Dans is 'n kunsvorm wat die ritmiese beweging van die liggaam, gewoonlik op die maat van musiek, behels.
Dans het reeds by die primitiewe mens voorgekom as 'n manier om uiting te gee aan emosies voordat dit in die meer gesofistikeerde kulture as 'n outonome kunsvorm ontwikkel het. Die eerste dokumentasie daarvan (rotstekeninge) stam uit die Vroeë Paleolitikum. Die bewegings wat op die tekeninge te sien is, kom ooreen met die dier en krampdanse van die hedendaagse tradisionele kulture van Afrika en Australië.
In die Laat-Paleolitikum het dans uitgebrei met die uitbeelding van die seksuele drif en natuurelemente; tydens die oorgang na die Neolitikum het magiese dans ontstaan. Toe die mensdom hom tydens die Neolitikum onderverdeel in besittendes en nie-besittendes - in adel en boere - het die dans van die boere tot volksdanse ontwikkel, terwyl die dans van die hoëlui verfyn en gespesialiseer het tot vertoonde beroepsdans, wat in later tot 'n kunsvorm ontwikkel het.
Hierdie ontwikkeling kom in alle beskawings voor. Die eerste Europese kunsdanse is deur die Grieke ontwikkel, wat oorspronklik die dans van die vroeëre kulture uit die omringende gebiede tot een organiese geheel saamvat het. Dit is later ontwikkel tot 'n waarde waarvan die hoedanighede deur filosowe, wetgewers en kunstenaars noukeurig omskryf is.
Die ontwikkeling van Griekse danse het deur drie stadiums gegaan: Dié van die samevatting, bloei (tydens die evolusie van die drama) en dekadensie, waarin die pantomime hoogty gevier het. Die Romeinse beskawing het die pantomime van die Grieke oorgeneem, maar het minder intrinsieke waarde daaraan geheg. Tog was dit die "grapmaker" - die reisende en rondtrekkende speelman, towenaar en smous - wat die elemente van die Romeinse pantomime oorgedra het na die noorde, waar dit op sy beurt weer die dans van die Germane en Galliërs beïnvloed het.
Dié dans is van die staanspoor af gekarakteriseer deur sy primitiewe aard en dit het die Christelike owerheid baie moeite gekos om dit te suiwer en aan te pas. Gedurende die Middeleeue is dans - in ooreenstemming met die maatskaplike ontwikkeling van dié tyd - in drie vorme verdeel: dié van die adel, die lyfeienes en die burgers. Die ontwikkeling van hierdie danssoorte was gekoppel aan die ontwikkeling van die stand wat dit verteenwoordig het.
Die danse van die edeles het aanvanklik die minnesangers se ideaal van vreugde, liefde en hoflikheid gevolg, voordat dit verder verfyn is om ten slotte die hofdans te word. Die danse van lyfeienes en boere - hul gestamp en gespring - het volksdanse geword en die dans van die burgers het 'n vorm tussen dié twee aangeneem, naamlik die geselskapsdans. Dié drie soorte danse is gehandhaaf totdat die hofdans saam met absolute koningskap verdwyn het.
Daar was 'n voortdurende wisselwerking: in tye van agteruitgang het die hof- en geselskapsdans nuwe krag uit die volksdans geput, wat op sy beurt kultuurelemente uit die ander danse opgeneem het. Uit hierdie vermenging het ballet ontstaan. Aan die begin van die twintigste eeu het die geselskapsdans, volksdans en ballet hulle in 'n netelige situasie bevind: Die geselskapsdans het die gesonde kontak met die volksdans verloor en hom oorgegee aan eksotiese invloede uit Suid-Amerika en Afrika.
Met die verdwyning van tradisionele kleredrag en ou sedes en gewoontes het die volksdans baie van sy sinrykheid verloor. Ballet het ná die opbloei van die Romantiek net 'n starre en sinlose tradisie geword. Isadora Duncan het egter 'n vernuwing gebring en die ideaal van die Griekse dans in ere herstel. Daarmee het sy 'n nuwe drang tot skoonheid en lewende uitdrukkingsvermoë geskep.
