D'mt (Ge'ez: ደዐመተ, teoreties uitgespreek ዳዓማት, Da'amat,[2] of ዳዕማት, Da'əmat[3]) was ’n koninkryk in wat vandag Eritrea en Noord-Ethiopië is. Dit het van die 10de tot die 5de eeu v.C. bestaan. Min inskripsies deur of oor die koninkryk het bewaar gebly en min argeologiese werk is gedoen. Dit is dus nie bekend of D'mt as ’n beskawing geëindig het voor die Koninkryk Aksum se begindae, in Aksum ontwikkel het of dalk aan die begin van die 1ste eeu een van die kleiner state in Aksum was nie.[4]
Na aanleiding van ’n groot tempelkompleks lyk dit of die hoofstad die hedendaagse Yeha in die Tigray-streek in Ethiopië kon gewees het.[1] Die tempel by Yeha staan steeds.[5] Die koninkryk het besproeiingskemas ontwikkel, ploeë gebruik, manna geplant en wapens en gereedskap van yster gemaak.
Sommige moderne historici glo die beskawing was inheems, maar is deur die Sabeërs beïnvloed vanweë laasgenoemde se oorheersing van die Rooisee, terwyl ander dink D'mt is bewoon deur ’n mengsel van Sabeërs en inheemse volke.[6][7]
Ná die val van D'mt in die 5de eeu v.C. is die plato oorheers deur kleiner, onbekende koninkryke. Dit het geduur tot die opkoms van een van dié state, die Koninkryk Aksum, tydens die 1ste eeu v.C. Aksum was die voorloperstaat van die moderne Ethiopië en het die gebied herenig.[8]
Vanweë die ooreenkoms tussen die name D'mt en Damot wanneer hulle in Latynse letters geskryf word, word die twee plekke dikwels verwar, maar daar is geen bewyse van ’n verband tussen hulle nie. Damot lê veel verder suid.