdi, Puccini, Mascagni en Leoncavallo. Daar bestaan egter min klankopnames van sy sy vroeë bariton-rolle.[3]
Bergonzi het in 1950 met Adele Aimi getrou, met wie hy twee seuns gehad het, Maurizio en Marco; eersgenoemde is gebore op die dag toe Bergonzi sy tenoor-debuut gemaak het. Bergonzi het huise in beide Milaan en Busseto besit, bykomend tot 'n restaurant en 'n hotel in laasgenoemde plek wat bekendstaan as die "I Due Foscari" en vernoem is na die Verdi-opera oor die intrige aan die Venesiaanse hof.[3]
Bergonzi is op 25 Julie 2014, twaalf dae na sy 90ste verjaardag, in die Auxologico Instituut in Milaan oorlede. Hy is begrawe in die Vidalenzo-begraafplaas.