Die moderne dans gryp terug na primitiewe beginsels: die gebruik van 'n mens se liggaam om gevoelens uit te druk en te kommunikeer. Die emosies en psigologie van die twintigste eeuse mens was bepalend vir die moderne dans en die wyse waarop die spierstelsel geoefen word. Die pioniers van moderne dans was Martha Graham, Doris Humphrey, Charles Weidman, Helen Tamaris, Staluse Pera en Hanya Holm.
Hierdie dansvorm het ontstaan aan die begin van die 20ste eeu, met die soektog na ander bewegingsvorms as slegs klassieke ballet. Die vernieuing in die westerse ballet, die opkoms van moderne dans en die jazzdans was almal ontwikkelings wat vir 'n groot deel parallel geloop het. Duncan het na 'n klassieke balletopleiding haar eie weg ingeslaan en haar verset teen tradisionele balletkonvensies; vir haar was die individuele uitdrukking in dans die hoofsaak. Sy het baie dansers en choreograwe geïnspireer in die soek na 'n nuwe vorm van dans. Alhoewel die opkoms van moderne dans deur haar geïnspireer is, was haar invloed nie van deurslaggewende belang nie. Sy het in 1904 haar eie dansskool in Berlyn gestig, waardeur haar benadering meer bekendheid verwerf het.
Die Denisshawn Company, gestig in in 1915 deur Ruth St. Denis en Ted Shawn, was in die VSA as die bakermat van moderne dans beskou. Een van hul dansers, Martha Graham, het die geselskap in 1923 verlaat en self begin lesgee. In 1926 het sy saam met haar leerlinge voorstellings gegee wat tans as die eerste manifestasie van moderne dans beskou word. Vandag word moderne dans naas ballet as 'n aparte dissipline beskou.
Religieuse dans speel 'n baie groot rol in die meeste godsdienste. In baie ou godsdienste was dit, naas 'n sterk gelaaide uiting van emosies, ook 'n magiese poging om bepaalde magte in die gewenste rigting te dwing deur die mobilisering van 'n lewende krag in die gemeenskap.
Dit word oral gevind waar dit gaan om die verwerwing, behoud of reëling van 'n bepaalde mag, byvoorbeeld om die vrugbaarheid van land, dier of mens te verseker. Dit is selfs gebruik vir die versekering van 'n goeie die oes, vir die verkryging van reën, vir oorwinning in die oorlog, vir waardevolle buit gedurende 'n jag, vir die versekering van liefde, vir die rus of onsterflikheid van die dooies, vir goeie weer, die verdrywing van siekte en ander duiwels en vir 'n gunstige inisiasie. Soms word verdere krag aan die dans verleen deur die gebruik van maskers, wat diegene wat in die danse optree, identifiseer met gode, geeste, heilige diere ensovoorts. Dié dansvorms kan oorgaan in krampagtige of - in hoër vorm - ekstatiese danse. Die opwellende emosie wat daarmee gepaard gaan, word dan beskou as goddelike krag wat vir homself 'n weg baan (byvoorbeeld in die dans van sjamane, bacchante en derwisje).
Dié soort dans het ook in antieke en ander godsdienste voorgekom en word daar dikwels in verfynde en abstrakte vorms uitgevoer - nie deur die hele stam of die hele volk nie, maar deur spesiaal opgeleide tempel- of beroepsdansers (byvoorbeeld in oud-Egipte, Indië en Japan), wat liggaamlik en geestelik aan hoë eise moes voldoen. Dikwels berus hierdie danse op heldedigte of dramas (soos in Indië en Indonesië). In die vroeë Middeleeue het die Christendom, wat onder meer die heidense vrugbaarheidsdans nie heeltemal kon uitroei nie, hierdie dans in 'n kuiser vorm in sy rituele opgeneem.
'n Motief wat sedert die einde van die veertiende eeu baie voorgekom het in Frankryk en Duitsland, is die dodedans. Dié dans illustreer die mag van die dood oor die lewendes, waarby alle onderskeid tussen rang en stand verval.
Lyndanse (Line dancing) het baie in gemeen met groepsdanse, en ontleen ook heelwat uit ander dansvorme soos bal-, Latynse, Ierse en selfs straatdanse. Die vernaamste kenmerk is dat dansers in rye langs mekaar dans en in dieselfde rigting kyk. Die terminologie is sterk Engels, en min is in Afrikaans vertaal, maar dis moontlik om goed te dans deur ander te volg sonder om die name van die passies te ken.
