Die Columbiaanse uitwisseling was die wydverspreide uitruiling van plante, diere, kultuur, mense, tegnologie, siektes en idees tussen die Amerikas, die Ou Wêreld en Wes-Afrika in die 15de en 16de eeu. Dit is genoem na Columbus en hou verband met Europa se kolonisasie van en handel met die Amerikas ná sy ontdekkingsreis in 1492.[1] Die veranderings in landbou het bevolkings wêreldwyd beïnvloed. Die grootste onmiddellike uitwerking van die Columbiaanse uitwisseling was die uitruiling van kultuur en mense (beide vry mense en slawe) tussen die kontinente. Indringerplante en oordraagbare siektes was egter ook van die gevolge.
Die nuwe kontak tussen die bevolkings van die wêreld het gelei tot die sirkulering van ’n groot verskeidenheid gewasse en vee, wat groter bevolkings in albei halfronde kon onderhou. Handelaars het teruggekeer na Europa met mielies, aartappels en tamaties, wat teen die 18de eeu belangrike gewasse geword het in Europa, en later in Asië. Nuwe aansteeklike siektes het egter aanvanklik gelei tot ’n afname in die bevolkingstalle van die inheemse volke van die Amerikas.
Die term is in 1972 die eerste keer gebruik deur die Amerikaanse historikus Alfred W. Crosby in sy boek The Columbian Exchange.[2] Dit is vinnig deur ander historici en joernaliste aanvaar en het algemeen bekend geword.
Vanweë die nuwe handel wat as gevolg van die Columbiaanse uitwisseling ontstaan het, het verskeie plante wat inheems aan die Amerikas is na die res van die wêreld versprei, soos aartappels, mielies, tamaties en tabak.[3] Voor 1500 is aartappels nêrens anders as in Suid-Amerika verbou nie. Teen die 18de eeu is hulle algemeen in Europa verbou en verbruik en het dit belangrike gewasse in beide Indië en Noord-Amerika geword. Aartappels het tussen 1700 en 1900 na raming 25% bygedra tot die bevolkingsgroei in Afro-Eurasië.[4]
Mielies en kasawes, wat in die 16de eeu uit Suid-Amerika eers na Portugal versprei het,[5] het sorghum en manna geleidelik as Afrika se belangrikste gewasse vervang.[6] Met Spanje se verowering van die Amerikas in die 16de eeu is nawe stapelgewasse uit die Amerikas aan Asië bekendgestel, soos mielies en patats, en dit het bygedra tot die bevolkingsgroei in Asië.[7] Ook in Europa het dit gelei tot die verbetering van voedselgehalte[8] en bygedra tot die vervaardiging van meer voedsel van ’n groter verskeidenheid.[9]
Rys is ook wyd verbou. Die twee hoofsoorte was Oryza glaberrima en Oryza sativa van onderskeidelik Wes-Afrika en Suidoos-Asië. In die Nuwe Wêreld is op die kennis van slawe gesteun om albei spesies te bewerk.[10] Die Engelse kolonies Georgia en Suid-Carolina was van die belangrikste plekke waar rys in die jare van slawehandel verbou is, asook die Spaans beheerde Karibiese Eilande soos Puerto Rico en Kuba.
Sitrusvrugte en druiwe is van die gebiede om die Middellandse See af na die Amerikas gebring. Aanvanklik is gesukkel om die vrugte by die klimaat van die Nuwe Wêreld te laat aanpas, maar teen die 19de eeu is hulle algemeen verbou.[11] Piesangs is in die 16de eeu deur Portugese matrose van Wes-Afrika na die Amerikas gebring. Die verbruik van piesangs het egter eers teen die einde van die 19de eeu werklik gevestig geraak met die aanplant van groot plantasies in die Karibiese gebied.[12] Dit het drie eeu vir tamaties geverg om werklik in Europa gevestig te raak.
