Voor-Spaanse stad van Chichén Itzá* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Die Kukulkan-piramide in Chichén Itzá | |
Ligging van Chichén Itzá in Meksiko | |
Koördinate: 20°41′03″N 88°34′07″W / 20.68417°N 88.56861°W | |
Lande | Meksiko |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | i, ii, iii |
Verwysings | 483 |
Streek† | Noord-Amerika |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1988 (12de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Chichén Itzá (Spaans: [tʃiˈtʃen iˈtsa]; Mayathan: Chi'ch'èen Ìitsha, [tɕʰiʔtɕʼèːn ìːtsʰaʔ], letterlik: "aan die rand van die Itzáfontein") is een van die belangrikste ruïnes op die Meksikaanse Yucatán-skiereiland. Die stad dateer uit die latere Majatydperk en is sowat 120 kilometer oos van die hoofstad Mérida in die Meksikaanse deelstaat Yucatán geleë.
Met 'n amptelike oppervlak van 1547 hektaar[1] is Chichén Itzá een van die grootste argeologiese vondsplekke in Yucatán. Die sentrum word deur talle monumentale voorstellingstelsels met 'n godsdienstige en politieke agtergrond beheers, wat deur die behuisingskomplekse van die boonste bevolkingsklas omring word. Die hele terrein word deur 'n groot, grotendeels bewaarde Trappiramide gekenmerk.
Tussen die 8ste en die 11de eeu moet hierdie stad 'n nasionaal belangrike rol gespeel het. Hoe dit gelyk het, kon tot vandag nog nie presies bepaal word nie. Dit is uniek hoe verskillende argitektoniese style in Chichén Itzá langs mekaar vertoon. Benewens geboue in 'n gewysigde Puuc-styl is daar ontwerpe wat Tolteekse kenmerke toon. In die verlede is dit dikwels aan 'n direkte invloed van emigrante uit Sentraal-Meksiko en oorwinnaars van Tula toegeskryf. Vandag word dit egter aan diffusionistiese modelle met 'n verreikende gelyktydigheid van verskillende style in die monumentale geboue toegeskryf.
Chichén Itzá was een van die grootste Majastede en waarskynlik een van die mitiese groot stede, of Tollans, waarna in die latere Meso-Amerikaanse letterkunde verwys word. Die stad kan die mees uiteenlopende bevolking in die Majawêreld gehad het, 'n faktor wat tot die verskeidenheid aan argitektoniese style op die terrein kon bygedra het. Die ruïnes van Chichén Itzá is federale eiendom, en die bestuurderskap van die terrein word deur Meksiko se Instituto Nacional de Antropología e Historia ("Nasionale Instituut vir Antropologie en Geskiedenis") gehandhaaf. Die land onder die monumente was in privaat besit tot 29 Maart 2010, toe dit deur die deelstaat Yucatán aangekoop is.
Die Voor-Spaanse stad van Chichén Itzá is in 1988 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Dit is die tweede mees besoeke argeologiese terrein in Meksiko net na Teotihuacán, met sowat 2,6 miljoen besoekers in 2017.[2] Op 30 Maart 2015 is die argeologiese terrein by die Internasionale Register van Kulturele Eiendom onder spesiale beskerming van die Haagse Konvensie oor die Beskerming van Kulturele Eiendom tydens Gewapende Konflikte gelys.[3]