'n Lyndans word gewoonlik geskryf vir 'n spesifieke stukkie musiek, van so 3 tot 6 minute. Die dans beslaan dus van 30 sekondes tot 2 minute, en word herhaal tot die musiek ophou. Gewoonlik word draaie in die dans ingebou en die dans hervat telkens teenoor 'n ander muur.
Die aantreklike eienskappe van lyndans sluit in dat dit goeie ligte aerobiese oefening is wat die geheue, konsentrasie en beendigtheid bevorder. Die musiek is meesal gewild en lig. Dansers vorder vanaf maklik bemeesterbare kort, stadige danse tot by lang, vinnige gevorderde danse. Dus is daar ruimte vir enigeen van enige ouderdom om deel te neem, veral aangesien 'n dansmaat onnodig is. Daar is baie ooreenkomste tussen lyndans en Suid-Afrikaanse Volkspele alhoewel dit op die oog af heel anders lyk.
Lyndans is gewild orals in die wêreld, en baie dansers skryf nuwe danse vir nuwe musiek. In Suid-Afrika is daar 'n menigte klubs, informele groepe en demonstrasie-studio's wat dit daagliks beoefen en duisende mense betrek. Dit is moontlik om mee te ding in gereelde plaaslike, nasionale en internasionale kompetisies.
Volksdanse is danse in 'n bepaalde volksverband wat deur tradisie oorgelewer is. Die huidige beoefening van volksdanse het aan die begin van die twintigste eeu tot stand gekom omdat wetenskaplikes, veral musikoloë, kulturele erfenisse wou bewaar en omdat die jeug 'n vorm van vryetydsbesteding gesoek het.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het die volksdanse nuwe lewe gekry. Verenigings is gestig wat verskillende soorte volksdanse in hul repertoires opgeneem het. Hulle het klubs, kursusse en internasionale samekomste georganiseer, instruksieboeke uitgegee en grammofoonplate verkoop. In verskeie lande is daar beroepsvolksdansers, wat hul land se kostuums dra en hul eie danse ontwikkel. Tradisionele volksdanse gee uitdrukking aan die gevoels- en driflewe, sowel as aan die dink- en voorstellingsvermoë. In Europa vind mens die oudste dansvorme, naamlik slingers en kringe, hoofsaaklik in die Balkan. Sekere danse kom uit die Griekse Oudheid, waar die dansers hul plek in die ry behou en die pas die hoofsaak is. Laasgenoemde kan wissel van baie eenvoudig tot baie vinnig en ingewikkeld. Voorbeelde is die Joego-Slawiese kolos, die Roemeense horas en die Griekse sirtos.
Baie dansmelodieë het 'n ongelyke maatsoort. In Serwië en Roemenië dans mans en vroue saam in 'n ry; in Bulgarye en Griekeland in aparte rye. Die mans beeld hul krag en vaardigheid uit; die vroue rustigheid en sedigheid. In die ou Oos-Europese lande word volksdanse deur die Staat beskerm en aangemoedig. Wes-Europa het die meeste van die oorspronklike volksdanse verlore gegaan of dit het vervlak tot 'n loopdans.
In Wes-Europa het volksdanse grootliks ontwikkel tot geselskapsdanse. Die "country dances" van Engeland het in Frankryk tot die kotiljons en kadriel ontwikkel. Baie volksdanse in Wes- en Midde-Europa is via die geselskapsdans deur paredanse beïnvloed. Van die Hongaarse tsardas is veral die musiek bekend. Dit word vinnig gedans, met 'n geklap van die hakke aan die einde van elke melodiefrase.
Spanje het sy tradisionele volksdanse lank behou en party toon steeds 'n sterk sigeunerinvloed, byvoorbeeld die flamenco. Ander bekende Spaanse danse is die bolero, fandango en jota. Italiaanse volksdanse het minder sigeunerinvloede en die tarantella, die forlana en saltarello het tot in die twintigste eeu gewild gebly. Die gavotte is 'n geselskapsdans in Frankryk. Uit Rusland is veral die kosakkedanse bekend.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Dance. |