Orde van Cisterciënsers
Ordo Cisterciensis
Moederklooster en naamgewer
Abdy van Cîteaux
Frankryk
Huidige verspreiding van kloosters
Die Orde van Cisterciënsers het sy oorsprong in hervormings wat ná besware oor die verwêreldliking van die Orde van Benediktyne toegepas is. Monnike en nonne, wat bereid is om 'n lewe vol gebed, geestelike lesings en arbeid te voer, is in dié orde met sy verskillende takke georganiseer wat in die naamgewende Franse Moederklooster te Cîteaux se tradisie staan en sy geestelike erfenis bewaar. Die gemeenskap van Cisterciënser-ordes, wat in Latyns Famila Cisterciensis genoem word, sluit naas die Orde van Cisterciënsers (Ordo Cisterciensis, afgekort as O.Cist.), 'n kontemplatiewe monastiese orde binne die Rooms-Katolieke Kerk, ook die Orde van Cisterciënsers van die Streng Observansie (afkorting: OCSO, algemeen bekend as Trappiste) en die manlike en vroulike gemeenskappe van Cisterciënser-oblate in wat aan een van die genoemde ordes ondergeskik is, maar buite 'n klooster lewe.
Die naam Cisterciënser (Frans: Cistercien) is afgelei van Cistercium, die Latynse naam vir Cîteaux, 'n dorp naby Dijon in Oos-Frankryk. In 1098 het 'n groep Benediktyne-monnike uit die klooster Molesme 'n klooster in hierdie nedersetting gestig om hier streng volgens die monastiese reëls van Sint Benedictus van Nursia, die Regula Benedicti, in afgesonderdheid van die wêreld te lewe en God te aanbid. Die bekendstes van hulle was Robert de Molesme, Alberic van Cîteaux en die Engelse monnik Stephen Harding wat as die nuwe klooster se eerste drie abde gedien het. Bernardus van Clairvaux het in 1113 saam met 'n dertigtal ander adellikes tot die abdy toegetree en 'n beslissende bydrae tot die vinnige uitbreiding van die orde gelewer.
Kenmerke van Cisterciënsers was die terugkeer tot hande-, veral veldarbeid, en ekonomiese selfversorging. Ongeëwenaar was hul bydraes tot Middeleeuse landbou, argitektuur, hidrouliese ingenieurswese en metallurgie, wat van die orde die vernaamste dryfkrag agter die verspreiding van nuwe tegnologieë in Europa gemaak het. Cisterciënser-kloosters en -kerke word onder die voortreflikste voorbeelde van Middeleeuse boukuns gereken.
Monastiese leefwyses is deur Protestantse kerkhervormers as sinneloos geag om verlossing deur God te bereik. Die Protestantse hervorming in Engeland en die ontbinding van kloosters onder koning Hendrik VIII het, net soos die Franse en ander 18de eeuse rewolusies in vastelandse Europa, bygedra tot die orde se agteruitgang. Sommige kloosters het alle godsdienstige en politieke storms getrotseer en voortbestaan. So het die orde in die 19de eeu op baie plekke herleef. Vandag is daar meer as 2 000 mans en vroue wat God in Cisterciënser-kloosters verheerlik.[1]