Christa Steyn | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Christina Maria Schutte |
Gebore | 15 Junie 1958 Krugersdorp, Suid-Afrika |
Sterf | 11 Junie 2012 (op 53) Wingate Park, Pretoria |
Beroep(e) | Komponis, musikant en sangeres |
Instrumente | Stem, klavier |
Jare aktief | 1986–2011 |
Assosiasies | Jannie du Toit |
Webwerf | christasteyn.co.za |
Christa Steyn, gebore Christina Maria Schutte, (15 Junie 1958, Krugersdorp – 11 Junie 2012, Pretoria) was 'n komponis, pianis en Afrikaanse sangeres. Sy is veral bekend vir haar werk saam met Jannie du Toit (onder andere in die produksie Jannie en die Tannie).[1] Haar komposisies en verwerkings het verskeie kunstenaars, waaronder Anneli van Rooyen, Karin Hougaard en Jan de Wet help vestig.
Christa Steyn het by haar ma, Myra Schutte, leer klavier speel. Haar pa was die NG predikant dr. Ben Schutte wat onder andere drie verskillende gemeentes op Potchefstroom bedien het. In 1962, op vierjarige ouderdom, begelei sy reeds haar kleuterskool se koortjie wat Die Oukraalliedjie sing sonder dat haar ma daarvan weet.
Sy studeer musiek by die PU vir CHO en begin met klavierlesse by prof. Pieter de Villiers. Sy sukkel aanvanklik met musiekteorie, maar slaag haar teorie-eksamen in 1972 met lof.
In 1973 wen sy die Collegium Musicum-kompetisie vir 3 agtereenvolgende jare. In 1981 word haar eerste ses liedjies (as solosanger), onder ander Eerste Liefde en Bly By My, opgeneem. In 1982 en 1984 wen sy Crescendo se komposisieafdeling. In 1986 verskyn haar eerste plaat, Aan die Einde van die Reënboog.
In 1988 word sy as musiekregisseur van Crescendo aangestel waar sy diens doen tot 1993. In 1991 word sy aangestel as die kursusleier van die ATKV se Ligteliedjiewerkskool tot 2000. In 2004 word sy deur die ATKV aangewys as die Afrikaanse Liedjieskrywer van die jaar.
Vanaf 1986 werk sy vir die volgende 25 jaar as pianis en medekunstenaar saam met Jannie du Toit op die verhoog, in ateljees en as medeskrywer van liedjies. Hulle besoek saam 25 lande en tree in 21 van die lande op. Hulle gewildste verhoogproduksies sluit in Blik en Snaar (1986), Skadu's teen die muur (1992), De Kleine Man (1994), Musiek en Repliek – Klas van '79 (saam met Lucas Maree, 1999), De Kleine Man Spoorloos (2000), Nagkantoor (saam met verskeie ander kunstenaars onder regié van Sandra Prinsloo en met 'n teks van PG du Plessis, 2004), Jannie en die Tannie (2006), Hartsnaar (saam met haar seun, Douw Steyn, Mariëtte Galjaard en Werner Spies, 2008), Houtkruis (saam met verskeie kunstenaars, 2008) en Brel in Brooklyn (saam met Laurika Rauch en Sergio Zampolli, 2010).
Christa is op 11 Junie 2012 oorlede nadat sy byna presies 'n jaar vroeër met kanker gediagnoseer is.[2][3]