Daguerreotipe (ook genoem daguerreotipie) is ’n fotografiese proses wat in 1839 deur die Franse uitvinder en fotograaf Louis-Jacques-Mandé Daguerre bekend gestel is – die eerste sodanige proses wat algemeen gebruik is. Teen die vroeë 1860's het ander prosesse wat goedkoper was en korter beligtingstye moontlik gemaak het, dit feitlik heeltemal vervang.
Die daguerreotipe-beeld word gemaak op gejodeerde silwer of versilwerde koperplaatjies wat onder ’n veiligheidslig blootgestel word aan halogeengasse. Die plaat word dan na die kamera gedra in ’n ligdigte houer. Wanneer die deklaag verwyder word, word die gesensiteerde oppervlak aan die beeld blootgestel wat deur die lens in die donker kamera geprojekteer word. So word ’n onsigbare, latente beeld op die plaat geskep wat dan ontwikkel word deur dit aan kwikdampe bloot te stel.
Ná die ontwikkeling word die liggevoeligheid van die plaat stopgesit deur die oorblywende silwerhalogenide te verwyder. Daarna word ’n goudchloriedoplossing op die beeld aangebring en dit word vir ’n kort rukkie oor ’n vlam verhit, en dan afgespoel en droog gemaak. Selfs ná hierdie ingewikkelde proses is die oppervlak steeds baie delikaat en die silwer kan aanslaan weens blootstelling aan lug; daarom moet die plaat in ’n lugdigte houer onder glas gebêre word.
Verskeie soorte antieke foto's word soms verkeerdelik daguerreotipes genoem, veral wanneer hulle in klein, versierde houers voorkom soos dié waarin daguerreotipes gewoonlik gebêre is. Die term verwys egter net na foto's wat met die bogenoemde metode ontwikkel is – ’n proses wat net tussen die 1840's en die laat 1850's algemeen gebruik is.