Aanvanklik het die Columbiaanse uitwisseling van vee hoofsaaklik in een rigting plaasgevind, van Europa na die Nuwe Wêreld, aangesien baie meer diere in die Eurasiese streke gedomestikeer was. Perde, donkies, osse, varke, beeste, skape, bokke, hoenders, groot honde, katte en bye is algemeen deur inheemse volke aanvaar vir vervoer, kos en ander gebruike.[13] Een van die eerste Europse uitvoere na die Amerikas, die perd, het die lewe van baie inheemse Amerikaanse volke in ’n groot mate verander. Die bergvolke het nomades geword en bisons op perde gejag in plaas daarvan om landbou te beoefen. Op die vlaktes het die inheemse volke hulle gebiede met perde uitgebrei. Die diere is as so waardevol beskou dat rykdom aan hulle gemeet is. Perde het vroeër in Amerika uitgesterf.
Soms was daar egter ook negatiewe gevolge; Europese vee het inheemse en lae plante in die Nuwe Wêreld geëet en habitats verander. Hulle het dikwels aangeplante gewasse op erwe verorber wat inheemse volke vir selfonderhoud aangeplant het.[14]
Voordat gereelde kommunikasie tussen die twee halfronde gevestig geraak het, was die variëteite van aansteeklike siektes wat na mense versprei het, soos pokke, in die Ou Wêreld aansienlik meer as in die Nuwe Wêreld. Die siektes wat Europeërs na die Nuwe Wêreld gebring het, het ’n vernietigende uitwerking gehad, want die inheemse volke van die Amerikas het geen immuniteit daarteen gehad nie.
Masels het baie sterftes veroorsaak. Die pokke-epidemies het vermoedelik die grootste aantal sterftes onder inheemse Amerikaners veroorsaak, meer as enige oorlog[15] en baie meer as die lewensverlies in Europa weens die Swart Dood.[1]:164 Tot 80-95% van die inheemse Amerikaners is binne die eerste 100-150 jaar ná 1492 aan dié epidemies dood. Baie streke in Amerika het hele inheemse bevolkings verloor.[1]:165
Europa se verkenning van tropiese gebiede is aangehelp deur die Nuwe Wêreldse ontdekking van kinien, die eerste doeltreffende behandeling van malaria. Europeërs het dié siekte gekry, maar sommige inheemse bevolkings het minstens gedeeltelike immuniteit daarteen opgebou. In Afrika word weerstand teen malaria verbind met ander genetiese veranderings in Afrika suid van die Sahara, wat sekelselsiekte kan veroorsaak.[1]:164
Ook geelkoors is vermoedelik van Afrika na die Amerikas gebring deur die Transatlantiese slawehandel. Omdat dit endemies in Afrika is, het baie Afrikane verworwe immuniteit daarteen. Meer Europeërs is daaraan dood as mense wat uit Afrika afgestam het. In die Amerikas het verskeie geelkoorsepidemies die kolonies van die 17de eeu tot aan die laat 19de eeu getref. In die Karibiese gebiede het die siekte ook talle lewens geëis tydens die hoogtepunt van slawearbeid in suikerplantasies.[14] Die vervanging van natuurlike woude met suikerplantasies het die verspreiding van die siekte aangehelp, omdat die diere wat die geelkoorsmuskiet (wyfies van die spesie Aedes aegypti) geëet het, verminder is.[14]
Die geskiedenis van sifilis is goed bestudeer, maar die presiese oorsprong van die siekte is onbekend en word steeds oor gedebatteer.[16] Een groep is oortuig daarvan dat sifilis in die vroeë 1490's deur Columbus se bemanning van die Amerikas na Europa gebring is, terwyl ’n ander groep meen die siekte het reeds vroeër in Europa bestaan, maar is nie as sulks herken nie.[17] Die eerste aangetekende beskrywings van die siekte in die Ou Wêreld was in 1493.[18] Die eerste groot uitbraak van sifilis in Europa het in 1494/'95 in Napels, Italië, voorgekom onder die soldate van Karel VIII van Frankryk, tydens die inval van Napels.[17][19][20][21] Baie van die bemanningslede van die ontdekkingsreis na die Amerikas het in dié leër gedien. Ná die oorwinning is Karel se leër van grootliks huursoldate terug na hulle onderskeie huise, en so is "die groot pokke" dwarsoor Europa versprei. Meer as 5 miljoen mense is daaraan dood.[22]
Een van die gevolge van die beweging van mense tussen die Ou en Nuwe Wêreld was ’n kulturele uitruiling. In die artikel "The Myth of Early Globalization: The Atlantic Economy, 1500–1800" skryf Pieter Emmer dat ’n "kultuurbotsing" van 1500 af in die Atlantiese streek plaasgevind het.[23] Dié kultuurbotsing het die oordrag van Europese waardes na inheemse volke behels. Voorbeelde is die begrippe "privaat eiendom" in streke waar eiendom dikwels as gemeenskaplik beskou is, "monogamie" in gebiede waar dit onbekend was (hoewel baie inheemse volke reeds monogaam was), die rol van vroue en kinders in die gemeenskap en die "superioriteit van vrye arbeid",[24] hoewel slawerny onder baie inheemse volke reeds bestaan het.
