Die Convair 340-ongeluk in Pretoria verwys na die ongeluk van 10 Julie 2018 van die Convair 340 wat deur die Nederlandse lugvaartmuseum Aviodrome besit word. Dit het gebeur tydens 'n toetsvlug in Pretoria, Suid-Afrika. Die vliegtuig het 'n enjinfaling opgedoen na dit opgestyg het,[1] en in 'n fabriek in die noorde van Pretoria vasgevlieg toe die bemanning probeer het om na die Wonderboomlughawe terug te keer.[2]
Die vliegtuig, 'n Convair 340- registrasie ZS-BRV, is oorspronklik in 1954 as 'n C-131D aan die Amerikaanse Lugmag (USAF) afgelewer.[3] Dit is in 1987 deur die USAF uit hul vloot onttrek en is vir vyf jaar gestoor voordat dit vir burgerlugvaart hergebruik is.
Die vliegtuig is uiteindelik deur Rovos Air (die lugvaartafdeling van die Suid-Afrikaanse spoorweë Rovos Rail) verkry. Dié maatskappy het in 2001 begin met luukse safarireise in Suid-Afrika per vliegtuig.[4] Die vliegtuig is in 2009 afgelê en het eers in Mei 2018 weer gevlieg, toe Rovos Air dit aan die Nederlandse lugvaartmuseum Aviodrome geskenk het.[5] Die vliegtuig is gerestoureer en geverf in die kleure van Martin's Air Charter, wat Convairs in die lug in die 1950's gehad het (Martin's Air Charter het later sy naam na Martinair verander). Dit was deel van die plan om die vliegtuig na Nederland te vlieg; die vlug was geskeduleer vir 12 Julie 2018.
Ter voorbereiding vir die vlug na Nederland is 'n toetsvlug onderneem. Kort ná opstyg het rook uit die linkerenjin gekom. Beelde in die vliegtuig wys die linkerenjin het begin vibreer en vlamme het uit die uitlaat gekom. Die vlieëniers het dadelik terug gekeer na die Wonderboom-lughawe, maar kon nie die lughawe haal nie. Die vliegtuig het ongeveer 2 km vanaf die lughawe in 'n fabriek neergestort, so halfvyf die middag plaaslike tyd. Die vlugingenieur en een persoon op die grond is dood.
Die vliegtuig het 16 passasiers aan boord gehad en 'n bemanning van 3: twee Qantas-vlieëniers en 'n vlugingenieur. Die twee vlieëniers was Australiërs; die kaptein was 'n vlieënier en instrukteur vir die lugredery. Die medevlieënier was 'n afgetrede Airbus A380-kaptein. Albei mans was lede van Australië se Historical Aviation Restoration Society (HARS) en het voorheen in 2016 'n Rovos Air Convair na HARS se tuisbasis by die Illawarra-streeklughawe, suid van Sydney, gevlieg. Albei het meer as 30 jaar se vliegervaring in verskeie soorte vliegtuie gehad.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |