Die Dekan-trappe is ’n groot eruptiewe provinsie op die Dekan-plato van Indië en een van die grootste vulkaniese gebiede op Aarde. Hulle bestaan uit talle lae gestolde basaltlawa wat altesaam meer as 2 000 m dik is en ’n gebied van 500 000 km² beslaan.
Die Dekan-trappe is tussen 60 miljoen en 68 miljoen jaar gelede aan die einde van die Kryt-periode gevorm. Die grootste deel van die vulkaanuitbarstings het sowat 66 miljoen jaar gelede plaasgevind en sowat 30 000 jaar geduur.[1]
Die oorspronklike gebied wat deur lawa oorvloei is, word geraam op tot 1,5 miljoen km², sowat die helfte van die huidige Indië. Die gebied is tot sy huidige grootte gekrimp deur erosie en plaattektoniek; dit is tans sowat 512 000 km² groot.
’n Geologiese struktuur bestaan in die seebodem aan die weskus van Indië wat deur sommige beskou word as ’n moontlike impakkrater, die Shiva-krater. Dit is ook sowat 66 miljoen jaar oud, nes die Dekan-trappe. Dié wetenskaplikes glo die impak het die vulkaniese uitbarstings van die Dekan-trappe aan die gang gesit.[2] Die huidige konsensus is egter dat Shiva nie ’n impakkrater is nie.[3][4]