’n Voorbeeld van die verskille oor privaat eiendom: Toe Europese koloniste aanvanklik in die Amerikas aanland, het hulle grondgebied sonder heinings teengekom. Hulle het geglo die land is in onbruik en dat hulle dit kon oorneem, byvoorbeeld vir huise en ekonomiese benutting. Maar in Virginia het die Engelse ’n ten volle gevestigde kultuur aangetref onder die Powhatanvolk. Die inheemse boere het hulle erwe in groter bewerkte gebiede gevestig. Dié groter gebiede was gemeenskaplike plekke vir die groei van plante. Omdat die Europeërs heinings beskou het as aanduidings van beskawing, het hulle die land begin omskep in "iets wat hulle beter gepas het".[25]
Een van die grootste terreine van die kultuurbotsing was godsdiens. In die Spaanse en Portugese gebiede was die verspreiding van Katolisisme, ingebed in ’n Europese waardestelsel, een van die groot doelwitte van kolonisasie. Europeërs het dikwels hulle godsdiens bevorder deur middel van eksplisiete beleide van onderdrukking van inheemse tale, kulture en godsdienste. In die Engelse Noord-Amerika het sendelinge baie volke tot Protestantse gelowe bekeer. Sommige van die vroeë Franse ontdekkingsreisigers, soos Jacques Marquette, was selfs Katolieke priesters. In die eeue ná die Europeërs se aankoms het die inheemse godsdienste mettertyd afgeneem, veral in die lig van die tegnologiese en immunologiese meerderwaardigheid wat die Europeërs die oorhand help kry het.
Die Transatlantiese slawehandel was die vervoer van Afrikane, veral uit Wes-Afrika, na dele van die Amerikas tussen die 16de en 19de eeu.[26] Sowat 10 miljoen Afrikane het op Europese bote as slawe in die Amerikas aangekom.[27] Vandag is miljoene mense in Noord- en Suid-Amerika, insluitende ’n groot meerderheid van die bevolkings van lande van die Karibiese streek, afstammelinge van dié slawe uit Afrika.
Afrika-slawe het gehelp om die opkomende Afro-Amerikaanse kultuur in die Nuwe Wêreld te vorm. Hulle het geskoolde en ongeskoolde werk gedoen. Hulle afstammelinge het geleidelik ’n etnisiteit ontwikkel wat geskoei was op dié van talle Afrika-volke sowel as Europese lande, en so het hulle ’n nuwe kultuur geskep.[26]
Die behandeling van Afrika-slawe tydens die Transatlantiese slawehandel is een van die mees omstrede onderwerpe in die geskiedenis van die Nuwe Wêreld. Slawerny is in 1838 in Britse Karibiese kolonies afgeskaf, in 1865 in die Verenigde State en in 1888 in Brasilië.
The first cases of the disease in the Old World were described in 1493.