Cisgender[1] (soms cisseksueel genoem en as cis afgekort) is ’n term vir mense wie se genderidentiteit ooreenstem met die geslag wat by geboorte aan hulle toegewys is.[2] Iemand wat by geboorte as vroulik geklassifiseer word en as ’n vrou identifiseer, is dus ’n cisgender vrou.
Die term "cisgender" is die teenoorgestelde van "transgender".[3][4] Verwante terme is cisseksisme en cisnormatiwiteit.
Die Duitse seksuoloog Volkmar Sigusch het die term "cisseksueel" geskep.[5] Die voorvoegsel "cis-" kom uit Latyn en beteken "duskant", wat die teenoorgestelde is van "trans-", wat beteken "oorkant". ’n Bekende voorbeeld in Suid-Afrika is die name Ciskei en Transkei (wat deur die Keirivier geskei word.)
Krista Scott-Dixon het in 2009 geskryf: "Ek verkies die term nietrans bo ander opsies soos cisseksueel/cisgender."[6] Sy glo die term "nietrans" is duideliker vir gewone mense en sal help om transgender individue te normaliseer.
Die deskundige oor vroue- en genderstudies Mimi Marinucci skryf sommige mense beskou "cisgender-transgender"-tweeledigheid as net so gevaarlik soos die "manlik-vroulik"-tweeledigheid, want dit groepeer mense wat as gay, lesbies en biseksueel (LGB) identifiseer arbitrêr en oorvereenvoudigd saam met ’n heteronormatiewe groep mense en stel hulle teenoor transgender mense. As LGB-individue saam met heteroseksuele mense gegroepeer word, kan nietrans mense meen LGB-individue ondervind, anders as trans individue, "geen teenstrydigheid tussen hulle eie genderidentiteit en genderuitdrukking en die kulturele verwagtings oor genderidentiteit en -uitdrukking nie".[7]
Ook uit interseks geledere is daar kritiek. Interseks mense word gebore met atipiese geslagseienskappe wat aanvanklike geslagstoewysing kan bemoeilik en kan lei tot onwillekeurige of geforseerde mediese behandeling.[8][9] Die term cisgender "kan verwarrend raak" met betrekking tot mense met interseks toestande, hoewel sommige interseks mense die term gebruik.[10]
Hida Viloria van die Amerikaanse Intersex Campaign for Equality sê dat sy, as ’n persoon wat met ’n interseks liggaam gebore is en geen tweeledige begrip van genderidentiteit het wat met haar liggaam "ooreenstem" nie, beide cisgender en gender-niekonformerend is – twee teenoorgesteldes volgens die definisie van "cisgender". Die term is dus op ’n tweeledige geslagsmodel geskoei en neem nie interseks mense in ag nie. Verdere kritiek is dat die sinsnede "geslag wat by geboorte toegewys is", wat in een van die definsies van cisgender gebruik word, nie in ag neem dat ’n geslag in die grootste deel van die wêreld aan babas toegewys word ongeag hulle interseks status nie. Dit verdoesel die geboorte van interseks babas en beperk genderidentiteit binne die raamwerk van twee geslagte.[11]